Vir Prof Deresh Ramjugernath het sy eerste jaar as Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) nie soseer oor reuse-aankondigings gegaan nie, maar eerder oor iets stiller met 'n dieper betekenis: belyning, duidelikheid en doelgerigtheid.
'n Jaar van rigtinggewing, 'n toekoms van lewering: Prof Deresh Ramjugernath besin oor sy eerste jaar as Rektor
- Prof Deresh Ramjugernath vier vandeesmaand een jaar in die amp van Rektor en Visekanselier.
- Hy besin oor dié tydperk wat op duidelike rigtinggewing en die versterking van die grondslag vir langtermyn-impak gefokus het.
- Met die klem op gedeelde verantwoordelikheid, insluiting en doelgerigte uitnemendheid, bevorder die Universiteit sy Visie 2040 om te verseker dat sy onderrig, navorsing en innovasie in betekenisvolle impak vir die samelewing omgeskakel word.
Twaalf maande is nie 'n lang tyd in die lewe van 'n universiteit nie. Maar dit is lank genoeg om die toon aan te gee en, miskien nog belangriker, om 'n rigting aan te dui.
Vir Prof Deresh Ramjugernath het sy eerste jaar as Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) nie soseer oor reuse-aankondigings gegaan nie, maar eerder oor iets stiller met 'n dieper betekenis: belyning, duidelikheid en doelgerigtheid.
"Die werklike taak," sê hy, "is om te verseker Stellenbosch word nie net bewonder vir wat dit bereik het nie, maar word ook vertrou vir wat dit bydra."
Hierdie onderskeid staan sentraal in sy leierskapsbenadering en voel veral relevant in 'n Suid-Afrikaanse konteks waar dit toenemend van instellings verwag word om nie net uitnemendheid nie, maar ook relevansie, aanspreeklikheid en impak te toon.
'n Groot deel van die afgelope jaar het op die bou van hierdie gedeelde begrip gefokus. Binne die Universiteit is daar nou 'n duideliker begrip van waarheen die Universiteit op pad is, geanker in Visie 2040 – nie as 'n vae strategiedokument nie, maar as 'n gesamentlike verbintenis.
'n Kwessie van uitnemendheid
In die kern van daardie visie lê 'n eenvoudige, maar dringende vraag: Wat beteken uitnemendheid regtig?
"Dit gaan nie daaroor of ons uitnemend is nie," besin Ramjugernath, "maar oor hoe daardie uitnemendheid tot die samelewing bydra." Vir die US beteken dit om die gehalte van onderrig en leer te verhoog, akademiese standaarde te versterk en om te verseker dat navorsing werklike uitdagings aanspreek. In 'n land wat komplekse maatskaplike en ekonomiese druk in die gesig staar, kan universiteite dit nie bekostig om in isolasie te funksioneer nie; hulle moet deel wees van die oplossing.
Insluiting en persepsie
Daardie denke behels ook insluiting – iets wat Ramjugernath nie as 'n aparte agenda sien nie, maar as iets wat sentraal tot uitnemendheid self staan. "Insluiting en uitnemendheid is nie in spanning met mekaar nie – hulle is onderling afhanklik," sê hy. Hierdie klemverskuiwing vereis dat persepsie gekonfronteer word. Baie sien Stellenbosch steeds deur die lens van sy verlede, eerder as in sy huidige werklikheid.
"Mense reageer dikwels op die Universiteit wat hulle onthou, nie die een wat vandag bestaan nie."
Om daardie storielyn te verander, stel hy voor, gaan nie net oor die boodskap nie — dit gaan oor konsekwente, sigbare vooruitgang.
Van idees tot impak
Dieselfde geld vir innovasie. Stellenbosch is lank reeds 'n sentrum van nuwe idees, maar die fokus is nou op dít wat daardie idees buite die kampus voortbring. "Innovasie op sigself is nie genoeg nie," sê hy. "Dit moet tot betekenisvolle verandering lei."
Dit beteken sterker verbintenisse — met gemeenskappe, met die bedryf en met beleidsomgewings waar navorsing en innovasie 'n meetbare verskil kan maak. Die klem verskuif van uitsette na uitkomste: van wat die Universiteit skep na wat dit verander.
Die verskuiwing na lewering
Waar die eerste jaar oor rigting gegaan het, gaan die volgende een oor lewering handel.
Daar is reeds momentum. Ramjugernath se eerste maande is deur uitgebreide skakeling en betrokkenheid — binne en verder as die Universiteit se grense — gekenmerk. Dit het gehelp om verhoudings te bou, bekommernisse na die oppervlak te bring en vertroue te versterk. Nou verskuif die fokus daarna om hierdie grondslag in aksie om te skakel.
"Die volgende fase moet oor lewering, vennootskappe en vordering gaan," sê hy.
Daardie vooruitgang moet tasbaar, sigbaar in lesingskamers en duidelik in navorsing wees. En dit moet in die breër samelewing wat die Universiteit bedien, gevoel word.
Namate Stellenbosch vorentoe beweeg, is daar 'n gevoel van 'n instelling wat meer selfversekerd is op sy pad en meer bewus is van wat nodig sal wees om daardie pad te volg.
Want uiteindelik word vertroue nie op voorneme gebou nie.
Dit word op lewering gebou.