Navorsing
Die Departement Plant- en Dierkunde gee onderrig en doen navorsing op nagraadse vlak in a verskeidenheid van internasionaal-erkende programme. Ons navorsing in die vakgebied van evolusionêre biologie, met 'n spesifieke fokus op Afrika se unieke biodiversiteit, word internasionaal erken.
Diere evolusionêre ekologie en fisiologie
Dit fokus op die prestasie van die organisme as geheel en hoe dit deur omgewingsveranderinge beïnvloed word. Dit behels drie hoofonderwerpe:
- eienskappe wat noodsaaklik is vir die funksionering van die organisme;
- die omgewing soos deur die organisme waargeneem, asook die mate van omgewingsvariasie; en
- die strategieë of aanpassings wat organismes gebruik om die hoof te bied aan veranderlike of suboptimale omgewings, insluitend gedrag, buigsame fisiologiese reaksies en evolusie.
Blits skakels
Dier- en plant interaksies
Hierdie navorsing dek 'n verskeidenheid onderwerpe en volg 'n integrerende benadering om die volgende te bestudeer: blomdiversifikasie, interaksies tussen plante en bestuiwers, verwantskappe tussen plant- en insekdiversiteit, insek- en voëlgedrag en die verband daarvan met blom-evolusie, blomkleur, die evolusie van verspreidingsmeganismes, die ontstaan en voortbestaan van spesies, die naasbestaan van spesies, asook die diversifikasie van die Kaapse flora en fauna.
Blits skakels
Kaapse flora navorsingsgroep
Hierdie navorsing fokus hoofsaaklik op DNA-gebaseerde filogenetiese rekonstruksie en die algemene biologie van die organisme (bv. morfologie, palinologie, kariologie en voortplantingstelsels) om die evolusie van 'n aantal Kaapse afstammingslyne te rekonstrueer. Dit fokus op die evolusie van alternatiewe groeivorms, die evolusie en verval van die tristiele voortplantingstelsel, die evolusie van saad-rekalcitransie en uiteenlopende strategieë vir saailingvestiging, die rol van hibridisering in die dryf van die waargenome diversiteit, asook die mutualistiese interaksies tussen Fynbosplante, ophiostomatoïede swamme en insekte.
Blits skakels
Gedragsekologie
Hier val die klem hoofsaaklik op dierekommunikasie, en veral op die evolusie van diereseine – hetsy dit reuk-, akoestiese of visuele seine is. Een aspek van die navorsing behels die ontleding en identifikasie van die seinstelsels wat deur sosiale insekte gebruik word om die koördinasie en funksionering van die kolonie te handhaaf; dit is noodsaaklik om die evolusie van sosialiteit in die diereryk te ontrafel. 'n Verdere fokusarea is die verskillende kommunikasiestrategieë wat deur voëls en soogdiere gebruik word met betrekking tot nabootsing, maatkeuse, die beskerming van maats, territorialiteit en hulpverleningsgedrag.
Blits skakels
Evolusionêre genomika navorsingsgroep
Lede van die Groep vir Evolusionêre Genomika kombineer uiteenlopende kundigheid in molekulêre ontledings om die evolusionêre geskiedenis van terrestriële en mariene fauna en flora te bestudeer. Die navorsing is nie taksonspesifiek nie en is daarop gemik om konseptuele, eksperimentele, analitiese en berekeningskundigheid te versterk op die gebiede van molekulêre ekologie, bewaringsgenetika, vergelykende sitogenetika, populasiegenetika, filogeografie, vergelykende genomika en molekulêre filogenetika.
Mariene navorsing
Die navorsingsgroep het vier hoof-fokusgebiede, naamlik die biogeografie en voortplanting van polichete, mariene invalsekologie, molekulêre mariene ekologie en volhoubare weekdierkultuur. Hierdie groep gebruik moderne navorsingstegnieke om Suider-Afrika se dinamiese mariene omgewing beter te verstaan. Navorsingsprojekte is uiteenlopend en wissel van die toepassing van genetika in mariene beskermde gebiede tot die beoordeling van die impak van uitheemse mariene spesies.
Blits skakels
Indringerbiologie
Lede doen navorsing oor die gevolge van biologiese invalasies vir biodiversiteit. Die hoofdoelwitte van die Sentrum se werk is om die tempo en impak van biologiese invalasies te verminder deur wetenskaplike begrip en voorspellingsvermoë te bevorder, en deur navorsingskapasiteit te ontwikkel.
Blits skakels
Medisinale plant biotegnologie
Hierdie groep fokus op die gebruik van plante vir medisinale doeleindes deur plaaslike gemeenskappe. Die doel is om 'n beter begrip te verkry van die omgewing se invloed op medisinale plante en die gepaardgaande sekondêre metaboliete, spesifiek met betrekking tot die reguleringsmeganismes wat by die produksie van sekondêre metaboliete betrokke is. Biotegnologie word aangewend in 'n strategie vir bewaring en kommersialisering. Die groep fokus hoofsaaklik op medisinale plante wat belangrik is in die Groter Kaap-streek.
Blits skakels
Plant holobiont biologie
Navorsing oor die plant-holobiont bestudeer die wisselwerkings tussen plante en die mikroörganismes wat hulle bewoon. Dit sluit bakterieë, swamme en virusse in, wat gesamentlik as die plant-mikrobioom bekend staan. Ons ondersoek hoe mikroörganismes plantgroei, -ontwikkeling en -gesondheid beïnvloed, asook hoe plante met hul mikrobioom in wisselwerking tree en dit mettertyd vorm. Ons navorsing maak gebruik van moderne tegnologieë om molekulêre meganismes wat plant-mikrobe-wisselwerkings bepaal, te vertaal na kreatiewe toepassings vir landbou, klimaatsverandering en bewaring.
Ons laboratorium ondersoek twee aspekte van die plant-holobiont se reaksie op omgewingsverandering:
- Veranderinge in die mikrobioom wat fundamentele uitwerkinge op plantplastisiteit en -aanpassing as holobiont het; en
- Veranderinge in plant-holobiont-wisselwerkings oor omgewingsgradiënte heen, om te bepaal hoe omgewingsveranderinge niswydte moduleer.
Blits skakels
Werweldier ekologie
Die fokus van hierdie groep is die aanpassing van wildlewe in omgewings wat vinnig verander, insluitend stedelike ekologie, ruimtelike ekologie, ekotoksikologie en bewaringsfisiologie. Baie van die werk word deur die *Urban Caracal Project* gedoen, wat die uitwerking van verstedeliking op die gedrag en voortbestaan van hierdie hoogs aanpasbare wildekat ondersoek. Wetenskapkommunikasie is van groot belang, en die groep se bevindinge word versprei deur middel van openbare praatjies, sosiale en gedrukte media, en samewerking met visuele kunstenaars.
Hierdie werk word in samewerking met die Universiteit van Kaapstad gedoen.
The Urban Caracal Project
Navorsingsvennootskappe
Skool vir Klimaatstudies
Die Skool is besig om 'n navorsingsprogram te ontwikkel en te implementeer wat relevant is vir Afrika en reageer op bestaande en opkomende kwessies rakende die impak van klimaatsverandering, sowel as aanpassings- en versagtingsmaatreëls, en sodoende menslike veerkragtigheid teen klimaatsverandering ondersteun. Die Skool sal huidige dissiplinêre en transdissiplinêre denke oor klimaat konsolideer en integreer, primêre navorsing uitvoer en koördineer, navorsingsresultate publiseer en toeganklik maak, en die nodige platforms vir data-intensiewe navorsing en innovasie skep of ondersteun.
Antarktiese Nalatenskap Suid-Afrika (ALSA)
Sedert Suid-Afrika die Prince Edward-eilande in 1948 geannekseer het, onderneem Suid-Afrikaanse navorsers gereelde ekspedisies na die Antarktiese vasteland, die Prince Edward-eilande en Gough-eiland, asook na ander plekke in die Suidelike Oseaan. Die *Antarctic Legacy of South Africa* (ALSA)-projek – wat by die Departement Plantkunde en Dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch gesetel is en deur die Nasionale Navorsingstigting as deel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Antarktiese Program befonds word – het ten doel om die ryk menslike geskiedenis van die ekspedisies wat oor die afgelope 70 jaar onderneem is, te bewaar. Benewens die resultate van biologiese en fisiese navorsing, het die ekspedisies 'n skatkis van foto's, video's en geskrewe sowel as mondelinge verslae opgelewer. Hierdie historiese rekord sluit ook kaarte, dagboeke, logboeke, koerantartikels en kunswerke in. ALSA versamel, digitaliseer en argiveer hierdie rekords – tesame met Suid-Afrikaanse navorsingsartikels wat nie meer in druk is nie en ongepubliseerde dokumente uit staatsargiewe, universiteitsdepartemente en museums – en stel dit beskikbaar aan belangstellende instellings en die publiek. Die ALSA-webwerf dien as 'n openbare portaal wat toegang bied tot hierdie inligting, wat tans uit meer as 20 000 rekords bestaan.
Besoek ALSA vir meer inligting.
Suid-Afrikaanse Pole Navorsingsinfrastruktuur (SAPRI)
Die Suid-Afrikaanse Poolnavorsingsinfrastruktuur (SAPRI) is een van 13 groot navorsingsinfrastrukture (RIs) wat deur die Departement van Wetenskap en Innovasie (DSTI) ontwikkel is as deel van die Suid-Afrikaanse Padkaart vir Navorsingsinfrastruktuur (SARIR). SAPRI is in 2021 gestig om koördinasie van Suid-Afrikaanse mariene en Antarktiese navorsing as 'n nasionale "Big Science"-program te verseker, en om naatlose toegang te bied tot bestaande en nuwe navorsingsinfrastruktuur wat nodig is vir die ontwikkeling en verbetering van langtermynwaarnemings van Suid-Afrika se poolgebied. Die uiteindelike doelwit van SAPRI is om gebalanseerde navorsingsgroei oor die verskillende pooldissiplines heen moontlik te maak, en om die wêreldklas- langtermynwaarnemingsdatastelle wat reeds gevestig is, in stand te hou en verder uit te brei.
SAPRI is ontwerp as 'n konsortium wat deur die Suid-Afrikaanse Netwerk vir Omgewingswaarneming (SAEON) gehuisves word en is verdeel in vier geïntegreerde fasiliteite (IF's): Data, Produkte en Samelewing (DPS); Langtermynwaarnemings op Land (LTO-Land); Langtermynwaarnemings in die Oseaan (LTO-Oseaan); en Poollaboratorium (Polar Lab).
Die DPS-geïntegreerde fasiliteit is in November 2022 gestig en word gehuisves by die Universiteit Stellenbosch, binne die Fakulteit Natuurwetenskappe se Departement Plantkunde en Dierkunde. DPS beoog om die SAPRI-datasentrum, die verskillende tipes gegenereerde data en afgeleide produkte – insluitend modellering en die program vir uitreik na die samelewing – saam te bring.
Lees meer by SAPRI