
15de WP-titel in 16 jaar vir Maties Hokkie-vroue
Die Steinhoff Maties Hokkie-vrouespan het die afgelope naweek nie net sy sesde agtereenvolgende Westelike Provinsie-titel gewen nie, maar ook sy 15de titel sedert 2000.
Dit was 'n riller-naweek vir enige Maties Hokkie-ondersteuner.
Die finale wedstryde van die WP-liga se tweede ronde het Saterdag plaasgevind. Maties moes hul wedstryd teen WPCC wen nadat Somerset-Wes vroeër met Conberg afgereken het om 'n laaste wedstryd – soos 'n eindstryd – vir die ligatitel af te dwing.
Maties het WPCC met 4-2 geklop danksy doele deur Tarryn Glasby (2), Quanita Bobbs en Dani Cairns en so die eindstryd teen die klub van Somerset-Wes verseker.
Al die vorige wedstryde dié seisoen tussen Maties en sy bure het gelykop geëindig. Sondag het Maties egter 'n sege verseker met 'n doel deur Glasby in die tweede chukka.
Dit was 'n emosionele dag vir Maties. Nie net het hulle gespeel vir die titel nie, maar dit was ook Bobbs en Nicole Bartsch se laaste wedstryd vir die span van Stellenbosch.
Mede-kaptein Heather McEwan het dalk ook haar laaste wedstryd vir die span gespeel.
"Dit was 'n ongelooflike reeks en die perfekte einde tot 'n wonderlike seisoen. Ek is so trots op my span," het McEwan gesê.
Bobbs het bygevoeg: "Die emosies het my oorweldig toe die eindfluitjie blaas. Die liga het so baie vir my en die span beteken. Om ons doel van 'n liga-oorwinning te bereik ná 'n lang en moeilike seisoen, is spesiaal."
Die enigste jaar sedert 2000 waarin Maties se vrouespan nie die WP-titel gewen het nie, was 2010. Jenny King is al sedert 1998 Maties se afrigter en dit was ook haar 15de titel saam met Maties.
Altesaam het Maties die titel al 32 keer gewen.