
US bou datawetenskaplike vermoë in Afrika
Suid-Afrika en die Afrikavasteland het baie om die res van die wêreld te leer. Met sy jeugdige en leergierige bevolking is Afrika 'n ideale omgewing om datawetenskap te gebruik om geleenthede vir die vasteland en die wêreld te skep wat lewens sal verbeter.
Dít was die boodskap van prof Kanshukan Rajaratnam, direkteur van die Universiteit Stellenbosch (US) se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, toe hy in 'n onlangse aanlyn praatjie deur US Internasionaal as hoofspreker opgetree het. Meer as 200 US-belanghebbendes het vir die geleentheid ingeskakel.
Rajaratnam het in sy aanbieding meer vertel oor wat die US doen om datawetenskaplike vermoë in Afrika te bou, en het ook geleenthede op dié gebied vir instellings wêreldwyd uitgelig.
Hy glo datawetenskap kan oor die hele Afrikavasteland op die terreine van gesondheid, water, landbou, onderwys, klimaat en energie gebruik word. “Ons moet ons eie data in Afrika versamel en stoor sodat ons dit kan gebruik om ons eie probleme op die vasteland op te los. Trouens, data kan ontleed en gebruik word om die lewensgehalte van alle burgers wêreldwyd te verbeter," het Rajaratnam gesê.
Die US het sy Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke in Julie 2019 op die been gebring met die visie om 'n wêreldklasinstelling vir datawetenskap en rekenaardenke ín en vír Afrika te wees. Die Skool is sedertdien hard aan die werk om nie-konvensionele, transfakulteit- en interdissiplinêre benaderings tot onderrig en navorsing op die gebied van datawetenskap en rekenaardenke by die Universiteit te fasiliteer.
Die Skool se Afrikadatawetenskapakademie is vroeër vanjaar tot stand gebring om uitvoering te gee aan die missie om menslike vermoëbou in datawetenskap en rekenaardenke by die Universiteit, in Suid-Afrika, op die res van die vasteland en wêreldwyd te fasiliteer. Die akademie se aanbod sluit in oop, algemene kursusse, sowel as pasgemaakte kursusse wat vir die US se bedryfs- en akademiese vennote ontwikkel word.
Die Skool het tot dusver met verskeie hoëronderwys- en internasionale instellings saamgewerk, waaronder Harvard-universiteit en die Massachusetts Instituut vir Tegnologie in die Verenigde State, sowel as die Verenigde Nasies. Volgens Rajaratnam wil die Skool graag in die nabye toekoms sy samewerkingsnetwerk verder uitbrei.
Met siekteopsporing en -voorkoming 'n topprioriteit te midde van die voortslepende wêreldwye stryd teen COVID-19, het Rajaratnam geïllustreer hoe datawetenskap en kunsmatige intelligensie 'n kerninstrument geword het om die wêreldbevolking veilig te hou. Hy het vertel hoe kunsmatige intelligensie ingespan word om 'n griepagtige virus in Wuhan op te spoor en sterftes onder kwesbare groepe gedurende die COVID-19-pandemie te verlaag. “Sonder datawetenskap sou die pandemie erger gewees het. Datawetenskap is gebruik vir diagnostiese instrumente, virusontdekking, farmaseutiese ontwikkeling en verskeie ander aspekte om 'n oplossing vir die pandemie te skep."
Datawetenskap speel ook 'n al hoe groter rol in die sakewêreld, het hy gesê. As voorbeeld het hy na Matiestudente se innoverende inskrywings vir die aanlyn Tegnothon van 2020 verwys. Studente is gevra om met oplossings vorendag te kom wat kleinsake kan help om doeltreffend in die sakelandskap ná COVID-19 te funksioneer. Dít, volgens Rajaratnam, is 'n goeie voorbeeld van die