Skip to main content
Gemeenskapsgebaseerde intervensie ʼn hupstoot vir mense met rugmurgbeserings

Gemeenskapsgebaseerde intervensie ʼn hupstoot vir mense met rugmurgbeserings

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
02 Februarie 2017

Die lewe kan selfs onder die beste omstandighede ʼn gesukkel wees. Veral mense met rugmurgbeserings kan dit soms moeilik hê omdat hulle baie persoonlike-, sosiale-, program-, beleids- en omgewingshindernisse moet oorkom om ʼn sinvolle en gelukkige lewe te lei.

"Die huidige gaping tussen binnepasiënt-rehabilitasie en die gesondheid en welwess van die buitepasiënt  verhoed dat mense met rugmurgbeserings ʼn produktiewe en goeie lewe kan lei omdat ondersteuning ná hul ontslag ontbreek," sê dr Candace Vermaak wat onlangs haar doktorsgraad in Sportwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het.

Vermaak is ʼn biokinetikus en ook Direkteur van Bridging Abilities, ʼn nie-winsgewende maatskappy wat in Stellenbosch en Somerset-Wes werksaam is en persone met fisiese en verstandelike gestremdhede ondersteun. Haar studieleier was die bekende Matie Parasport-afrigter, dr Suzanne Ferreira van die US se Departement Sportwetenskap.

As deel van haar doktorsgraad het Vermaak  ʼn agt-weke gemeenskapsgebaseerde intervensie ontwikkel en geïmplementeer wat op fisiese aktiwiteit gefokus het en daarop gemik was om die lewens van diegene met rugmurgbeserings positief te verander. Sy sê die gebreke wat volg op rugmurbeserings hang van die vlak van sodanige beserings af en ook of dit volledig is of nie.

"In persone met tetraplegie is al vier ledemate geaffekteer en hulle kan in ʼn gemotoriseerde rolstoel wees. In baie gevalle mag hulle hulp benodig om die meeste daaglikse aktiwiteite soos om uit en in die rolstoel te klim uit te voer. In persone met paraglegie is die romp en onderste ledemate geaffekteer en kan hulle meer onafhanklik funksioneer. Mense met ʼn volledige rugmurgbesering kan nie weer loop nie."

Vermaak voeg by dat mense met ʼn rugmurgbesering ook aan druksere, blaas- en asemhalingsinfeksies en vetsug kan lei, terwyl hul fiksheid en spierkrag ook verminder.

Vermaak is passievol daaroor om met mense met gestremdhede te werk en het 16 individue (een vrou en 15 mans) met rugmurgbeserings in Mitchells Plain, Strand en Macassar geïdentifiseer om aan die gemeenskapsbaseerde program deel te neem. Volgens haar het hierdie individue, wat tussen die ouderdomme van 19 en 53 jaar was, persoonlike struikelblokke soos druksere, blaasinfeksies, en ʼn gebrek aan finansies, vaardighede en kennis oor fisiese aktiwiteite en die risiko's verbonde aan onaktiwiteit in die gesig gestaar.

"Hulle moes ook sosiale hindernisse soos ʼn gebrek aan ondersteuning van vriende en familie sowel as die samelewing se negatiewe houding teenoor mense met gestremdhede oorkom. Sommige individue is deur hul vriende en familie verwerp nadat hulle beseer is."

Vermaak sê die program het gefokus op die verbetering van deelnemers se kardiovaskulêre uithouvermoë, krag en soepelheid, asook hul funksionele werkverrigting wat nodig is om aktiwiteite van die daaglikse lewe uit te voer.

"Die 16 individue het met die hulp van persoonlike fasiliteerders uit die gemeenskap 'n kardiovaskulêre opwarmingsessie gedoen, gevolg deur kragoefeninge en funksionele aktiwiteite (gewigsverplasing en balansoefeninge). Elke sessie, wat 90min geduur het, is afgesluit met strekoefeninge. Hierdie 90min sessies is twee keer per week voltooi."

"As gevolg van hierdie aktiwiteite het deelnemers hul kardiovaskulêre uithouvermoë, krag en soepelheid verbeter. Hulle kon hul rolstoele verder stoot, normale daaglikse aktiwiteite makliker uitvoer en meer op hulle eie doen. Hulle het minder hulp benodig om uit en in hul rolstoele te klim en kon self eet en meer onafhanklik aantrek dansky verbeterde krag en soepelheid."

Vermaak sê deelnemers het genoem dat hul eetlus ook verbeter het, dat hulle beter geslaap het, gewig verloor het en meer selfvertroue gehad het.

"Sommige deelnemers het ook gesê die sessies het hulle gehelp om meer mobiel te wees. Hulle was ook meer tevrede met hul vermoë om weer by hul onderskeie gemeenskappe in te skakel."

Vermaak sê ses maande ná die intervensie is die hindernisse suksesvol verminder en het persoonlike fasiliteerders gesorg dat die 16 individue die program volg.

Sy voeg by dat die huidige program gegroei het in terme van die aantal en verskeidenheid gestremdhede wat gedek word sowel as die aantal vrywilligers omdat hulle ook daarby baat  om aktief te wees.

"Ons lei tans ander mense met gestremdhede en vrywilligers op om in 2017 nog twee programme in die Wynland-distrik (Kayamandi, Cloetesville en moontlik Franschoek) te implementeer," sê Vermaak.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Candace Vermaak

Direkteur: Bridging Abilities

Tel: 021-843 33362

Sel: 082 782 1625

E-pos: [email protected]