
Maties Netbal skuif op na vierde plek op Varsity Netbal-punteleer
Ná 'n stampvol naweek van netbal by die Coetzenburg-sentrum op 18 en 19 September, het Maties Netbal na die vierde plek op die Varsity Netbal-punteleer opgeskuif.
Maties het hul sterk vertoning Sondag teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) opgevolg met 'n oorweldigende 69-25-oorwinning Maandag teen sy Kaapstadse bure Ikeys.
Sondag was daar teen halftyd net een doel verskil tussen Maties en UJ, maar die Maties kon in die laaste twee kwarte die gaping vergroot om hul opponente met 61-51 die loef af te steek. Kaptein Juline Rossouw is as die speler van die wedstryd aangewys.
Maandag was 'n bietjie makliker vir die Matie-span. Hulle het teen 'n vinnige pas gespeel en doel- en omgekeerde besit, onderskeppings en aanvalle oorheers, wat hulle uiteindelik in staat gestel het om koning te kraai met 'n finale wentelling van 69-25. Die halftydtelling was 40-15.
Die FNB Speler van die wedstryd het aan Maties se Annerine Snyman gegaan, wat in haar skik was met haar span se spel. Volgens kaptein Juline Rossouw was dié wedstryd 'n goeie geleentheid om die Maties se vertroue 'n hupstoot te gee.
Die punteleer sien tans soos volg daaruit: UP-Tuks (35 punte); NWU-Puk (20 punte); UV Kovsies (15 punte); Maties (15 punte); NMMU Madibaz (15 punte); UJ (7 punte); UK Ikeys (5 punte); VUT (0 punte).
Maties speel Maandag 26 September om 18:00 teen VUT in die Coetzenburg-sentrum. Hul volgende wedstryd is teen Kovsies, ook in die Coetzenburg-sentrum, om 19:00 op Donderdag 29 September.
Fotokrediet: SASPA