
Doelgemaakte kursus help vaardighede slyp
ʼn Kortkursus in verpleegkundige narkose wat aangebied word aan verpleegkundiges wat werksaam is in ʼn teateromgewing by die Tygeberg-hospitaal (TBH), help om pasiëntveiligheid en doeltreffende teaterbestuur te bevorder.
Hierdie doelgemaakte kursus is in 2014 ontwikkel deur narkotiseurs in die Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg by die TBH en die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US).
"Verpleegkundiges is ʼn onmisbare deel van die multidissiplinêre span wat in teaters werksaam is," sê dr Adele de Goede, ʼn mediese spesialis by die TBH. Elke lid van hierdie span is verantwoordelik vir ʼn pasiënt se welstand en spanwerk speel ʼn sleutelrol in die uitkoms van enige operasie. Dit is dus uiters belangrik dat spanlede hulle vaardighede deurgaans opskerp om te verseker dat hulle hul take op die hoogste vlak moontlik kan uitvoer.
"Verpleegkundiges wat narkotiseurs tydens kliniese prosedures moet assisteer, word aangemoedig om hierdie opleidingskursus, wat oor ʼn tydperk van 10 weke aangebied word, by te woon," sê De Goede.
Opleiding word gebaseer op basiese teateroriëntering wat op narkose fokus. "Ons kyk na risiko's en narkose verwante noodgevalle, veiligheid en die praktiese aspekte van narkose verpleegkunde," sê De Goede. "Goeie basiese kennis en ʼn begrip van die narkosepraktyk help verpleegkundiges om selfvertroue te ontwikkel en bekwame narkose-assistente te wees. Dit bevorder pasiëntveiligheid en doeltreffende teaterbestuur."
Vyf ingeskrewe verpleegassistente (IVA) wat tans die kursus bywoon, het kommentaar gelewer oor die waarde daarvan:
Reena Ngubane het gesê die kursus het haar baie geleer oor die verskillende soorte medikasie en die toepassing daarvan. "Ek het ook insig gekry oor wat presies gebeur wanneer narkose toegedien word."
Volgens Thembela Gwabaza is die kursus belangrik omdat dit haar begrip van die teateromgewing verbeter het.
Erika Tshikovha het gesê die geleentheid om doeltreffend deel te neem binne ʼn multidissiplinêre spanverband was ʼn hoogtepunt. "Dit is nodig dat ons weet wat ons doen wanneer ons narkotiseurs assisteer."
Phumla Frans het gesê die kursus is belangrik omdat verpleegkundiges ingelig word oor die narkose-verpleegkundige se verantwoordelikheid teenoor die pasiënt en die teaterspan. "Ek het insig gekry oor wat narkose is en wat om te verwag."
Avuheani Tshikovha het gesê dit het haar gehelp om ʼn waardevolle diens aan die pasiënte te lewer en om te verstaan wat om in sekere teatersituasies te doen, byvoorbeeld wanneer bybrenging nodig is. "Dit help my om ʼn waardevolle lid van die teaterspan te wees."
Foto (van links na regs): Sr Sandra Kittshoff (teater-mentor), IVA Thembela Gwabaza, IVA Avuheani Tshikovha, IVA Phumla Frans, IVA Reena Ngubane, Dr Celeste Cilliers (Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg) en IVA Erika Tshikovha.