
Gesondheidsvennootskappe inspireer studente en die gemeenskap
Inspirasie en waardering vir mekaar was merkbaar tussen studente en hulle gemeenskapsvennote tydens die Ukwanda Gemeenskapsvennotefunksie waar gesamentlike projekte in 2016 tentoongestel is.
"Ek is so dankbaar vir die geleentheid om saam met ongelooflike mense te werk wat 'n verskil wil maak en deel wees van die verandering in plaaslike gemeenskappe," het een van die studente gesê.
Die jaarlikse funksie het in September by die Landelike Kliniese Skool (LKS) op die Worcester-kampus plaasgevind, waar studente van die mediese- en aanvullendegesondheidsprogramme van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe hulle navorsing en gemeenskapsvennootskapsprojekte aangebied het. Dit is bygewoon deur personeel en studente van die Universiteit Stellenbosch, asook verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Departement Gesondheid, die Onderwysdepartement, skole, kerke, die media en burgerlike organisasies.
Daar was nege voordragaanbiedings en sewe elektroniese plakkaataanbiedings. 'n Nuwe toevoeging tot die program was 'n 30-minute openingsrede genaamd die 'Hoffie Conradie-lesing', wat vernoem is na Ukwanda se stigtersdirekteur, prof Hoffie Conradie, om erkenning te gee aan sy bydrae tot en liefde vir die gemeenskap. Prof Conradie het self die eerste Hoffie Conradie-lesing gelewer.
Stalletjies met boodskappe en dienste wat gesondheid bevorder en siekte help voorkom is op die dag in die atrium van die Worcester-kampus opgerig. Die stalletjies is deur studente beman, en lede van die gehoor kon hulle bloeddruk laat toets, hul ligaamsmassa-indeks (LMI) laat bereken, of leer hoe om 'n ontwikkelingsgepaste opvoedkundige speelgoed uit lae-koste, herwinde material te maak, of inligting kry oor gesonde inkopie-alternatiewe wat sosio-ekonomies en kultureel toepaslik is.
Die jaarlikse LKS-studentetoekenning vir Gemeenskapsbetrokkenheid en Transformerende Leer het aan twee studente gegaan, Emma Loubsher (Arbeidsterapie IV) en Rulanda Pretorius (Fisioterapie IV).
Foto: Finalejaar arbeidsterapiestudente by die Landelike Kliniese Skool saam met onderwysers van die PJB Cona-primêre skool in Zwelethemba.