Skip to main content
‘SA moet verbind bly tot bevordering van menseregte’ – regter Pillay

‘SA moet verbind bly tot bevordering van menseregte’ – regter Pillay

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
21 Mei 2021

Hoewel Suid-Afrika dikwels al 'n belangrike rol in verskeie dringende menseregtekwessies gespeel het, is sy deelname aan internasionale menseregtereg 'n bron tot kommer.

Só het die Verenigde Nasies (VN) se voormalige Hoë Kommissaris vir Menseregte, regter Navi Pillay, op Donderdag (20 Mei 2021) gesê. Sy was die geleentheidspreker by die 15de Jaarlikse Menseregtelesing van die Fakulteit Regsgeleerdheid by die Universiteit Stellenbosch (US). Die lesing, wat virtueel plaasgevind het, is deel van die Fakulteit Regsgeleerdheid se eeufeesvieringe en is deur die bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg by die US, prof Sandy Liebenberg, saam met die Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, prof Nicola Smit, aangebied.

Pillay het in haar toespraak probeer aandui dat Suid-Afrika nie altyd sy woord gestand gedoen het rakende die nakoming van die beginsels van internasionale menseregtereg nie.

“Ons skakeling met die hui​dige konstellasie van internasionale menseregte-instellings was tot dusver uiteenlopend; positief in sommige gevalle en twyfelagtig in ander. Suid-Afrika se rekord van intervensies ter beskerming van menseregte binne VN-liggame is inkonsekwent en dikwels strydig met ons grondwetlike beginsels van menseregte en geregtigheid vir slagoffers."

Pillay het bygevoeg dat hoewel Suid-Afrika alle belangrike VN-menseregteverdrae bekragtig het, die land teen sekere onlangse VN-resolusies gestem het wat daarop gemik was om mense teen geweld en diskriminasie te beskerm.

“Suid-Afrika het hom tot vermydingstaktieke gewend om homself daarvan te weerhou om menseregte-beskermingsmaatreëls binne die konteks van konflik te ondersteun, selfs waar VN-agentskappe en burgerlike organisasies geloofwaardige bewyse gelewer het van reuseskendings van internasionale menseregtewette en internasionale humanitêre wette."

Volgens Pillay was dit gedurende haar termyn as hoë kommissaris vir haar pynlik om toe te kyk hoe ons regering nie op die uitgebreide ondersoeke en verslae van haar kantoor reageer het oor massiewe burgerlike slagtings, seksuele geweld en gedwonge ontworteling gedurende gewapende konflik in lande soos Sirië, Irak, Soedan en Sri Lanka nie.

“Suid-Afrika kan meer doen vir diegene wat chemiese wapenaanvalle in Sirië, volkslagting in Soedan of etniese suiwering elders in die gesig staar."

Sy het bygevoeg dat Suid-Afrika tydens sy eerste ampstermyn as 'n nie-permanente lid van die Veiligheidsraad nie resolusies ondersteun het wat menseregtevergrype in Zimbabwe en Mianmar veroordeel het nie.

Pillay het wel daarop gewys dat ons, ten spyte van hierdie tekortkomings, nie Suid-Afrika se rol in vredespogings, mediasie en heropbouingpogings in konflikgeteisterde gebiede in Afrika kan ignoreer nie.

“Suid-Afrika speel 'n belangrike rol in VN-liggame en die Afrika-unie, terwyl dit tot die vrede- en veiligheidstrukture in beide hierdie instellings bydra en dit ondersteun. Suid-Afrika se kritieke bydrae om burgerlike lewens in konflikte in Afrika te red, kan nie onderskat word nie."

Pillay het 'n beroep op Suid-Afrika gedoen om daartoe verbonde te bly om menseregte 'n onaanvegbare en onaantasbare deel van sy reg en politieke stelsel te maak.

Sy het ons regering aangespoor om tot sy verklaarde verbintenis tot grondwetlike regte en waardes en hul beloftes van implementering verbind te bly, gegewe dat menseregte en demokratiese waardes die grondbeginsel van ons grondwet is.

“Suid-Afrika moet 'n rol daarin speel om die gesag van die Veiligheidsraad op die gebied van menseregte uit te brei en om die gebruik van die veto in gevalle van reusemenseregteskendings te beperk," het Pillay gesê.

  • ​Foto van regter Navi Pillay met vergunning van Wikimedia Commons.