Nachega se suksesvolle termyn by die Sentrum vir Infeksiesiektes
Die Sentrum vir Infeksiesiektes (CID) by die Universiteit Stellenbosch het vir net meer as ʼn dekade lank bestaan, maar dit het nietemin baie merkwaardige suksesse behaal sedert dit in 2008 by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) tot stand gebring is.
Die stigterdirekteur, professor Jean Nachega, is geregverdigbaar trots op al die sentrum se prestasies: “Voorheen was daar geen struktuur vir infeksiesiektes wat oor departemente gestrek het en almal met ʼn gedeelde doelwit om dieselfde tafel laat sit het nie.
“Die CID se missie was om verskeie dissiplines byeen te bring as samewerkende areas met gedeelde navorsing, onderrig en diensleweringsfunksies vir infeksiesiektes. Ander belangrike prioriteite was om jong ondersoekers se navorsingskapasiteit te bou, internasionale netwerking, samewerking en fondswerwing."
Nachega kan maklik ʼn paar feite en getalle opnoem om die CID se sukses met die bou van ʼn waardevolle multidissiplinêre platform by die FGGW uit te lig:
- Dit het meer as US $15 miljoen (R214 miljoen) in internasionale toekennings vir opleiding en navorsing van verskeie befondsers ontvang, insluitend die Nasionale Institute vir Gesondheid (NIH) en die President se Noodplan vir Vigsverligting (PEPFAR) in die Verenigde State van Amerika (VSA), die Wellcome-trust in die Verenigde Koninkryk en die Europese Ontwikkelende Lande Kliniese Proewe Vennootskap (EDCTP);
- Dit het meer as 150 ewekniebeoordeelde samewerkende artikels gepubliseer, insluitend in toonaangewende joernale soos The New England Journal of Medicine, The Lancet, Annals of Internal Medicine en PLOS Medicine;
- Dit het Noord-Suid en Suid-Suid samewerkings by die FGGW gestig; en
- Dit het ondersteuning vir meesters-, doktorale- en nadoktorale studente by die FGGW verkry.
“Ek is baie dankbaar dat die Universiteit Stellenbosch my die geleentheid gebied het om die stigterdirekteur van die CID te wees, en ek is by trots op die sentrum se prestasies," sê Nachega, wie in die Demokratiese Republiek van die Kongo gebore is en in sy jeug na België gevlug het weens burgerlike oproering. Hy het homself later in die VSA gevestig en het genutraliseer as ʼn VSA-burger.
Hy het sy mediese graad verwerf by die Universiteit van Louvain, en het daar ook in infeksiesiektes gespesialiseer. Hy het ʼn diploma in tropiese geneeskunde van die Londen Skool vir Higiëne en Tropiese Geneeskunde, en daarna het hy sy Meesters in Openbare Gesondheid by Johns Hopkins Universiteit (JHU) verwerf en ʼn genootskap in die Biostatistiek van Vigsnavorsing by Harvard Universiteit voltooi.
Die FGGW-dekaan, prof Jimmy Volmink (destyds die Vise-dekaan: Navorsing) het Nachega genader om die sentrum op die been te bring. Op daardie stadium was Nachega ʼn fakulteitslid by JHU en het hy die MIV/tuberkulose navorsingsprogram in Kaapstad bestuur.
Toe Volmink hom genooi het om deeltydse direkteur van die CID te wees, terwyl hy steeds sy posisie by JHU behou het, het hy die uitdaging geesdriftig aanvaar. Selfs nadat hy in 2012 by die Universiteit van Pittsburgh aangesluit het, het hy sy verbandskap met JHU behou in ʼn adjunkfakulteitsposisie, en het die CID ʼn sentrale fokus van sy werk gebly.
Al Nachega se harde werk oor die jare het vrugte gewerp. In 2011 was die CID een van 32 navorsingsinstansies in Afrika wat erkenning ontvang het as ʼn Sentrum van Uitnemendheid in Gesondheidinnovasies deur die Afrika Netwerk vir Geneesmiddels en Diagnose (ANDI).
Hy het ook verskeie individuele toekennings ontvang tydens sy termyn by die CID. Vanaf 2010 tot 2015 was hy die hoofnavorser vir groot toekennings soos die Suider Afrika Konsortium vir Uitnemendheid in Navorsing (SACORE) wat deur die Wellcome-trust befonds is, en vanaf 2011 tot 2016 vir die Mediese Onderrig-vennootskap Inisiatief (MEPI), ʼn konsortium van 13 mediese skole in 12 lande in Afrika suid van die Sahara wat deur PEPFAR befonds is.
“Die MEPI en SACORE inisiatiewe het transformerende globale vennootskappe in onderrig en navorsing te weeg gebring en het gelei tot meer as 400 eweknie-beoordeelde publikasies, en meer as 70 meesters-, PhD en nadoktorale genote wat gegradueer het," sê Nachega.
“En in 2017 het MEPI 'geboorte gegee' aan die Afrika Forum vir Navorsing en Onderrig in Gesondheid (AFREhealth), ʼn Afrika-organisasie wat met ministeries van gesondheid, opleidingsinstansies en ander rolspelers saamwerk om die gehalte van gesondheidsorg in Afrika te verbeter deur middel van navorsing, onderrig en kapasiteit bou."
Ter erkenning van sy leierskap, innoverende werk en publikasierekord, is Nachega in 2019 aangewys as ʼn genoot van die Afrika Akademie van Wetenskap (AAS), wat daarna streef om onwikkeling op die kontinent te verseker deur middel van wetenskap en tegnologie.
Hy kyk terug na sy tyd by die CID met geneentheid: dit het hom in staat gestel om ʼn belangrike rol te speel om infeksiesiektes op die kontinent die hoof te bied. “Infeksiesiektes soos MIV en tuberkulose is van die volopste siektes in Afrika, met hoë morbiditeit en sterftesyfers," sê Nachega.
Hy beskryf sy eerste vyf jaar by die CID as besonders lonend. Maar teen September 2019 het hy besluit om die direkteurskap te laat vaar en aan te bly as ʼn vestigslid en te konsentreer op sy akademiese aktiwiteite as ʼn buitengewone professor by die FGGW se Departement Geneeskunde.
Hy het die FGGW-bestuur van sy besluit ingelig, en dit het ook ooreen gestem met ʼn eksterne oorsig van die CID in opdrag van die Dekaan se Bestuurspan (DBS) om te bepaal of dit prakties was om met die CID voort te gaan, en indien wel, watter stappe geneem moet word om die funksionaliteit en impak daarvan te verbeter.
“In ag genome al die beskikbare inligting, insluitend die versterking van navorsing en netwerke wat infeksiesiektes betref oor die afgelope dekade en die amptelike erkenning van ʼn Afdeling Infeksiesiektes in die Departement Geneeskunde, het die DBS en die uitvoerende departementshoofdekomitee besluit om die CID te sluit," sê hy. “Hulle was van mening dat die nuwe omgewings en veranderinge die CID se oorspronklike missie sal absorbeer."
Die CID se nalatenskap sal op ander maniere voortleef. “Terwyl ek steeds my primêre fakulteitsposisie by die Departemente van Epidemiologie, Infeksiesiektes en Mikrobiologie by die Universiteit van Pittsburgh behou, beplan ek om voort te gaan met samewerkende navorsing oor MIV en TB, en my onderrig- en mentor-aktiwiteite by die FGGW voort te sit as ʼn buitengewone professor by die Afdeling Infeksiesiektes," sê Nachega.
“Tesame met professor Soraya Seedat sal ek ook voortgaan om as hoofnavorser te dien van die NIH Fogarty-befondsde vennootskap, die 'Pittsburgh-US MIV-komorbiditeite Navorsing Opleidingsprogramme', asook die US se hoofnavorser vir die NIH Fogarty-befondsde toekenning, die 'Afrika Vereniging vir Gesondheidsberoepe Onderrig en Navorsing' wat aan AFREhealth toegeken is."
Wat die Covid-19-pandemie betref het Nachega die volgende te sê: “Covid het nuwe geleenthede vir navorsing geskep, en ek het nie op my laat wag nie. Ek het verskeie vennootskappe gesluit en kollegas betrek deur middel van die netwerk wat ek geskep het tydens my direkteurskap by die CID, asook MEPI en AFREhealth.
“Ons het ʼn konsortium gestig wat navorsing oor Covid doen, en ons was die eerste om op ʼn kontinentale vlak te publiseer oor hoe Covid in Afrika lyk." Hulle het 25 artikels in slegs ʼn paar maande gepubliseer wat vroeë insigte gelewer het oor Covid-19 se epidemiologie, kliniese voorkoms en uitkomste in volwassenes, kinders en swanger vroue op die kontinent.
“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om die CID te kon lei, en vir al my wonderlike medewerkers, personeel, studente en vriende by die FGGW," sê Nachega. “Hulle het my werk maklik gemaak, en ek sien uit na verdere samewerking in die nuwe infeksiesiektes-omgewing."