
Bekroonde verhoogkunstenaar op US Woordfees
Wat kan US Woordfeesgangers vandeesweek nog op die toneel- en musiekverhoog verwag?
Reza de Wet se klassieke drama, die Hertzog-pryswenner Drif, waar twee susters ʼn herberg bestuur langs 'n drif en die dwaalgeeste wat daar verdrink het tot ruste probeer bring, is ʼn stuk wat ontroer en meevoer.
Die gewilde Fiela se kind is ook weer terug in die stadsaal, en daar is ʼn Geworry, met teks deur Saartjie Botha, waarin die bekende akteurspaar Elize Cawood en Wilson Dunster ʼn egpaar speel wie se kinders al uit die huis is – hulle besoek Londen en dan begin hul worries eers.
Engelse toneelstukke word ook nie afgeskeep nie: The fall is ʼn baie geslaagde Baxter-teater-produksie en speek die relevante onderwerp van die huidige studentebewegings aan op ʼn eerlike, prikkelende en helende wyse. In Girls just wanna have fun word lewens dramaties deur dwelms in sport beïnvloed.
In Marthinus Basson se vertaling, regie en ontwerp van Hotel Malaria oorreed ʼn vrou, wat hoor dat sy ʼn ongeneeslike siekte het, ʼn wildvreemde man om by haar te bly. Hul samesyn en reis word ʼn vreugdevolle ervaring.
In Wag van sterf ʼn vrou se seun op onverklaarbare wyse en sy word vervreem van die res van die dorp weens hul bygeloof. Toegewyde geloof konfronteer die vrees vir die dood.
Martelsang neem kennis van pyn wat jy vir jare met jou saamdra in ʼn land waar onregte van bewind tot bewind oorgedra word. Dit is die Afrikaanse verwerking van Death and the maiden deur Ariel Dorfman.
Spookstories kom voor in Nagwandelaars, en in die debuutdrama Nerêns Noord-Kaap ontmoet drie broers, wat in ʼn weggooi-dorpie grootgeword het, ná baie jare weer in die hart van die Kalahari op die plaas wat hulle agtergelaat het. Nommerpas 2 is 'n sketskomedie van ʼn dobbelplek in Distrik Ses waar ekstase net so in wanhoop omskakel.
In Pa maak vir my ʼn vlieër, Pa, met Sandra Prinsloo, versorg middeljarige Org sy ma in ʼn woonstelletjie. Die vraag is watter gevaar hou ʼn geheimsinnige besoek van 'n onbekende man vir hulle in.
Die Vrou uit die see van Hendrik Ibsen is ʼn hoogtepunt met ʼn indrukwekkende rolverdeling wat komplekse verhoudings met humor uitbeeld. Wild is ʼn verhaal van ʼn vuil, uitgeteerde jong vrou wat deur honde grootgemaak is en nie kan praat nie. Vrae oor die aard van menswees, taal en kommunikasie word gevra.
Die musiekspyskaart, veral van die Sanlam Musiekfees, is net so ryk en vol verskeidenheid. ʼn Hoogtepunt is Piekniek by Mpande Née Dingaan met oorspronklike teks en musiek van Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis. In 1988 het die Afrikaanse establishment in hul koffie gestik oor die kabaret Piekniek by Dingaan; vandag is Suid-Afrika ʼn ander land. Of is dit?
Baie gewild is die groep Blackbyrd, met drie vroue en hul drie kitare: Tarryn Lamb, Samantha Heldsinger en Tamsyn Maker. In die Jan Marais-natuurreservaat tree Emo Adams, Francois van Coke, Mathew Mole en Theuns Jordaan op, en by Weltevreden Aansit is Jak de Priester – 15 jaar met klavier en kitaar.
Saans is daar blues-konserte by Bloekomhoek met die Blues Broers, Gian Groen, Basson Laubscher en Sven Blumer.
Ander bekendes wat by die US Woordfees optree, is Laurika Rauch en Loki Rothman in Blou by Spier. Die laaste aand van die US Woordfees word Ballades, met groot sterre soos Amanda Strydom, Lize Beekman, Coenie de Villiers en Joshua na die Reën, by Spier aangebied.
Klassieke musiek bied ʼn groot verskeidenheid. Die Stellenbosse Universiteitskoor is ʼn hoogtepunt, so ook ʼn solo-uitvoering deur Megan-Geoffrey Prins, wat een van Suid-Afrika se voorste jong pianiste is. Prins tree ook op saam met die US Camerata in Metamorfose op 9 Maart.
Die Suid-Afrikaanse Lied, met die US Kamerkoor onder leiding van Martin Berger, bied ʼn koor-teater-uitvoering met sang en geprojekteerde beelde. En by die Moederkerk is die gebruiklike Orrelweek, met die bekende Zorada Temmingh en Roucher du Toit wat nog tot Vrydag optree.
- Vir meer inligting besoek www.woordfees.co.za.