Skip to main content
Noorweegse/Stellenbosse navorsingsprogram herleef

Noorweegse/Stellenbosse navorsingsprogram herleef

Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking-Sandra Mulder
18 Maart 2022

Die INTPART-program, wat samewerking op die gebied van hoëronderwys, navorsing en innovasie tuusen Suid-Afrika en Noorweë bevorder, het op indrukwekkende wyse herleef nadat die Covid-19-pandemie die program vir bykans twee jaar in sy spore gestuit het. 

Die eerste groep van nege opgewonde en entoesiastiese Noorweegse studente van die Nord University Business School (NUBS) en die Western Norway University of Applied Sciences (HVL) het op 5 Maart by die Universiteit Stellenbosch (US) aangekom met die doel om vergelykende navorsing vir hul meestersgraad- en PhD-tesisse te doen oor die onderwerpe van entrepreneurskap, entrepreneur-ekostelsels, tegnologie-oordragkantooraktiwiteite (TOK), volhoubare entrepreneurskap en volhoubare konstruksie.

“Hierdie is die eerste geleentheid vir Noorweegse studente om na die US te kom sedert die ooreenkoms in 2019 onderteken is," het Adolph Neethling, lektor in die Departement Besigheidsbestuur aan die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, gesê. Hy bestuur die program saam met prof Inger Beate Pettersen van die HVL in Bergen as verteenwoordigers van hul onderskeie lande.

2D1A8171.JPG
Die herlewing van die program het ook meegebring dat vier studente van onderskeidelik die US en die Universiteit van Pretoria (UP) na Noorweë vertrek het vir ʼn internskap van drie maande in Bergen. Op hul beurt het vyf Noorweegse studente in Stellenbosch aangekom vir ʼn internskap van drie maande.

“Die studente is opgewonde en dankbaar dat hulle weer kan reis om hul studies voort te sit," het Pettersen, wat die studente van Noorweë na Suid-Afrika vergesel het, gesê.

Om deelnemers op die hoogte van die program te hou het die Departement Besigheidsbestuur verlede week ʼn kuiergeleentheid gehou vir Suid-Afrikaanse studente wat teruggekeer het nadat hulle tydens die inperking in 2020 in Noorweë vasgekeer was. Die US het die Noorweegse studente tegelykertyd in Suid-Afrika verwelkom.

“Hulle is die eerste groep wat sedert die aanvang van die INTPART-program hierheen kon kom. Die program kon weens die pandemiebeperkings nie verlede jaar voortgesit word nie. Dit is dus ʼn spesiale geleentheid vir hulle," het Pettersen gesê.

Hy het intussen na Noorweë teruggekeer om die US-studente wat daar aangekom het, te verwelkom.

By die kuiergeleentheid is die Noorweegse studente voorgestel aan twee alumni, Minette Siebenhagen van die US en Paleesha Naidoo van die UP. Hulle het vertel van hul leerervaring as die eerste Suid-Afrikaanse INTPART-studente wat in Maart 2020 Noorweë toe is. Hulle het ʼn paar dae voor die wêreldwye inperkings daar aangekom en kon Noorweë nie verlaat voordat hulle toegelaat is om weer te reis nie. Hulle was tevrede om hul navorsingstake af te handel terwyl hulle in Noorweë vasgekeer was, het Pettersen gesê.

Die alumni het saamgestem dat die program hulle gehelp het om meer geleenthede raak te sien en te benut terwyl hulle uitdagings aangepak, nuwe kulture leer ken en meer oor hulself geleer het. Die uitruilprogram het personeellede en studente ook aan kulturele verskille blootgestel, wat ʼn verrykende ervaring was.

INTPART-gemeenskap

Die deelnemers aan die program, met inbegrip van die alumni wat steeds betrokke is en dit ondersteun, is besig om ʼn gemeenskap te vorm, het Pettersen gesê. Noue vennootskappe is juis een van die doelwitte van die program: om lande te verbind en die deel van kennis, vergelykende navorsing en samewerking te bevorder. Dit dra by tot die bou van ʼn globale dorp wat saamwerk om uitdagings op te los wat die wêreld raak, het hy bygevoeg.

Volgens Pettersen het die program ten doel om studente te help om entrepreneurskapsdenke te ontwikkel en met kennis en ervaring van verskillende kultuur- en bedryfsomgewings toe te rus.

Neethling het bygevoeg dat die wisselwerking nie net vir akademici bedoel is nie. Só het vrugbare samesprekings plaasgevind tussen dr Anita Nel en Joubert de Wet van Innovus (ʼn afdeling van die US wat verantwoordelik is vir tegnologie-oordrag, steun vir en ontwikkeling van entrepreneurs en innovasie) en Nils-Eivind Holmedal, ʼn uitvoerende beampte van die streeks-TOK in Bergen wat saam met Pettersen en ʼn meesterstudent van dieselfde TOK werk.  

Oorsprong van die program

Die INTPART-program behels drie Noorweegse en twee Suid-Afrikaanse universiteite wat finansiering bekom het vir een INTPART-projek om wederkerige studente- en fakulteitsmobiliteit moontlik te maak in ʼn strewe om entrepreneurskapsonderrig in noue samewerking met die streeksekostelsels te bevorder. Die vyf vennote het in 2019 met hul eerste werksessie begin.

INTPART word ook beskryf as ʼn vennootskapsvormende en bilaterale platform tussen universiteite en industrieë. Die projek word befonds met 4,5 miljoen Noorweegse krone (sowat R7,5 miljoen).  

Volgens Neethling was die oorspronklike samewerkingsooreenkoms vir drie jaar geldig en ondersoek die vennote ʼn nuwe ooreenkoms om voort te bou op die samewerking wat tot dusver gevestig is.

Die program se mandaat is om vennootskappe aan te moedig tussen rolspelers in universiteite en nywerhede in Noorweë en Brasilië, Rusland, Indië, China of Suid-Afrika (die Brics-lande) ten einde navorsing, hoëronderwys en innovasie te bevorder, het Pettersen gesê.

Neethling het bygevoeg die missie is om navorsing te bevorder, maatskappye van alle sektore met mekaar te verbind en oplossings vir nywerheids- en maatskaplike uitdagings te help skep.

Volgens Pettersen het ander universiteite in Noorweë ʼn soortgelyke vennootskapsooreenkoms met ander Brics-lande.

Uitruilstudente

SU and Norway (27).JPG
Die twee US-studente wat Noorweë toe is, is Maret Swart en Joss Hansmeyer.

Die vyf Noorweegse interns, Gard Eriksen, Iselin Østvedt, Kristine Flatøy, Jørgen Skaftun and Anders Eri, sal internskappe van drie maande by beginnerondernemings in en om Stellenbosch voltooi. Hulle fokus op entrepreneurskaps- en innovasiestudies.

Die US se Launchlab en nywerheidskonsultante het die studente gehelp om beginner- en ander ondernemings te vind wat vir hul internskappe en navorsing relevant is en met hulle kontak te maak.

Neethling het gesê die program bied nagraadse studente die geleentheid om saam met bedryfspanne van alle sektore in die gasheerland te werk en tegelyk insig te verkry in begin- tot laatstadium-navorsing, tegnologieë en konsultantvaardigheid.

Ander ontwikkelings

  • Kelvin Ivankovic, een van die vier US-studente wat gedurende die 2020-inperking in Noorweë vasgekeer was, het ʼn beurs gekry om sy PhD in dié land te voltooi.
  • Suid-Afrikaanse studente sal later in 2022 na Noorweë reis om vergelykende navorsing vir hul meesterstesisse te doen.
  • Die universiteite is verbind tot gesamentlike oorsig van die PhD-studente.
  • Fakulteite van al vyf universiteite sal in September 2022 aan ʼn werksessie deelneem om aan ʼn spesiale uitgawe vir publikasies te werk. 
  • In Julie 2022 sal al die deelnemende universiteite aan ʼn week lange innovasiewerksessie in Pretoria deelneem, waar 40 studente van verskillende universiteite saam nuwe sake-idees sal ontwikkel.

Hooffoto: Die studente, alumni en personeellede wat die kuiergeleentheid bygewoon het, was (van links na regs): Svein-Inge Solås, Henrik Tvinnereim, , Martin Olaf Quist, Kristian Wikse, Oda Camilla Rykkje, Paleesha Naidoo, Kelvin Ivankovic, Adolph Neethling, Minette Sieberhagen.​

Fotograaf: Sandra Mulder