Skip to main content

Geskiedenis

Vroeë beginjare

Die oorsprong van die Universiteit Stellenbosch (US) dateer terug na die Stellenbosch Gimnasium wat in 1866 gestig is. Dit het in 1887 Victoria-kollege geword en in 1918 die Universiteit Stellenbosch.

In 1895 het die Kollege ’n Lees- en Naslaanbiblioteek vir studente gehad, maar teen die draai van die eeu het dit noodsaaklik geword om ’n “Kollegebiblioteek en Museum” te stig. Danksy ’n ruim skenking van ’n weldoener van Stellenbosch, mnr. C.L. Marais, is die oprigting van ’n biblioteekgebou – na hom vernoem – in 1901 voltooi.

Die eerste bibliotekaris was mnr. J.H. Rose, en teen 1904 het die biblioteek 1 000 boeke besit. Met die stigting van die Universiteit Stellenbosch in 1918 het die C.L. Marais-biblioteek sy rol voortgesit. Mnr. G.V. (George) Marais is in 1926 as Bibliotekaris aangestel en het tot 1967 as Hoofbibliotekaris gedien.

’n Nuwe denkrigting

In 1926 het die C.L. Marais-biblioteek ’n uitbreiding benodig, en teen 1938 was dit duidelik dat ’n heeltemal nuwe benadering nodig was. ’n Skenking van die Skots-Amerikaanse miljoenêr Andrew Carnegie, saam met bydraes van oud-studente, het die bou van die Carnegie-biblioteek moontlik gemaak, wat vir die volgende 50 jaar die Universiteitsbiblioteek sou wees.

In 1967 is mnr. Francois du Plessis, wat in 1945 by die biblioteek aangesluit het, as Universiteitsbibliotekaris aangestel.

Die biblioteek gaan ondergronds

Die bou van die huidige gebou, die JS Gericke-biblioteek – vernoem na ds. J.S. (Kosie) Gericke, wat van 1952 tot 1981 as Visekanselier gedien het – het in 1981 begin.

Die gebou neem die unieke ligging in onder die sentraal geleë Jan Marais-plein. Die historiese belangrikheid van die plein het beteken dat die terrein nie met ’n multi-verdiepingstruktuur ontsier kon word nie.

Prof. J.H. (Hennie) Viljoen het in 1984 Direkteur van die Biblioteek- en Inligtingsdiens geword. Mylpale tydens hierdie tydperk sluit in die rekenarisering van die Biblioteek- en Inligtingsdiens; die ontwikkeling van ’n versamelingsbeleid en ’n formule vir die toekenning van fondse; die instelling van ’n suksesvolle kommersiële inligtingsdiens, Infobank; en ’n formele ooreenkoms vir streeksamewerking tussen die voormalige vyf tersiêre instellings in die Wes-Kaap.

Me. Ellen R. Tise is in 2006 as Senior Direkteur: Biblioteek- en Inligtingsdienste aangestel. Sy het verskeie noemenswaardige leierskapsrolle vervul en onder andere van 1998–2002 die eerste President van die Library and Information Association of South Africa (LIASA) gedien en van 2009–2011 President van die International Federation of Library Associations and Institutions (IFLA).

Reaksie op ’n veranderende wêreld

In die afgelope twee dekades het die Biblioteek ingrypende veranderinge ondergaan, met nuwe ruimtes en dienste om tred te hou met vinnige tegnologiese en pedagogiese ontwikkelinge. In 2008 is SUNScholar, die Universiteit se institusionele bewaarplek vir navorsingsuitsette, ingestel, gevolg in 2011 deur SUNJournals, ’n ooptoegang-joernaalplatform.

Ook in 2011 is die Leersentrum – ’n stimulerende leeromgewing en lewendige verlengstuk van die klaskamer – en die Carnegie Navorsingsruimte, ’n navorsingsruimte vir meesters- en doktorale studente en navorsers, in die US Biblioteek geopen.

Gedurende hierdie periode het die skuif na elektroniese bronne vinnig toegeneem, en die Biblioteek het sy tegniese en kliëntedienste aangepas om aan hierdie tendense te voldoen. Dit het gelei tot die stigting van nuwe afdelings soos Vakkundige Kommunikasie en Navorsingsdatadienste. Uit hierdie afdelings is SUNDigital Versamelings, ’n digitale erfenisbewaarplek, en SUNScholarData, ’n navorsingsdatabewaarplek, ontwikkel. Die Innovasieruimte is in 2020 bekendgestel en bied ’n innoverende omgewing vir samewerkende prototipering, uitvinding en leer.

Onlangse jare

Die hoofbiblioteek is in 2017 herdoop tot die Universiteit Stellenbosch Biblioteek. Oor die afgelope dekade het die US Biblioteek, sowel as die Ingenieurswese-, Bosbou-, en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe-biblioteke, fisiese opgraderings ondergaan. Die Biblioteek neem steeds internasionale standaarde aan deur tegnologie te gebruik, innoverend te dink en hoëgehalte virtuele en persoonlike navorsings- en leerervarings vir die akademiese gemeenskap te bied.

Om hierdie rede het die Biblioteek verskeie internasionale konferensies aangebied, soos Open Repositories in 2023, die International Association of Music Libraries, Archives and Documentation Centres in 2024, en oor die jare ook sy eie Biblioteeksimposium, wat kundigheid van regoor die wêreld lok.

Meer inligting oor hierdie en ander inisiatiewe kan gevind word in die Biblioteek se jaarverslae.