Skip to main content
Oorbrug vastelande en verskuif denke, uit Parys

Oorbrug vastelande en verskuif denke, uit Parys

Development & Alumni Relations
04 Augustus 2025

Ons stel graag 'n dinamiese Matie bekend wat uit die hartjie van Europa groot dinge vermag. Sine Maphumulo woon in Parys, waar sy haar professionele passie vir finansiering met haar toewyding aan inklusiewe ontwikkeling kombineer. Sy is ook een van die dryfkragte agter die Matie-alumni-teenwoordigheid in Frankryk, waardeur sy brûe tussen mense, idees en vastelande bou.

As deel van haar werk in die finansieringsektor, is sy by wêreldontwikkelingsprojekte betrokke. Sy gebruik finansiering as 'n werktuig vir volhoubare ontwikkeling, veral in ontluikende markte. “Ek's passievol daaroor om te sorg dat finansiering mense werklik baat – en dat die stelsels ontwerp word om ten diepste billik en inklusief te wees," sê sy.

Sal nooit 'au revoir' sê vir haar Matie-wortels nie

Sine het haar meestersgraad in Ontwikkelingsfinansiering aan die Stellenbosch Bestuurskool voltooi – 'n tyd wat sy as transformerend beskryf. Toe sy na Parys verhuis, het dit bloot natuurlik gevoel om as 'n Matie-vrywilliger betrokke te raak.

“Vrywilligerwerk vir die plaaslike alumni-tak was 'n sinvolle manier om my band met daardie gemeenskap te behou en ons wêreldwye netwerk te help versterk," verduidelik sy. “Dis ongelooflik bevredigend om platforms vir gesprek en samewerking te skep – veral tussen vastelande."

Sy was onlangs mede-aanbieder en -moderator van 'n paneel oor volhoubare groei in Afrika, wat die Universiteit Stellenbosch, die Stellenbosch Bestuurskool en Emlyon-bestuurskool gesamentlik gereël het. “Dit was 'n trotse oomblik om in 'n Europese omgewing die soeklig op Afrika-innovasie te laat val."

Professionele sukses, en 'n betekenisvolle passieprojek

Sine se opgang in die korporatiewe wêreld het begin toe sy as finansieringshoof vir L'Oréal Suid-Afrika se Professionele Produkte-afdeling aangestel is. Dít op sigself was 'n besondere prestasie, en des te meer as 'n mens in gedagte hou dat sy nog nie eens 30 jaar oud was nie. Sy het haar daar so goed van haar taak gekwyt dat 'n internasionale geleentheid by L'Oréal se internasionale hoofkantoor in Parys vir haar aangebied is – 'n loopbaanhoogtepunt, en 'n bewys van haar talent en volharding.

Daarbenewens is haar kernwaardes van billikheid, insluiting en impak duidelik te sien in die werk wat sy deur haar platform Leave No One Behind (LNOB) doen. Die platformnaam weerspieël die kernbelofte van die Agenda vir Volhoubare Ontwikkeling 2030 en die gepaardgaande volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG's). Deur LNOB bied sy gesprekke, veldtogte en gemeenskapsgedrewe inhoud aan oor die bevordering van die SDG's, veral geslagsgelykheid en die vermindering van ongelykheid. “Ons bied 'n platform vir stemme wat nie altyd gehoor word nie – en ons gebruik sosiale media om ons boodskap verder en wyer te versprei," sê sy. Maties kan LNOB volg óf met die platform saamwerk aan projekte wat met die SDG's strook (sien hier onder vir besonderhede).

Waar Matie-herinneringe en wêreldambisies ontmoet

Hoewel sy nie gedurende haar tyd by die Stellenbosch Bestuurskool op kampus gewoon het nie, het sy aangename herinneringe aan haar studie – veral haar toelating tot die internasionale erevereniging Golden Key. Nou is sy opgewonde daaroor om 'n toekoms te bou waar die lesse wat sy op Stellenbosch geleer het en die moontlikhede van wêreldburgerskap ontmoet. “Ek sien daarna uit om my impak in sowel die korporatiewe as sosiale ruimte te versterk," sê Sine, “veral deur LNOB uit te brei en meer kruiskontinentale geleenthede aan te bied wat Afrika-innovasie ten toon stel."

Paulo Coelho se woorde uit The Alchemist dien as haar inspirasie in alles wat sy aanpak. “When you want something, all the universe conspires in helping you to achieve it," het hy geskryf. “Dit herinner my daaraan om die reis te vertrou, getrou te bly aan my doel, en te glo dat as ek doelgerig en hard werk, die regte geleenthede en mense op die regte tyd oor my pad sal kom," sê Sine.

Volg LNOB:

Twitter/X: @LNO1B Instagram: @Leaveno1.behind Facebook: @LNO1B LinkedIn: LNOB (Leave No One Behind)