Skip to main content
Dr Sophia Brink koester aspirant-rekenmeesters met professionaliteit en geesdrif

Dr Sophia Brink koester aspirant-rekenmeesters met professionaliteit en geesdrif

Corporate Communications and Marketing
15 Augustus 2025

Hierdie Vrouemaand vier ons akademiese personeellede aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat denke vorm en uitnemendheid deur hulle onderrig inspireer. Hierdie merkwaardige opvoeders bring passie, vernuwing en toewyding na die lesinglokaal en help studente om te floreer en sukses te behaal. Hulle stories weerspieël die impak van vroue in die hart van die US se akademiese gemeenskap.

Dr Sophia Brink, ʼn geoktrooieerde rekenmeester en senior dosent in die Skool vir Rekeningkunde, het in 2024 ʼn Onderrig-Leer-Assessering-toekenning van die US ontvang. Geïnspireer deur haar pa se onderwysnalatenskap, beskou sy onderrig as ʼn voorreg én ʼn roeping. Haar werk is op sorg, deursigtigheid en integriteit gegrond en help om die volgende generasie verantwoordelike geoktrooieerde rekenmeesters in Suid-Afrika te vorm. Vertel ons ʼn bietjie meer oor jou agtergrond.Ek het in ʼn akademiese huis grootgeword, met ʼn pa wat ʼn fisika-dosent aan die US was. Hy was ʼn uitsonderlike opvoeder wat verskeie onderrigtoekennings gedurende sy loopbaan ontvang het. Ek onthou nog baie duidelik hoe my ma vir ons die terugvoering van sy studente voorgelees het. Selfs as kind is ek getref deur sy diepgaande invloed op sy studente se akademiese reise – en ek het hom geweldig daarvoor bewonder. Ek het my van jongs af  in ʼn soortgelyke werk ingedink en beskou dit as ʼn voorreg om nou in sy voetspore te volg. Hy bly my grootste rolmodel as onderwyser.Gedurende my opleiding as geoktrooieerde rekenmeester (GR) het ek besef dat die ouditberoep nie by my aanklank vind nie. Ek het dit moeilik gevind om ʼn langtermyn-toekoms in daardie veld te visualiseer. In daardie tyd het ek by ʼn gemeenskapsuitreikinisiatief betrokke geraak en het ek ekstra rekeningkundeklasse vir gr 12-leerlinge van skole met beperkte hulpbronne aangebied. Ek het dié ervaring baie lonend gevind en dis toe dat besef: Dít is wat ek met my lewe wil doen.

Kort nadat ek my opleiding voltooi en as ʼn GR (SA) gekwalifiseer het, het ek as ʼn dosent by die Skool vir Rekeningkunde aan die US begin werk – en ek het nog nooit teruggekyk nie. Onderrig is vir my meer as bloot ʼn beroep; dit is ʼn bron van vreugde, doelgerigtheid en daaglikse inspirasie.

Wat beteken dit vir jou om vandag ʼn vrou in die akademie te wees?Om vandag ʼn vrou in die akademie te wees beteken om die verantwoordelikheid en voorreg te aanvaar om jong denke te vorm – veral vir toekomstige geslagte vroue wat hulleself dalk nog nie in akademiese leierskap verteenwoordig sien nie.Volgens die Inventaris van Onderwysperspektiewe het ek ʼn gedifferensieerde profiel, met 'koestering' as my mees dominante perspektief. Ek meen dit is ʼn eienskap wat deur baie vroue gedeel word en dit speel ʼn belangrike rol in my onderwyspraktyk – veral in ʼn veld soos finansiële rekeningkunde, waar studente dikwels hoë vlakke van druk en angs ervaar.Talle van ons B. Rekeningkunde-studente is tipe A-persoonlikhede – hardwerkend, perfeksionisties en gedrewe – maar hierdie eienskappe kan juis meebring dat die volume en kompleksiteit van die vakinhoud oorweldigend raak. Ek sien my rol nie net as ʼn vakkundige nie, maar as iemand wat ʼn veilige en ondersteunende leeromgewing kan bied. My koesterende benadering help studente om hierdie uitdagings die hoof te bied – nie deur verwagtinge te verlaag nie, maar deur hulle met empatie, aanmoediging en deursigtigheid te benader.Ek glo ook daaraan om deur my voorbeeld te lei. Ek streef daarna om ʼn rolmodel te wees – nie net akademies nie, maar persoonlik en professioneel. Of dit nou behels hoe ek aantrek, hoe ek praat, of die waardes wat ek uitleef, wil ek die soort dosent wees wat studente sal onthou lank nadat hulle die universiteit verlaat het. Na my mening is ʼn uitsonderlike opvoeder iemand wat ʼn werklike verskil in ʼn student se lewe maak – wat hulle nie net help voorberei vir ʼn professionele loopbaan nie, maar vir die lewe in ʼn breër sin.

Wat is die grootste beloning van ʼn dosent aan die US? En watter raad sou jy aan jonger vroue gee wat vandag die onderwysberoep betree?Die grootste beloning is om te weet dat ek die geleentheid het om my studente positief te beïnvloed – nie net om hulle te help om akademiese sukses te behaal nie, maar ook om as ʼn bestendige en ondersteunende teenwoordigheid te dien gedurende ʼn transformerende tyd in hulle lewe. Ek sien elke lesing, elke interaksie as ʼn oomblik om professionaliteit, integriteit en veerkragtigheid uit te leef – eienskappe wat ver buite die klaskamer saak maak.Dit is ook die raad wat ek aan jonger vroue sal gee wat die onderwysberoep betree: Moet nooit die invloed wat jy het, onderskat nie. Onderwys gaan nie net oor die oordrag van kennis nie; dit gaan daaroor om toeganklik te wees en op te daag as iemand na wie studente kan opkyk. Omarm daardie rol doelgerig en met opregtheid. Jou teenwoordigheid, jou woorde, jou houding – dit alles kan ʼn impak hê wat veel groter is as wat jy dalk besef.Wat my inspireer om my bes te doen is die besef dat onderrig ʼn voorreg is, nie net ʼn werk nie. Dit stel my in staat om op ʼn menslike vlak met studente te skakel, om op betekenisvolle maniere ʼn sê in hulle lewe te hê, asook om hulle akademiese én persoonlike groei te help vorm.Soos Brad Henry so mooi gesê het: ''n Goeie onderwyser kan hoop inspireer, die verbeelding laat vlamvat en ʼn liefde vir leer inprent.' Daardie woorde gee presies weer waarom ek lief is vir wat ek doen – en waarom ek elke dag met toewyding en dankbaarheid opdaag.

FOTO: Stefan Els