Skip to main content
rooiplein
Image by: Stefan Els
Natuur- en wiskundige wetenskappe

Toonaangewende akademiese tydskrif vereer voormalige leiers in mikrobiologie

Prof Hendrik van Vuuren
20 Mei 2026
  • Artikels oor twee voormalige dosente en senior akademiese leiers van die Departement Mikrobiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), proff Hennie van Vuuren en Isak Pretorius, is in ʼn toonaangewende, gespesialiseerde akademiese tydskrif op die gebied van gisbiologie, FEMS Yeast Research, gepubliseer.

Die tydskrif word as ʼn sleutelpublikasie vir die globale gisnavorsingsgemeenskap erken, fokus op fundamentele én toegepaste navorsing en word deur Oxford University Press namens die Federasie van Europese Mikrobiologiese Verenigings (FEMS) uitgegee.

Hul retrospektiewe artikels (wat op hul vorige navorsing en lewensreis fokus) in hierdie tydskrif laat die kollig val op dekades van invloedryke werk in mikrobiologie en biotegnologie, asook op hul blywende bydraes tot die internasionale wetenskaplike gemeenskap. Hulle tel onder slegs 21 internasionale wetenskaplikes wat die afgelope 23 jaar deur FEMS Yeast Research vir hul uitstaande bydraes tot giswetenskap vereer is, wat hul wêreldwye aansien in die veld onderstreep.

Prof Hennie JJ van Vuuren

Prof Van Vuuren het in 1983 by die Departement Mikrobiologie aangesluit. In daardie stadium was daar 2 fakulteitslede, 4 nagraadse studente en geen navorsingslaboratoriums nie. Toe hy Stellenbosch in 1997 verlaat het, het die Departement 8 fakulteitslede gehad wat 57 nagraadse studente in uitstekende navorsingsfasiliteite opgelei het. Hy het in 1993 ʼn vol professor en Hoof van die Departement Mikrobiologie aan die US geword en gedurende ʼn vormingsperiode ʼn sleutelrol in die versterking van die Departement se navorsingsprofiel gespeel. Sy leierskap het saamgeval met ʼn tyd van vinnige uitbreiding in molekulêre mikrobiologie (studie van die gene en molekules van mikroörganismes) en hy het ʼn groot rol gespeel om die Departement aan die voorpunt van biotegnologienavorsing in Suid-Afrika te posisioneer. Hy was die stigter en eerste Direkteur van die Instituut vir Biotegnologie aan die US (1987-1997).

Vroeër in sy loopbaan het hy ʼn industriële fermentasieproses vir mahewu (ʼn tradisionele, nie-alkoholiese Suider-Afrikaanse drankie wat gemaak word deur mieliepap te fermenteer) ontwikkel, wat suksesvol in veelvuldige produksiefasiliteite gekommersialiseer is. Dit dui op ʼn langdurige fokus op toegepaste mikrobiologie.

Van Vuuren se werk is gekenmerk deur ʼn sterk integrasie van fundamentele wetenskap en nywerheidstoepassing, veral op die gebied van gisbiotegnologie. Sy navorsing het gefokus op die verbetering van die prestasie van gisstamme wat in wynproduksie gebruik word deur hul DNS en interne chemiese prosesse te wysig. Een van sy noemenswaardigste prestasies was die ontwikkeling van geneties verbeterde gisstamme wat sleuteluitdagings in fermentasie aanpak, insluitend om te voorkom dat appelmelksuur-fermentasie vassteek en die vermindering van ongewenste verbindings. Hierdie innovasies het gelei tot die eerste wyngiste wat GRAS-status (algemeen aanvaar as veilig) van die VSA se Food and Drug Administration (FDA) ontvang het, wat die wêreldwye toepaslikheid en impak daarvan demonstreer.

Van Vuuren was die sameroeper van een van die komitees wat in 1985 aangewys is om toekomstige ontwikkelings van die US te ondersoek. Hy het die Komitee van Universiteitshoofde in die Industriële Biotegnologievereniging van Suider-Afrika (1992/1993) verteenwoordig, het as ʼn Senator gedien (1993-1997) en is deur die Senaat as lid van die US-navorsingskomitee (1995-1997) verkies.

Gedurende sy loopbaan is meer as 80 van sy wetenskaplike artikels in toonaangewende internasionale tydskrifte gepubliseer. Hy was voorts die toesighouer of mede-toesighouer van talle nagraadse studente, insluitend 26 meestersgraad- en 12 doktorale kandidate, asook verskeie postdoktorale genote. Sy bydraes het verder as die akademie gestrek deur die ontwikkeling van gepatenteerde tegnologieë (insluitend vyf patente, waarvan drie gekommersialiseer is) in die wyn- en biotegnologiebedrywe.

Nadat hy in 1997 by die US weg is, het Van Vuuren sy akademiese loopbaan in Kanada voortgesit. Hy is in die Blythe en Violet Eagles-leerstoel in Voedselbiotegnologie aan die Universiteit van British Columbia (UBC) aangestel en het die stigter en eerste Direkteur van die Wynnavorsingsentrum aan dié universiteit geword. Hy is as Mede-dekaan: Navorsing (2003–2011) aangewys en het in die Visepresident se Navorsingskomitee van Mede-dekane (2007-2012) en die UBC se Senior Aanstellingskomitee (2015–2017) gedien.

Hy het ook gevorderde navorsings- en analitiese fasiliteite by die UBC gevestig, wat interdissiplinêre medewerking oor verskeie wetenskaplike velde heen ondersteun het.

Van Vuuren het in 2017 by die UBC afgetree nadat hy twee private maatskappye, Creatus Biosciences Inc. en Melio Peptide Inc., gestig het, waar hy steeds tot vernuwing in biotegnologie bydra. Gedurende sy loopbaan het hy navorsingstoekennings van meer as R300 miljoen ontvang. 

Prof Isak S Pretorius

Prof Isak (Sakkie) Pretorius het voortgebou op die Departement se groeiende internasionale reputasie. Hy is in 1993 tot ʼn vol professor bevorder en het ʼn leidende rol in die bevordering van molekulêre gisgenetika en biotegnologie aan die US gespeel.

Gedurende sy termyn het Pretorius bygedra tot die vestiging van Suid-Afrika se eerste toegewyde navorsingsprogram in molekulêre gisbiotegnologie en in 1995 as die eerste Direkteur van die Instituut vir Wynbiotegnologie gedien. Sy navorsing het fundamentele mikrobiologie en nywerheidsinnovasie oorbrug, veral deur die ontwikkeling en toepassing van geneties verbeterde gisstamme vir die wynbedryf..

Sy werk het akademiese én kommersiële sukses behaal. Veral die ontwikkeling van industriële gisstamme, insluitend dié wat gebruik word om fermentasieprosesse en wyngehalte te verbeter, het die waarde van die kombinasie van molekulêre genetika met toegepaste biotegnologie gedemonstreer. Hierdie bydraes het gehelp om die US te posisioneer as ʼn leier in gisnavorsing en fermentasiewetenskap (die studie van hoe mikroörganismes soos gis en bakterieë gebruik word om suikers en ander grondstowwe in bruikbare produkte om te skakel).

Pretorius het ʼn uitgebreide en hoogs produktiewe akademiese loopbaan gehad. Hy was die outeur of mede-outeur van meer as 270 hoogs aangehaalde, ewekniebeoordeelde wetenskaplike publikasies, met ʼn huidige h-indeks van 92, asook van talle boekhoofstukke. Hy het voorts honderde internasionale navorsingsvoorleggings aangebied. Hy was die toesighouer of mede-toesighouer van talle nagraadse studente, insluitend meer as 35 doktorale en meer as 50 meestersgraadkandidate, en het ʼn beduidende bydrae tot die ontwikkeling van die volgende generasie wetenskaplikes gelewer.

Benewens sy akademiese uitsette was Pretorius aktief betrokke by vernuwing en tegnologie-ontwikkeling en het ses patente op sy naam. Hy het navorsingsbefondsing van meer as R1,3 miljard bekom, wat die omvang en impak van sy werk weerspieël.

Nadat hy Suid-Afrika in die vroeë 2000’s verlaat het, het Pretorius etlike senior leiersrolle in Australië beklee, insluitend as Besturende Direkteur van die Australiese Wynnavorsingsinstituut, waarvan die navorsingsuitsette en eksterne befondsing aansienlik onder sy leierskap uitgebrei het. Hy het later as Adjunk-visekanselier (Navorsing en Innovasie) aan die Universiteit van Suid-Australië gedien, en daarna as Adjunk-visekanselier (Navorsing) aan die Universiteit van Macquarie in Sydney, waar hy tans steeds dien.

In hierdie hoedanigheid het hy ʼn sleutelrol gespeel in die bevordering van grootskaalse navorsingsinisiatiewe in sintetiese biologie, genomika en bio-ingenieurswese, insluitend deelname aan internasionale medewerkings soos die Sintetiese Gisgenoom-projek (Sc2.0-projek) Die herontwerp en chemiese sintese van al 16 chromosome van die gis Saccharomyces cerevisiae het die Sc2.0-projek binne bereik van die skepping van die eerste komplekse sel met ʼn volledig mensgemaakte genoom te bring. Hierdie deurbraak baan die weg vir ʼn nuwe generasie gemanipuleerde organismes met toepassings wat landbou, gesondheidsorg, omgewingsvolhoubaarheid en industriële biotegnologie omvat.

Die erkenning van proff Van Vuuren en Pretorius in FEMS Yeast Research vestig nie net die aandag op hul individuele prestasies nie, maar ook op die belangrike rol wat die US in die ontwikkeling van mikrobiologie en biotegnologie in Suid-Afrika gespeel het. Hul loopbane weerspieël ʼn gedeelde toewyding aan uitnemendheid in navorsing, onderrig en vernuwing, asook ʼn sterk klem op die omskakeling van wetenskaplike kennis in praktiese toepassings. 

Hul insluiting in hierdie gesogte tydskrif dien as ʼn herinnering aan die Departement Mikrobiologie se ryk geskiedenis en voortgesette toewyding aan die bevordering van wetenskaplike ontdekking met ʼn wêreldwye impak.

Merkers

Mikrobiologie

Verwante stories