Skip to main content
#WomenofSU: Toeganklike gesondheidsorg is noodsaaklik vir vroue se toekoms

#WomenofSU: Toeganklike gesondheidsorg is noodsaaklik vir vroue se toekoms

Sandra Mulder
12 Augustus 2020

​Toeganklike gesondheidsorg is 'n uiters belangrike beleidshefboom om uit armoede te kom, sê dr Anja Smith, wat deel uitmaak van RESEP, 'n groep navorsers in die Departement Ekonomie van die Universiteit Stellenbosch. Saam met haar kollegas verken Smith kwessies van armoede, inkomsteverdeling, sosiale mobiliteit, ekonomiese ontwikkeling en maatskaplike beleid.

Smith stel veral in die gesondheidstelsel belang, en haar werk beklemtoon die belangrike rol wat behoorlik funksionerende gesondheidstelsels in die lewens van individue, veral vroue, speel. Sy vertel ons meer van haar navorsing, en hoe dit 'n verskil in die lewens van vroue in Suid-Afrika maak.

Vertel ons meer van jou navorsing.

Ek is 'n ekonoom wat op die gesondheidstelsel konsentreer: gesondheidsoekende gedrag, die kruising tussen die aanbod- en vraagkant, en die gehalte van gesondheidsorg. Op dié gebied het ek al verskeie navorsingsprojekte oor die rol van gender in gesondheidsoekende gedrag en seksuele en voortplantingsgesondheidsorg onderneem. Ek het al die tydsberekening van toegang tot voorgeboortesorg vir sowel volwasse vroue as adolessente in die Wes-Kaap bestudeer, die gehalte van voorbehoedingsgesondheidsorg in Suid-Afrika gemeet, en ook genderverskille in gesondheidsoekende gedrag vir tuberkulosesimptome ondersoek.

Waarom of hoe is jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsgebied aangewakker?

Ek is passievol daaroor om ontwikkelingsprobleme op te los wat mense in staat stel om uit armoede te kom, of wat keer dat hulle in die eerste plek in armoede beland. Toeganklike gesondheidsorg van gehalte is 'n baie belangrike beleidshefboom om uit armoede te kom of te bly.

Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir Suid-Afrikaanse vroue?

Voorbehoedingsgesondheidsorg van gehalte is noodsaaklik vir vroue se toekoms. Onbeplande swangerskappe kan uiters negatiewe gevolge hê vir vroue se gesondheid (soos moedersterftes), opvoedkundige prestasie, outonomie en deelname aan die arbeidsmark, sowel as vir vroue en hulle (ander) kinders se algehele gesondheid en welstand.

Voorgeboortesorg van gehalte op die regte tyd gedurende swangerskap is deurslaggewend vir die gesondheid van vroue en hulle babas. Suid-Afrika het 'n hoë moedersterftesyfer. Baie van hierdie sterftes kan deur goeie voorgeboortesorg voorkom word. Vroue wat op die regte tyd goeie voorgeboortesorg ontvang, skenk die lewe aan gesonder babas. Ons weet dat goeie gesondheid by geboorte voordele inhou vir 'n individu, nie net as kind nie (beter opvoedkundige prestasie), maar ook as volwassene (verdienste in die arbeidsmark).

Wat dink jy is die grootste impak van jou navorsing op vroue in die land?

Ek was onlangs bevoorreg om aan die gesondheidsafdeling van die opname NiDS-CRAM (“National Income Dynamics Study – Coronavirus Rapid Mobile") te werk. Hierdie omvattende, nasionaal verteenwoordigende opname meet onder meer die impak van die nuwe koronavirus en die regering se inperkingsreaksie op mense se gesondheidsoekende gedrag.

Ons het 'n afsonderlike opname, die CRAM-MATCH (“Coronavirus Rapid Mobile for Maternal and Child Health")​, gedoen, wat meer spesifiek gekonsentreer het op vroue wat onlangs 'n baba gehad het of tans swanger is. Ons het bevind dat baie van hulle nie in die onlangse tyd toegang tot belangrike gesondheidsorg vir hulle babas óf vir hulleself (gedurende swangerskap) gekry het nie. Hierdie bevindinge is wyd aan beleidvormers oorgedra, wat nou hopelik diensleweringsoplossings sal instel om te sorg dat swangerskapsorg en inentings nie gedurende die inperking onderbreek word, of dat mense nie uit vrees vir die virus van belangrike gesondheidsorg wegbly nie. Ons het goeie terugvoer van ons vennote in die regering ontvang, en weet dat hulle ons verslag op hierdie sensitiewe tyd vir ons land lees en oorweeg.

Ek het onlangs 'n werksessie met amptenare van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement bygewoon. Ons het gesels oor die navorsing waarby ek betrokke was waar ons die gehalte van voorbehoedingsorg in die Wes- en Oos-Kaap gemeet het. Een van die staatsdokters in die vertrek het gesê hy was “gaande oor die navorsing". Sulke tekens toon dat beleidvormers erns maak met my navorsing, en dat dit hopelik sal lei tot veranderinge in hoe gesondheidsorgdienste gelewer word om ook kwesbare vroue te bereik.

Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?

Soek 'n navorsingsgebied waaroor jy passievol is, en identifiseer goeie mentors op daardie gebied. Dit hoef nie noodwendig vroue te wees nie. Ek is gelukkig genoeg om in my loopbaan uitstekende vroue én mans as mentors te hê.

As jy in jou navorsing glo, voer dit enduit deur. Akademiese navorsing voel dikwels na 'n lang uitgerekte proses, maar daar is belonings op verskeie punte langs die pad. Vier elke mylpaal (selfs net wanneer jy 'n tydskrifartikel indien) en moenie jouself kasty as jou navorsing dalk nie op vrugbare grond val nie. As jy aan belangrike en waardevolle navorsingskwessies werk waaroor jy passievol is, sal jou werk uiteindelik die regte gehoor bereik. En wanneer jy sukses op jou navorsingsterrein behaal, bly nederig en gaaf.