
'n Dag in die lewe van: Jerusha Naidoo
Jerusha Naidoo werk in Inligtingsoorsigbestuur se Sentrum vir Institusionele Inligting. Hierdie institusionele inligtingsbeampte geniet veral die samewerkingskultuur by die Universiteit Stellenbosch.
In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hul rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Naidoo het 'n tydjie afgeknyp om 'n paar vrae oor haar rol by die US te beantwoord.
Wat is jou rol by die US?
My rol is 'n kombinasie van verantwoordelikhede met betrekking tot privaatheid, toegang tot inligting, en institusionele toestemming (hekwagterswerk) vir die US.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?
Deesdae bestaan 'n tipiese dag uit die fasilitering van aanlyn privaatheidswerksessies om voldoening aan die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting 4 van 2013 ('die POPI-wet') te verseker, die fasilitering van aanlyn privaatheidsimpakstudies vir navorsers of US-proseseienaars, die voorsiening van opleiding oor die nuwe selfhelpinstrument om privaatheidsimpak te bepaal, en konsultasies met belanghebbendes. Ek hanteer ook versoeke vir toegang tot inligting ingevolge die POPI-wet, wat in enige stadium by die US ingedien kan word. Daarbenewens dien ek in die institusionele toestemmingskomitee, wat navorsers bystaan om die US se toestemming te bekom om die instelling – hetsy sy personeel, studente, alumni en/of geaffilieerdes – by navorsing te betrek.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?
Ek het voorheen as 'n konsultant op regsgebied gewerk. Ek het voldoeningskwessies en kredietregsake hanteer, en ook as 'n interne regsadviseur vir 'n geregistreerde Suid-Afrikaanse vakbond gewerk. My vorige ervarings het my geleer om ander se oogpunt in te sien, en om aan te hou vra as ek 'n proses nie heeltemal verstaan nie. Ek leer voortdurend nuwe dinge oor die US-omgewing. Dis 'n enorme landskap om te leer ken, so al het ek my reeds op 1 Junie 2018 by die US aangesluit, beskou ek myself steeds as 'n nuweling!
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek werk met 'n klomp verskillende kollegas en studente. Elkeen is uniek wat persoonlikheid en vaardighede betref. Ek is bevoorreg om konstant nuwe dinge by hulle te leer, en om te kan saamwerk as dit nodig is. Ek geniet dit dat die Stellenboschkampus 'n oop kampus is. Voor COVID-19 kon ek maklik met kollegas in die verskillende kantore gaan oorleg pleeg. Ek het ook die geleentheid om met eksterne navorsers te skakel, en dit is wonderlik om te sien hoe die US met ander instellings, sowel plaaslik as buitelands, saamwerk.
Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?
Ek put motivering uit my geloof in Jesus, en die genadegemeenskap waartoe ek behoort. Ek ontvang ook baie ondersteuning van kollegas van Inligtingsoorsigbestuur in die besonder, en van die US in die algemeen.
Vertel ons iets van jouself wat min mense sou verwag/iets opwindend waarvan min mense weet?
Ek's 'n privaatheidsbeampte, so ek lap geen geheime uit nie! Maar ek is wél bereid om te sê ek is lief vir plante en geniet dit om blomme te ontvang.