Skip to main content
US maak ’n verskil in Stellenzicht-leerders se lewens

US maak ’n verskil in Stellenzicht-leerders se lewens

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
26 Julie 2019

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling vir Sosiale Impak het Vrydag sy Mandelaweek-aktiwiteite op 'n prettige noot by die Stellenzicht Sekondêre Skool afgesluit.

Die afdeling was die afgelope tyd hard aan die werk om leiding te gee aan en verskeie projekte en inisiatiewe te organiseer waaraan studente en personeel kon deelneem om mee te doen aan die Mandeladag-vieringe. Die afdeling se oproep tot aksie vestig die aandag op die doelwitte van Mandeladag, wat amptelik op 18 Julie gevier is, om gehalte-onderrig aan alle kinders te verskaf, om hongersnood te verminder, om veilige skuiling aan gesinne te bied en sanitasie aan elke skool en gemeenskap te verskaf en om meer hulpmiddelle beskikbaar te stel vir die uitroeiing van armoede.

Die Afdeling vir Sosiale Impak het Vrydag, 26 Julie, 'n prettige, interaktiewe samewerkende gemeenskapsgeleentheid by die Stellenzicht Sekondêre Skool in Jamestown gehou. Leerders is blootgestel aan 'n loopbaanuitstalling, 'n seepkis-debat wat deur Words Open Worlds (WOW) gefasiliteer is, 'n ses-aan-'n-kant sokkertoernooi en 'n Amazing Reading Race, terwyl 'n gemeenskapentrepreneursmark ook in samewerking met Ranyaka en die Jamestown Sakeforum aangebied is.

Renee Hector-Kannermeyer, adjunkdirekteur van die US se Afdeling vir Sosiale Impak, het gesê hul afdeling wou buite die Universiteit se akademiese ruimte en nader aan die omliggende gemeenskappe beweeg. 

“Ons wil 'n teenwoordigheide skep en ook die US as 'n hulpbron nader aan die mense vestig. Die leerders moet weet dat ons by die US mense is en dat ons in hulle belangstel; hul stories is belangrik en hul toekoms maak vir ons saak. Ons is hier as 'n ondersteuningspan. Daarbenewens wil ons ook hê die leerders moet hier weggaan en aan hul toekoms dink. Ons wou wegbreek van hul alledaagse take, toetse en werksopdragte en op dít wat die Universiteit Stellenbosch bied, fokus en die leerders help om hul vakkeuses met inagneming van toelating tot ons Universiteit te maak," het Kannermeyer gesê.

Volgens die skoolhoof van Stellenzicht Sekondêre Skool, Lester Allies, het die vennootskap tussen die US en die skool sy onstaan in 2011 gehad en het dit die skool al ongelooflik baie gehelp. Hy glo dat die Mandeladag-aktiwiteite wat by hul skool aangebied word, 'n belangrike rol in die bou van die leerders se selfvertroue speel deur hulle aan nuwe geleenthede bloot te stel en hulle te help om die kringloop van armoede te verbreek.

“Die skool is in 'n redelike welvarende gemeenskap geleë, maar 90% van ons leerders se ouers is plaaswerkers. Vir my is die belangrikste ding vir ons leerders dat hulle ná skool verder studeer sodat hulle uit die kringloop van armoede kan wegbreek. Indien ons die leerders sover kan kry om te studeer nadat hulle die skool verlaat, het ons ons doelwit bereik," het Allies gesê.

Nog 'n belangrike vennootskap vir die skool is die WOW-projek. WOW is 'n US Woordfees-opvoedingsbemagtigingsprojek wat regdeur die jaar saam met die skool werk. Daar word onder meer skrywersbesoeke aan die skool gereël, asook 'n kampustoer vir uitgesoekte leerders gedurende die Woordfees in Maart elke jaar en die skool neem ook aan WOW se debat- en spelfees deel.

Fiona van Kerwel, projekbestuurder by WOW, het gesê die skool is soos familie vir hulle en een van die fokusskole in die Stellenbosch-gebied.

“Dit is vir ons by WOW 'n eer en 'n voorreg om hulle te ondersteun omdat een van ons missieverklarings is om potensiaal te ontdek, dit te ontwikkel en op die ou einde 'n klein juweeltjie die wêreld in te stuur. Die impak wat ons hoop om te maak, is om die kinders werklik aan die dink te sit. Hulle het die geleentheid om buite hul gemaksone te beweeg. Om nuwe dinge te bereik, om hul eie potensiaal waarvan hulle nie eens bewus was nie, te ontdek," het Van Kerwel gesê.