
Kollig op Swanepoel en Glasby by Steinhoff Maties Hokkie se toekenningsaand
Dylan Swanepoel en Tarryn Glasby was die twee groot wenners by die jaarlikse Steinhoff Maties Hokkie-toekenningsaand.
Glasby is aangewys as die afrigter se speler van die jaar en die voorste doelskieter vir Maties se vrouespan. Sy het ook die Kotie Smuts-trofee as vroueklubspeler van die jaar ontvang. Glasby het 'n totaal van 25 doele aangeteken wat haar die voorste doelskieter in die hele klub maak en aan haar die Jackie Wiese-trofee besorg het. Glasby is deel van die Suid-Afrikaanse o.21-span wat later vanjaar aan die Wêreldbekertoernooi sal deelneem.
Swanepoel het ook met 'n handvol toekennings weggestap. Die kaptein van Maties se manspan is as die mees waardevolle speler van die jaar, die spelers se speler van die jaar en die afrigter se speler van die jaar aangewys. Hy het toe ook nog die voorsittersbeker as mansklubspeler van die jaar ontvang. Dit was Swanepoel se laaste seisoen by Maties.
Ander toekennings vir die vroue het gegaan aan Heather McEwan – mees waardevolle speler van die jaar – en Quanita Bobbs – spelers se speler van die jaar. Natasha Rootenburg is die speler wat die meeste vordering gemaak het vir die Maties-vrouespan en in die klub. Laasgenoemde beteken sy het die Rennie Rose-Innes-trofee ontvang.
Maties Mans se voorste doelskieter was James Drummond. Die eerstejaarstudent Tom Richardson is die speler wat die meeste vordering gemaak het in die manspan en doelwagter Rob McKinley het die JH Black-trofee ontvang vir die manspeler wat die meeste vordering gemaak het in die klub.