Skip to main content
Die Aanpak van Armoede, Voedselonsekerheid, en Bestaansbeveiliging via Vordering met MOD’e en die Aanvang van VOD’e

Die Aanpak van Armoede, Voedselonsekerheid, en Bestaansbeveiliging via Vordering met MOD’e en die Aanvang van VOD’e

Bongiwe Mhlongo
26 Junie 2023

ʼn Onlangse werksessie, gereël deur Elina Amadhila, ʼn Iso Lomso-genoot by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Navorsing, het die vooruitgang met die bereiking van die millennium ontwikkelingsdoelwitte (MOD'e) en die belangrikheid van die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD'e) gedek. Die werksessie was gerig op die bevordering van produktiewe en volhoubare landboupraktyke, veral ten opsigte van bestaansbeveiliging. Die aanbieders (uit verskeie institute in Afrika en elders) het die nodigheid van voortgesette optrede uitgelig. Hulle het ook die verband tussen bestaansorg, armoede en voedselonsekerheid verken en lig gewerp op die verskille tussen nasies se pogings om armoede te verminder.

Prof Mmapatla Senyolo van die Universiteit van Limpopo voer aan dat, hoewel sommige nasies indrukwekkende sukses met die MOD'e vir die vermindering van armoede bereik het, ander steeds agterbly. Dit beklemtoon die behoefte aan voortgesette pogings om honger en armoede ná 2025 te bekamp. Volgens verslae van die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) tussen 2015 en 2022, kan ongeveer drie (3) biljoen mense wêreldwyd nie ʼn gebalanseerde dieet bekostig nie. Die meeste van hierdie mense woon in landelike gebiede en is hoofsaaklik van die landbou as hulle hoofbron van inkomste afhanklik. Daar is ʼn dringende behoefte aan optrede, gegewe die skrikwekkende vlak van voedselonsekerheid.

Amadhila beklemtoon die belangrikheid van ʼn omvattende strategie wat deurlopende openbare en private beleggings met bestaansorgmaatreëls kombineer, om die ingewikkelde kwessies van armoede en voedselonsekerheid aan te pak. Bestaansorg kan ʼn moontlike roete uit armoede uit bied, as dit met inklusiewe ekonomiese groei gekombineer word.

Dit is grondliggend ʼn veelvlakkige probleem, omdat bestaansbeveiligingsbeleide ook belangrike kwessies soos verstedeliking en klimaatsverandering in ag moet neem. Onverwagte gebeure, waaronder die Covid-19-pandemie en oorloë soos dié tussen Rusland en die Oekraïne, het die druk op bestaansbeveiligingsinstellings en voedselverskaffingsnetwerke verhoog. Hierdie faktore het die styging in voedselkoste wêreldwyd laat versnel, wat die bedreiging van globale voedselonsekerheid vererger.

Volhoubare landboumetodes, wat hedendaagse tegnologie insluit en steeds konvensionele boerderykundigheid respekteer, is voorgestel as aanvullende benaderings tot die aanpak van hierdie probleme. Landbou wat die omgewing besoedel of natuurlike hulpbronne beskadig, loop die gevaar van langtermynproduksie wat verminder. Buiten dat dit boere se vermoë om ʼn bestaan te maak, in gevaar stel, voldoen onvolhoubare praktyke ook nie aan die eise van die samelewing as geheel nie (produsente, verspreiders en verbruikers).

Die idee van klimaatslim landbou het nou al ʼn werkbare taktiek op die gebied van bestaansbeveiliging en landbou geraak. Die bekendstelling van tantiemevrye sade aan boere kan ook deur die ontwikkeling van beleidsraamwerke ondersteun word. Die Waterdoeltreffende Mielies vir Afrika- (WEMA-) projek se sukses (soos deur dr Mallika Sardeshpande van die Internasionale Waterbestuursinstituut aangebied) beklemtoon hoe belangrik dit is om ingrypings vir spesifieke nasionale opsette te ontwerp.

Volgens dr Olayinka Kareem van die Universiteit van Hohenheim word ʼn inklusiewe beleid, wat desertifisering sal ontmoedig, en die beste bestuurspraktyke in die aanwending van kunsmis en die gebruik van skoon energie ter beskerming van die ekostelsel en die omgewing sal verseker, benodig om volhoubare landbou te bevorder.

Prof Dieter von Fintel van die Universiteit Stellenbosch noem dat die ontwerp van bestaansbeveiligingsprogramme dikwels nie voeding en voedselsekerheid in ag neem nie. Om die risiko's en kwesbaarhede wat deur diverse bevolkingsegmente in grootskaalse en kleinboerdery en in die informele en die formele sektor ervaar word, beter te identifiseer en aan te pak, moet belanghebbers uit alle sektore saamwerk.

Samelewings kan beduidend met die bereik van die VOD'e en die skep van ʼn billiker en meer volhoubare toekoms vir almal vorder deur alle pogings ten opsigte van bestaansbeveiliging, armoedebestryding en voedselsekerheid te koördineer.

Dr Rachel Sabates-Wheeler van die Instituut vir Ontwikkelingstudies voer egter aan dat nie alle individue uit bestaansbeveiligingsprogramme sal 'gradueer' nie. Sommige kategorieë van arm en kwesbare mense, soos mense wat met ernstige gestremdheid lewe, sal waarskynlik hulle lewe lank maatskaplike bystand nodig hê.

Die werksessies is gefasiliteer deur prof Scott Drimie, Professor (Buitengewoon) in die Departement Globale Gesondheid, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch en die Suider-Afrikaanse Voedsellaboratorium, en Cyriaque Hakizimana, die Suider-Afrikaanse streekskoördineerder van die Landboubeleidsnavorsing in Afrika- (APRA-) program.