
Denkleiers debatteer op US Woordfees
Diskoers is dosente en alumni van Universiteit Stellenbosch (US) se kos, en talle van hulle lug weer hul oorwoë menings op vanjaar se US Woordfees.
Vroegoggend neem prof Rachel Jafta van die Departement Ekonomie op RSG se Praat Saam by die Plataankafee deel aan 'n debat oor kunsmatige intelligensie, onderwys en die toekoms van werk.
ʼn Gesprek oor "Watter lesse kan ons by Afrikaner-entrepreneurs leer wat swart ekonomiese bemagtiging sal baat" word deur Christo van der Rheede van Agri SA, dr Anton Ehlers van die Departement Geskiedenis, en De Wet Schoeman, Direkteur: Sentrum vir Entrepreneurskap van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) gelei.
Ook op Praat Saam is "Wat is goeie leierskap", wat deur onder andere prof Piet Naude, Direkteur van USB, en dr Leslie van Rooi, Hoof: Frederik Van Zyl Slabbert-instituut vir Studenteleierskapontwikkeling, aangepak sal word.
By dié Frederik van Zyl Slabbert-instituut se diskoersreeks, wat onder leiding van Tim du Plessis by die Bloekomhoek gehou word, sal onder andere prof Erwin Schwella van die USB se Skool vir Publieke Leierskap deelneem aan die bespreking oor grond en eiendomsbesit, terwyl die US-rektor, prof Wim de Villiers, hom sal uitlaat oor die krisis waarin die onderwys hom tans op alle vlakke in SA bevind. Die diskoers oor Amerika onder die nuwe president behoort ook belangstelling te lok.
In die Beste Professor-reeks, onder leiding van prof Andreas van Wyk in die Bibsaal, neem prof Rolf Stumpf, oud-viserektor aan die US, die toekoms van hoër onderwys in Suid-Afrika onder die loep, terwyl prof Gerhard Lubbe, afgetrede Dekaan van Regsgeleerdheid, praat oor kredietwetgewing en die regte van krediteurs.
Op ʼn ander noot is "Het SA sport ʼn internasionale toekoms?", met as sprekers prof George Claassen, oudprofessor in joernalistiek, en Ilhaam Groenewald, Direkteur van Maties Sport. Waar korporatiewe bestuur in staatsondernemings verkeerd geloop het, sal ook belangstelling lok.
Die Geloof op die Markplein-diskoers in die ATKV Boektent sluit in sprekers soos prof Anton van Niekerk in die onderwerp "Wys my jou God/gode: Geloof en Wysbegeerte", en Pieter Kloppers, wat saam met ander "#Hansieslim of #Hansiewys (Die hashtag-generasie en sosiale verandering)" ontleed.
Max du Preez, bekende skrywer en joernalis, pak ook ʼn gelaaide onderwerp aan saam met proff Bill Nasson en Albert Grundlingh van die Departement Geskiedenis, naamlik "Nie-rassigheid – ʼn lewende kadawer".
Moet ook beslis nie Dave Pepler se Science Café by die Plataan misloop nie waar US-akademici onderwerpe bespreek soos die alchemie van wyn, chemikalieë in die huis, en misbruik of verslawing.
- Vind meer inligting oor ander diskoerse, tye en onderwerpe by www.woordfees.co.za.