Skip to main content
Bemagtig vroue in leierskap in die hoër onderwys

Bemagtig vroue in leierskap in die hoër onderwys

Hester Klopper & Sibusiso Moyo
19 Augustus 2024

​Terwyl ons Vrouemaand vier, besin ons ook oor die vordering wat gemaak is ten opsigte van geslagsgelykheid in verskillende sfere van die samelewing. Die akademie is een van hulle. Deur gelyke toegang tot opvoedkundige geleenthede te verseker en 'n kultuur van inklusiwiteit te bevorder, kan universiteite help om 'n geslag te vorm wat waarde heg aan geslagsgelykheid en dit beoefen. Só skryf proff Hester Klopper (Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake) en Sibusiso Moyo (Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies) in ʼn meningsartikel vir University World News.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Hester Klopper en Sibusiso Moyo*

Terwyl ons Vrouemaand vier, besin ons ook oor die vordering wat gemaak is ten opsigte van geslagsgelykheid in verskillende sfere van die samelewing. Die akademie is een van hulle. Die landskap vir vroue het die afgelope paar dekades dramaties verander, met meer vroue as voorheen wat toegang tot hoër onderwys verkry het en in leierskaprolle ingetree het. Hierdie prestasies demonstreer 'n kollektiewe poging om struikelblokke uit die weg te ruim en nuwe paaie vir die bemagtiging van vroue te skep. Tog, soos ons hierdie prestasies erken, is dit van kardinale belang om bedag te bly op die uitdagings wat voortduur en om aan te hou streef na 'n billiker toekoms.

Die vooruitgang in vroueregte en geleenthede is 'n bewys van die veerkragtigheid en vasberadenheid van talle vroue en bondgenote wat vir verandering geveg het. Binne die Suid-Afrikaanse konteks sien ons byvoorbeeld 'n toenemende aantal vroue in die hoër onderwys wat in hulle vakgebiede uitblink en opgang maak om senior poste te beklee. Dit is egter duidelik dat ons nog nie volle gelykheid bereik het nie. Vroue staar steeds beduidende struikelblokke in die gesig, insluitende geslagsgebaseerde geweld, diskriminasie en loonverskille. Die werklikheid is dat vroue gemiddeld minder verdien as hulle manlike eweknieë en dikwels hindernisse ondervind om toegang tot dieselfde opvoedkundige en loopbaangeleenthede te verkry. 'n Onlangse Harvard Business Review-artikel oor hoe om die geslagsgaping te verklein beskryf geslagsdiskriminasie wat op sewe gebiede van talentbestuur kan voorkom, insluitende die lok en aanstelling van nuwe personeel, die integrasie van nuwe personeel in die instelling, personeelontwikkeling, prestasiebeoordeling, die bestuur van vergoeding, bevorderings en personeelbehoud.

Hoëronderwysinstellings speel 'n deurslaggewende rol om hierdie ongelykhede aan te spreek. Hulle is nie net sentrums van leer en kennisproduksie nie, maar ook kragtige agente van sosiale verandering. Deur gelyke toegang tot opvoedkundige geleenthede te verseker en 'n kultuur van inklusiwiteit te bevorder, kan universiteite help om 'n geslag te vorm wat waarde heg aan geslagsgelykheid en dit beoefen. Boonop kan hierdie instellings deur hulle navorsing en openbare betrokkenheid ongelykhede uitlig en die nodige beleidshervormings bepleit.

By die Universiteit Stellenbosch (US) is ons daartoe verbind om 'n inklusiewe omgewing te skep waar ons diverse personeel, insluitend vroue, kan floreer. Ons inisiatiewe sluit in afrigtingsdienste, mentorskap en leierskapsontwikkeling wat ontwerp is om vroue se vooruitgang in die akademie te ondersteun. Hierdie pogings gaan oor meer as net 'n toename getalle. Dit gaan daaroor om 'n ondersteunende kultuur te skep wat alle individue aanmoedig om hulle volle potensiaal te bereik. Deur die insluiting van vroue in alle aspekte van die universiteitslewe te bevorder, stel die US 'n kragtige voorbeeld vir ander instellings, en hierdie inisiatiewe moet bevorder en gevier word.

Terwyl ons die vordering vier wat gemaak is, is dit ook belangrik om die leemtes wat oorbly, te erken. Die aandeel van Fortune 500-maatskappye onder leiding van vroulike uitvoerende hoofde het by 'n skamele 10,4% gestagneer. In die akademie toon onlangse data van die Times Higher Education-wêreldranglys vir universiteite vir 2024 'n positiewer tendens, met 50 van die top 200 instellings wat tans deur vroue gelei word – 'n persentasie van 25% en 'n styging teenoor vorige jare. Wat egter kommerwekkend is, is dat slegs 2,5% van hierdie vroulik-geleide instellings deur vroue van kleur bestuur word, wat die snydende hindernisse wat voortduur, beklemtoon.

In Suid-Afrika bly die verteenwoordiging van vroue in akademiese leierskap kommerwekkend. Vanaf 2023 verteenwoordig vroue ongeveer 18,5% van professors en 29,8% van medeprofessors. Op dosent- en junior dosentvlak is vroue in die meerderheid, maar dit kom nie neer op proporsionele verteenwoordiging in senior leierskapsrolle nie. Daar moet gepoog word om te verseker dat vroue gelok en behou word op die hoogste vlakke van die akademie en vakgebiede waar daar onder verteenwoordiging is.

Die uitdagings wat vroue in die gesig staar op hulle pad na leiersposisies, is meervlakkig. Strukturele belemmering, 'n nou pyplyn van vroulike kandidate en maatskaplike vooroordele dra alles by tot die onderverteenwoordiging van vroue in leierskaprolle. Gesinsverantwoordelikhede beïnvloed vroue dikwels buite verhouding, wat hulle vermoë beperk om aan die uitgebreide navorsings- en publikasie-aktiwiteite deel te neem wat nodig is vir loopbaanbevordering. Boonop belemmer geslagstereotipes en kulturele verwagtinge steeds vroue se vordering in die akademie en verder.

Om hierdie uitdagings in die akademie aan te spreek, verg 'n gesamentlike poging deur hoëronderwysinstellings en alliansies. Inisiatiewe soos die African Women in Higher Education Network en die Association of African Universities beklemtoon die behoefte aan strategiese maatreëls om die leierskapsgaping tussen mans en vroue te verklein. Dit sluit in die bevordering van geslagsensitiewe beleide, die ondersteuning van vroulike akademici met kindersorgverantwoordelikhede en die aanspreek van kwessies wat verband hou met finansiering van navorsing. Daarbenewens is die aanspreek van geslagstereotipering en -vooroordele, die verskaffing van mentorskap- en rolmodelgeleenthede en voorspraak vir gelyke besoldiging belangrike stappe om 'n inklusiewe en billike akademiese omgewing te skep.

Die teenwoordigheid van vroue op alle vlakke van leierskaprolle is nie net 'n kwessie van gelykheid nie, maar ook van doeltreffendheid. Vroueleiers bring uiteenlopende perspektiewe wat besluitneming verbeter, innovasie bevorder en meer inklusiewe omgewings skep. Hulle ervarings kan tot beleide en praktyke aanleiding gee wat alle lede van die akademiese gemeenskap beter ondersteun, kwessies soos balans tussen werk en lewe aanspreek en geslagsgebaseerde diskriminasie bekamp.

Boonop dien meer vroue in leierskaprolle as 'n kragtige bron van inspirasie vir jong vroue en meisies. Dit toon dat leierskap nie aan geslag gebonde is nie en dat enigiemand na die hoogste vlakke van akademiese en professionele prestasie kan streef. Hierdie sigbaarheid is van kardinale belang om stereotipes af te breek en meer vroue aan te moedig om hulle ambisies na te streef.

As ons na die toekoms kyk, is daar baie om oor hoopvol te wees. Die vordering wat tot dusver gemaak is, toon dat verandering in die akademie moontlik is en dat wanneer ons saamwerk, ons vroue in leierskap kan bevorder en sodoende 'n meer billike en regverdige samelewing kan skep. Hierdie vordering mag egter nie tot oorgerusheid lei nie. Dit moet ons motiveer om aan te hou om vorentoe te beweeg, om beleide en inisiatiewe te ondersteun wat geslagsgelykheid bevorder, en om die strukture wat ongelykheid laat voortduur, uit te daag. Ons moet ook op dieselfde manier erkenning gee aan die mans wat tot die skep van bemagtigende omgewings bydra en wat geslagsgelykheid bevorder. Leierskapsrolle moet nie net as administratiewe rolle gesien word nie, maar ook om vroue in staat te stel om in hulle vakkundigheid en akademiese range opgang te maak. By die Universiteit Stellenbosch is ons bevoorreg om byvoorbeeld die prestasies van prof Pumla Gobodo Madikizela, die 2024 Templeton-pryswenner, te vier.

Laat ons ons ter viering van Vrouemaand daartoe verbind om deel van die oplossing te wees. Kom ons ondersteun die vroue rondom ons en streef daarna om omgewings te skep waar almal, ongeag hulle geslag, ras of gestremdheid kan floreer. Die reis na volle geslagsgelykheid duur voort, maar met vasberadenheid en kollektiewe inspanning kan ons aansienlike vordering maak. Saam kan ons 'n toekoms bou waar geslag nie 'n mens se potensiaal beperk nie, en waar almal die geleentheid het om te slaag en te lei.

​*Prof Hester Klopper is Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake by die Universiteit Stellenbosch en prof Sibusiso Moyo is die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies by dieselfde universiteit.​