Skip to main content
Jongmense steeds geraak deur trauma van onderdrukking - Prof Pumla Gobodo-Madikizela

Jongmense steeds geraak deur trauma van onderdrukking - Prof Pumla Gobodo-Madikizela

Alec Basson
24 Oktober 2016

Baie jong Suid-Afrikaners word steeds geraak deur die trauma van onderdrukking en verontmensliking wat hul ouers en grootouers beleef het.

Só het prof Pumla Gobodo-Madikizela van die Kantoor vir Studies in Transformasie en Historiese Trauma  aan die Universiteit Stellenbosch (US) op Donderdag (20 Oktober 2016) gesê. Sy was die spreker by die vierde Stellenbosch Forum-lesing van 2016.

Die Stellenbosch Forum lesingsreeks bied gereelde geleenthede vir personeel en studente aan die US, sowel as belangstellendes vanuit die publiek, om meer te leer oor die relevante en wêreldklas- navorsing wat aan die US gedoen  word.

Gobodo-Madikizela het gesê vir baie Suid-Afrikaners, veral jong mense, is die trauma van die verlede steeds ʼn werklikheid en veroorsaak dit dikwels woede en geweld.

"Vandag se jongmense beleef die trauma wat hul ouers en grootouers ervaar het."

"Jare en jare se trauma word nou deel van die herinneringe en jou identiteit word gevul met stories van onderdrukking. Jongmense is intiem bewus van dié trauma al het hulle dit nie self beleef nie."

Gobodo-Madikizela het bygevoeg dat baie mense se lewens nie verbeter het nie en dat die beter toekoms wat hulle belowe is nie gerealiseer het nie.

Sy het genoem hoe arm swart studente aan die US dikwels met bevoorregting op kampus gekonfronteeer word, maar wanneer hulle huis toe gaan hulle die werklikheid van armoede in die gesig moet staar.

"Aan die US kyk jy in die gesig van bevoorregting en by die huis kyk in die gesig van wanhoop, die gesig van teenstrydigheid."

Gobodo-Madikizela het ook daarop gewys hoe sigbare en onsigbare herinneringe, as 'n voorstelling van die verlede, hierdie studente traumatiseer.

"In ons konteks is daar 'n gevoel dat ons veronderstel is om vry te wees, om toegang te hê tot die dinge wat ons ouers nie kon nie, maar die middele om dit te word waarna ons streef ontbreek."

Dit is dus geen verrassing dat mense hulle tot woede en geweld wend wanneer hulle in armoede vasgevang bly nie, het Gobodo-Madikizela gesê.

"Die feit dat daar konstant in armoede teruggeval word veroorsaak woede en geweld by mense. Die uitdrukking van geweld word 'n manier om uit te roep en oor die diep gevoelens van trauma te praat."

Om hierdie gevoelens van trauma te verstaan het ons empatie nodig, het Gobodo-Madikizela gesê.

Sy het bygevoeg dat hierdie tipe empatie ons in staat stel om onsself in iemand anders se skoene te stel en ons help om die wêreld van mense wat getraumatiseer is te verstaan.

Deur empatie moet ons ander mense se lyding erken. Die afwesigheid van empatie lei tot die verontmensliking van ander.

"Deur middel van empatie moet ons die lyding van ander erken. Die afwesigheid van empatie lei tot die verontmensliking van ander."

  • Foto: Prof Pumla Gobodo-Madikizela aan die woord by die vierdie Stellenbosch Forum-lesing.
  • Fotograaf: Justin Alberts