Skip to main content
Toegang met sukses: Die volgende generasie STEM-beroepslui

Toegang met sukses: Die volgende generasie STEM-beroepslui

Student Recruitment | Studentewerwing
25 Julie 2023

Die Kutlwanong-sentrum vir wiskunde, wetenskap en tegnologie is 'n nieregeringsorganisasie wat daartoe verbind is om die gehalte en getalle van jongmense in townships en landelike gebiede wat in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (STEM) presteer, te versnel. Die sentrums beoog om 'n talentvolle poel jong swart beroepslui te groei en te koester om loopbane op die gebied van STEM te volg. Daar is 17 sentrums in 7 provinsies. Buiten die jaarlikse besoeke wat die Afdeling vir Studentewerwing en verteenwoordigers van die fakulteite AgriWetenskappe, Ingenieurswese, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en Natuurwetenskappe aan alle nasionale sentrums aflê, het die Wes-Kaapse sentrums op Saterdag, 22 Julie 2023, die kampus besoek. 

Die studentewerwingspan, fakulteite en 'n groep studente-ambassadeurs het graad 12-leerders op die Stellenbosch-kampus verwelkom om 'n smaak van Matieland te ervaar. Fakulteitskundiges het 'n demonstrasie van “Wetenskap in aksie" gegee om leerders nie net te oortuig om by die US aansoek te doen nie, maar ook om aansoek te doen vir programme wat die beste by hulle pas sodat hulle toegang met sukses en 'n beter transformerende studente-ervaring het. 

Die groep van 350 toppresteerders het meer as 30 hoërskole in Philippi en Khayelitsha verteenwoordig. Dit was vir die meerderheid van die groep die eerste keer wat hulle die geleentheid gehad het om die eikeboomryke strate van Stellenbosch te ervaar. Dit was 'n belangrike betrokkenheidsgeleentheid vir die studentewerwingspan, aangesien baie van die skole wat verteenwoordig was as nuwemarkskole vir die instelling beskou word. 

Betrokke studente het werklike verhale vertel van hoe die instelling 'n gevoel van gemeenskap en aanvaarding skep en het meegedeel wat hulle gelok het om aan die US te studeer en hoe voornemende Maties beter vir universiteit kan voorberei.

Beide personeel en studente is opgewonde om die US se visie saam vorentoe te neem.