
Op-kampus registrasie by die Universiteit Stellenbosch
Donderdag 28 Januarie 16:30
Registrasie vir die 2016 akademiese jaar is vanmiddag voltooi ondanks 'n poging gister (Woensdag, 27 Januarie) om die proses te ontwrig (meer inligting hier). 'n Groep van agt tot tien studente het ongeveer 14:45 as deel van 'n protesaksie die Admin A-gebou binnegekom om protes aan te teken teen die betaling van studentegelde. Registrasie is nie ontwrig nie, maar studente wat probeer het om betalings te maak, is geïntimideer. Personeel van die Sentrum vir Studentegemeenskappe het met die groep in gesprek getree en teen 16:30 het die studente self besluit om die gebou te verlaat.
Gebeurlikheids-maatreëls is getref om te verseker dat die registrasieproses kon voortgaan.
Dinsdag 26 Januarie 16:30
Die registrasie van senior studente het vanmiddag begin. Snior studente word daaraan herinner dat hul studentekaarte outomaties heraktiveer word na 'n suksesvolle registrasie en dat hulle nie in die ry daarvoor hoef te gaan staan nie.
Dinsdag 26 Januarie 12:15
Die op-kampus registrasie van nuwelingstudente word vandag om 12:30 afgesluit met die registrasie van senior studente wat vanmiddag begin. Meer as 14 000 studente (nuwelingstudente en seniors) het van aanlyn self-registrasie gebruik gemaak.
Maandag 25 Januarie 16:30
Op-kampus registrasie het vanmiddag sonder probleme verloop.
Vandag (Maandag 25 Januarie) kon nuwelingstudente in die Fakulteite Opvoedkunde, Ingenieurswese, Regsgeleerdheid (met inbegrip van LLB, BCom Regsgeleerdheid), BRekLLB en BA Regsgeleerdheid), Teologie, AgriWetenskappe, Natuurwetenskappe en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (wat insluit BRek, BCom Bestuursrekeningkunde en BCom (Fin Rek)) registreer terwyl nuwelingstudente in die Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (BCom, BCom (VGP), BCom (Bestuurswet), BCom (Ekon Wet), BCom (Wisk Wet), BCom (Bedryfsielkunde), BCom (Akt Wet) en BCom (Internasionale Besigheid) op Dinsdag 26 Januarie registreer.
Opdaterings volg (kliek hier vir algemene inligting oor registrasie)
Maandag 25 Januarie 11:45
Die op-kampus registrasie van nuwelingstudente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het begin. Geen probleme is Maandagoggend aangemeld nie met relatiewe kort rye by die onderskeie aanmeldingspunte. ʼn Groot hoeveelheid studente het verkies om van self-registrasie gebruik te maak.
Nuwelingstudente registreer vandag (Maandag 25 Januarie) en môre (Dinsdag 26 Januarie) in ooreenstemming met die registrasieskedule wat studente aan die einde van verlede jaar ontvang het. Die skedule kan ook in die verwelkomingsprogram gevind word.
Senior studente wat om een of ander rede nie aanlyn kan self-registreer nie, kan op kampus registreer van Dinsdag 26 Januarie tot en met Donderdag 28 Januarie – ook volgens die skedule wat verskaf is.
Senior student wat suksesvol geregistreer het, se studentekaarte word outomaties heraktiveer en hoef nie in die ry daarvoor te gaan staan nie.