Navorser kyk hoe olyfboere stamsiektes kan keer
Daar is heelwat maniere waarop olyfboere kan keer dat stamsiektes hul boorde infekteer. Dit help onder meer om bome te snoei wanneer daar min vog in die lug is, om snoeiwond-beskermingsmiddels binne 'n week na 'n snoeisessie aan te wend, en om snoeirommel uit boorde te verwyder. Hierdie raad kom uit die doktorale navorsing van dr Meagan van Dyk van die Strand, wat haar doktorsgraad in plantpatologie in April aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.
Dr Van Dyk se navorsing is befonds deur die LNR Infruitec-Nietvoorbij, die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en die Departement van Handel en Nywerheid (DTI) se THRIP-program, in samewerking met die Suid-Afrikaanse olyfbedryfsvereniging SA Olive. Sy was vier jaar lank daarmee besig, en was vir die duur van haar projek by die Landbounavorsingsraad se Nietvoorbij-kampus op Stellenbosch gebaseer. Haar studieleiers was prof Francois Halleen (LNR Infruitec-Nietvoorbij), prof Lizel Mostert (US Departement Plantpatologie) en dr Chris Spies (LNR Plantgesondheid en Beskerming).
“Die Suid-Afrikaanse olyfbedryf produseer olyfolie van 'n besonderse hoë gehalte. Die onlangse Olyfsektor Ontwikkelingsplan van die Departement van Handel en Nywerheid het egter lae produksie en 'n gebrek aan plaaslike navorsing uitgelig as leemtes waarmee die industrie sukkel. Die effektiewe bestuur van peste en siektes, insluitend stamsiektes, vorm dus 'n integrale deel van 'n poging om die lewensduur en opbrengs van bestaande olyfbome te verbeter, en om sodoende olyfproduksie in veral die Wes-Kaap te verhoog," sê prof Halleen, wat benewens sy werk by die LNR ook 'n buitengewone assosiaat-professor in die US Departement Plantpatologie is.
Volgens prof Halleen het stamsiektes gewoonlik 'n lang, uitgerekte effek op bome. Dit begin by die afsterf van lote, en versprei mettertyd na die res van 'n boom. Hy reken egter dat boere wat 'n goeie oog op hul bome hou en dit goed bestuur, steeds goeie oeste kan kry.
Dr Van Dyk het gedurende die loop van haar navorsing 33 fungusspesies in gevestigde boorde en kwekerye geïdentifiseer wat moontlik stamsiektes veroorsaak. Sy het ook 'n nuwe Pseudophaeomoniella spesie geïdentifiseer. Dié kom wydverspreid in boorde en in 'n mindere mate in kwekerye voor, en word beskou as die een enkele patogeen wat die meeste skade ten opsigte van stamsiektes sou kon aanrig.
SNOEI
Snoeiwerk speel 'n belangrike rol in die instandhouding van boorde, en verbeter uiteindelike olyfproduksie. Dit word ook gedoen om siektes te beheer. Sodoende word die hoeveelheid sonlig wat in 'n boord val verhoog, asook die lug wat daardeur kan beweeg. Dit help ook dat plaagbeheermiddels eenvormig oor bome aangewend kan word.
Snoeityd is egter ook die tyd op 'n olyfplaas wanneer bome veral vatbaar is vir infeksies. Volgens dr Van Dyk se navorsing is bome die mees vatbare binne die eerste week nadat hulle gesnoei is. In sommige gevalle het infeksies deur die Pseudophaeomoniella spesie egter tot 42 dae later steeds voorgekom.
Nie een enkele seisoen (winter of lente) het uitgestaan waarin dit noodwendig beter is om snoeiwerk te doen in 'n poging om infeksies deur stamsiektepatogene te vermy nie. Hoe meer vog in die lug was, hoe groter was die kans egter dat infeksies sou plaasvind.
Daarom gee dr Van Dyk die volgende raad in terme van die snoeiproses:
- Snoei wanneer daar min vog in die lug is, ongeag van watter seisoen dit is.
- Wend snoeiwondbeskerming aan binne die eerste week nadat 'n tak gesnoei is.
- Dit help nie net om groter takke wat van geïnfekteerde bome afgesny is uit boorde te verwyder en te brand nie. Kleiner takke wat gewoonlik opgekerf word moet ook verwyder word, want hulle kan steeds 'n skuiling bied vir mikrobiese populasies en dus verdere infeksies veroorsaak.
SNOEIWONDBESKERMING
Met betrekking tot die gebruik van snoeiwondbeskerming het dr Van Dyk bevind dat:
- Onder hoë vlakke van infeksies het Tree Seal en Coprox Super/Bendazid die beste beskerming gebied teen die Pseudophaeomoniella-spesie.
- Tree Seal verskaf ook goeie beskerming aan snoeiwonde indien infeksievlakke laag is.
- Wanneer infeksies laag is, help MT1, 'n Trichoderma-gebasseerde produk wat deur die US Departement Plantpatologie ontwikkel word, om die voorkoms van die Pseudophaeomoniella spesie binne die eerste week nadat bome gesnoei is te verminder.
Dr Van Dyk se proewe met MT1 is op “Frantoio" olyfbome gedoen.
“Volgens die bevindinge lyk dit asof MT1 doeltreffend gebruik kan word om stamsiektes te beheer wat sou kon ontwikkel op snoeiwonde in goed-bestuurde 'Frantoio' boorde wat nie hoogs geïnfekteer is nie," reken sy.
Sy sal graag verdere navorsing wou sien oor die gebruik van snoeiwondbeskermers op ander olyfkultivars in verskillende klimaats- en geografiese sones, en hoe doeltreffend hulle ook ander olyfstampatogene soos Botryosphaeriaceae en Phaeoacremonium spesies kan beveg.
KWEKERYE
Gedurende haar studies het dr Van Dyk ook opnames by twee kwekerye gedoen. Sy het gevind dat sommige jong olyfbome in potgrond geplant is wat met Phaeoacremonium parasiticum en Pleurostoma richardsiae besmet was.
“Die feit dat sommige 1 tot 2 jaar-oue boompies en grond uit kwekerye met belangrike stamsiekte-patogene besmet was, wys net hoe belangrik dit is om baie streng siektebeheermaatreëls in plek te hê. Dis nodig sodat kwekerye siektevrye plantmateriaal aan boere vir aanplanting kan verskaf," sê dr Van Dyk. “Dit sal nodig wees om verdere ondersoek in te stel om te kan uitvind of dit slegs geïsoleerde gevalle was, en of chroniese infeksies in kwekerye voorkom."
Dr Van Dyk het die meeste van die stamsiekte-patogene wat sy in kwekerye opgespoor het gevind op die dele van jong plante wat in potgrond begrawe was.
“Dit lyk asof die meeste sulke infeksies ontwikkel in die onderste (basale) gedeeltes van die steggies voorkom wat direkte kontak het met perliet, grond en water," voeg sy by. “Ek sou graag verdere navorsing wou doen om uit te vind watter van hierdie komponente besmet is, en hoe mens dit kan verhoed of ontsmet."
“Hierdie studie het heelwat nuwe kennis tot gevolg gehad oor olyfboomstamsiektes, die patogene wat dit veroorsaak, asook die verspreiding en beheer daarvan. Dit kan gebruik word om beter bestuurstrategieë te ontwikkel om stamsiektes in olyfbome in Suid-Afrika te beperk," sê prof Lizel Mostert van die US Departement Plantpatologie.