
PhD die ‘vreugde en trots’ van baanbreker Keniaanse arts
Die Keniaanse huisarts dr Gulnaz Mohamoud is ʼn baanbreker in haar veld. In 2009 was sy die eerste vrou in Oos-Afrika om ʼn meestersgraad in Huisartskunde te verwerf. En wanneer sy vandeesmaand by die Universiteit Stellenbosch gradueer, sal sy die eerste huisarts in Oos-Afrika wees met ʼn PhD in Huisartskunde.
Dit is ʼn prestasie wat sy al lank na strewe. “Dit is my vreugde en trots," sê Mohamoud, ʼn dokter in private praktyk in Kenia se hoofstad Nairobi, asook ʼn senior-lektor by die Departement Huisartskunde by die Aga Khan Universiteit, ʼn private tersiêre sorg- en onderrighospitaal.
Sy skryf haar sukses toe aan “volharding, dissipline en ʼn stoїese geloof dat ek dit kan doen ten spyte van die uitdagings daaraan om ʼn moeder en ʼn voltydse arts te wees". Maar haar nuutste prestasie strek baie verder as bloot ʼn persoonlike volvoering.
“Ek is ontroer deur die gedagte dat my PhD ander huisartse sal motiveer om hulle standpunt te heroorweeg dat ʼn meestersgraad in Huisartskunde die einde van hulle studieloopbaan hoef te wees," sê Mohamoud. “Ek hoop om by te dra tot ʼn paradigma verskuiwing wat bewustheid sal skep van die feit dat lewenslange leer ʼn belangrike komponent is van die lewe."
Haar loopbaan getuig daarvan. Sy het in 1987 gegradueer by die Dow Universiteit van Gesondheidswetenskappe in Karachi, Pakistan, en het daarna akkreditasie verwerf in ultrasonografie, geriatriese geneeskunde, MIV/TB/seksueel-oordraagbare siektes, rehabilitasie in huisartskunde en kliniese etiek.
Huisartskunde – wat holistiese mediese sorg behels – is ongetwyfeld al vir ʼn lang tyd die spilpunt van haar professionele lewe. Sy het voorts die ontwikkeling en begrip van huisartskunde in Kenia bevorder deur middel van verskeie publikasies, asook aktiewe deelname aan die Kenia-vereniging van Huisartse as ʼn uitvoerende lid.
Haar PhD was ʼn logiese stap in die uitbreiding van haar kundigheid in die veld. “My studie was die eerste een wat daarop gefokus het om die gehalte van dienslewering in primêre sorg in die private gesondheidsorgsektor in Nairobi te meet," verduidelik Mohamoud. “My PhD was gegrond op die behoefte om die prestasie van primêre gesondheidsorg te meet in lae en middel-inkomste lande, waar 'makro data' dikwels afwesig is.
“Daarom het die studie nie net lig gewerp op die gapings en aanbevelings gemaak oor hoe om die gehalte van dienslewering in privaatsektor fasiliteite te verbeter nie, maar dit het ook die verskeie metodes, veranderings en aangepaste gereedskap uitgelig wat gebruik kan word om dit in die breër Afrika-konteks te meet."
Die beduidenis van haar navorsing kan nie oorbeklemtoon word nie: “Soos wat die geval in die meeste ontwikkelende lande is, is die primêre sorgstelsel in die private sektor divers en gefragmenteer. As gevolg daarvan is daar ʼn ernstige tekort aan betroubare en betekenisvolle data oor die gehalte van gesondheidsorg wat verskaf word.
“Die private gesondheidsorgsektor in Kenia verskaf meer as 50% van die mediese sorg wat aan die Keniaanse bevolking toegedien word, dus speel dit ʼn beduidende rol in die dienslewering van gesondheidsorg. Die proporsie dienste wat deur private organisasies aangebied word neem ook eksponensieel toe."
Haar studieleier, prof Bob Mash, uitvoerende hoof van die Universiteit Stellenbosch se Departement Huisartskunde en Noodgeneeskunde brei verder hieroor uit: “Haar werk het op die hoofbestanddele gefokus van hoë gehalte primêre sorg soos uiteengesit deur die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Primêre Gesondheidsorg Prestasie-inisiatief – hoe toeganklik sorg is, hoe omvattend die dienste is, tot watter mate is daar voortdurende sorg in ʼn vertroude dokter-pasiënt verhouding, hoe goed word primêre sorg gekoördineer met hospitaalsorg, en tot watter mate is die sorg mensgesentreerd."
Mash let: “Gulnaz het gedemonstreer hoe data ingesamel kan word op die plaaslike vlak om inligting te verkry oor die gehalte van dienslewering waarop bestuurders kan reageer. Boonop het sy ook die Primêre Sorg Assesseringsinstrument vir die hele land aangepas en geldig verklaar. Hierdie instrument kan nou deur navorsers of bestuurders op die plaaslike vlak regoor Kenia gebruik word om die gehalte van dienslewering te meet."
Hy voeg by: “Om meer gevestigde navorsers soos Gulnaz te hê behoort die gehalte van opleiding en studieleiding te verbeter. Ons hoop Gulnaz kan haar navorsingsbelangstellings voortsit in samewerking met kollegas in Kenia en Oos-Afrika om navorsingskapasiteit te bou en die gehalte van dienslewering te verbeter."
Mohamoud is te vinde vir hierdie uitdagings. “Gesprekke rondom die implementering van universele gesondheidsdekking het in Kenia begin en dit is geprioritiseer as ʼn doelwit," sê sy. “Nieteenstaande kan hierdie doelwit nie bereik word sonder om belangrike elemente van hoë gehalte primêre sorg te inkorporeer nie, soos toeganklikheid, deurlopendheid, koördinasie, omvattendheid en mensgesentreerdheid."
Sy glo dat huisartse ʼn belangrike rol kan speel in hierdie opsig: “Hulle sal op hulle beurt die oorafhanklikheid op spesialiste verminder vir chroniese sorg. Die bestudering van die belangrikste elemente van hoë gehalte primêre sorg het dus die siel van my PhD-reis geword."
Mohamoud is gretig om op haar werk in Huisartskunde te bou, maar besef dat dit nie maklik sal wees nie. “As ʼn getroude professionele praktisyn met verskeie werk- en lewensverantwoordelikhede, is daar baie uitdagings," sê sy.
“My voorneme en innerlike krag het gehelp om die trajek van my loopbaan en doelwitte te vorm. I besef dat die mens se brein ongelooflike dinge kan behaal met ʼn duidelike visie en onversetlike vasberadenheid. Soos die groot Soefi-filosoof Rumi gesê het, 'Jy het vlerke, leer om dit te gebruik en vlieg'."
Onderskrif: Prof Bob Mash (PhD-studieleier), dr Gulnaz Mohamoud en haar man Merali Mohamoud.
Foto-erkenning: Stefan Els