
'n Dag in die lewe van: Monica du Toit
Monica du Toit het destyds haar loopbaan by die Universiteit Stellenbosch (US) afgeskop. Meer as 20 jaar later is sy steeds hier en sê sy het nog nooit 'n vervelige oomblik by die werk gehad nie. Hierdie US-alumna is die ResEd-koördineerder vir die Victoria-kluster sowel as inwonende hoof van – heel toevallig – Monica-koshuis.
Aangesien Mei met die viering van Werkersdag begin het, wy ons hierdie reeks artikels aan ons personeellede en hulle belangrike bydrae tot die Universiteit. Monica het ons 'n bietjie meer van haar werk by die US vertel.
Wat behels jou rol by die US?
Ek werk saam met die span van die Sentrum vir Studentegemeenskappe in Studentesake om leierskapsondersteuning en opvoedkundige buiteklaservarings vir studente te koördineer, en ek woon ook voltyds in 'n studentegemeenskap.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?
Ek sluit drie keer 'n week om 06:30 by studente aan vir 'n welweesstapsessie. Tussen 09:00 en 13:00 woon ek personeelvergaderings by oor studentefasiliteite, die ontwikkeling van opleidingsmateriaal en die koördinering van projekte in studentegemeenskappe. Ek ontmoet deur die hele dag en ook saans met studenteleiers van verskeie strukture. Party vergaderings handel oor strukturele en organisatoriese pligte, maar baie sluit ook die gesondheid en welstand, akademiese sukses, sosiale insluiting en inskakeling van studente en studenteleiers in. Baie aande en naweke neem ek ook aan leierskapsontwikkelingsgeleenthede en -byeenkomste deel. Party dae kan lank raak, maar die werk bied my ook buigsaamheid om tyd vir familie en persoonlike groei in te ruim.
Hoe het jou studie of vorige ervaring jou vir hierdie pos voorberei?
Ek het 'n magistergraad in Kliniese Sielkunde en het voorheen hier op die gebied van gesondheidsgedrag, transformasie en diversiteitsopleiding gewerk. Die pos vereis heelwat aanpasbaarheid en 'n bereidheid om by én saam met studente te leer. Ek dink my vorige poste het my ook geleer om gemaklik te wees met konflik en verskille, en om begrip te hê vir die kompleksiteit van gemeenskappe en individue. Bowenal dink ek my lewens- en werkservaring het my uiters ambisieus gemaak in my drome en strewes, en besonder realisties oor die lesse wat moeilike tye en mislukkings jou leer.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek staan eerlikwaar verstom oor ons studente se toewyding, wil en pligsgetrouheid. Dit maak my baie optimisties oor die toekoms van ons land en wêreld as ek sien hoe ver studente bereid is om vir mekaar en vir hulle opvoedkundige prioriteite te gaan. Dit kan moeilik wees om te sien hoe jongmense met persoonlike, familie- en samelewingskwessies worstel, so dis regtig merkwaardig om hulle veerkragtigheid en groei te beleef, veral in die lig van die wêreldwye pandemie, ongelykheid en die algemene onvoorspelbaarheid van die lewe. Ek geniet ook die humor en begrip vir mense se foute en menswees. Ons kry die 'volle dokumentêr' van studentesukses en -veerkragtigheid – die swaarkry, eerlikheid én oorwinning – alles in een episode te sien.
Vertel ons iets opwindend van jouself wat min mense sou verwag?
Nie seker of dit onverwags of opwindend is nie, maar ek is effens behep met hekel, en dink ons behoort studente toe te laat om in die klas te hekel en te brei. Iets aan die beweging van die hande en die steke laat my beter luister en konsentreer. Ek wens ek kan dit in ál my vergaderings doen. Ek glo alle werkplekke moet 'n skeppende werksuur verpligtend maak!
Fotograaf: Stefan Els