
'n Dag in die lewe van: Chantel Coetzee
Chantel Coetzee het haar “droomwerk" losgeslaan toe sy haar as leier van inligting-en-kommunikasietegnologie- (IKT-)ontwerppraktyk by die Universiteit Stellenbosch (US) aangesluit het. Met meer as 23 jaar se ondervinding op die gebied van bedryfs- en IT-ontwerp, beskou Coetzee haarself as 'n innoveerder, entrepreneur en strategiese instaatsteller.
In die maand van Werkersdag vertel ons jou meer oor van ons personeellede, en hulle rol om die ratte by ons instelling te laat draai. Coetzee het ons meer oor haar werk by die Universiteit vertel.
Wat is jou rol by die US?
My verantwoordelikhede behels die organisasie en bestuur van die sekuriteits-, kommunikasie- en verbandhoudende tegnologiese komponente by die US.
Hoe lyk 'n tipiese dag by die werk vir jou?
'n Tipiese dag bestaan gewoonlik uit verskeie vergaderings. Ek verdeel tans my tyd tussen etlike groot US-projekte. Ek ontwerp en implementeer ook op die oomblik 'n interne projek en vestig IKT-praktyke. Ander take sluit in om voorstelle vir stelselvervanging aan te vra, en om ander US-inisiatiewe en -projekte oor IKT-ontwerp te adviseer.
Hoe het jou opleiding of vorige ervarings jou vir hierdie werk voorberei?
Ek het deur Global Accounting Proficiency as 'n rekeningkundige tegnikus gekwalifiseer terwyl ek gewerk het. Dit was moeilik, maar ek is dankbaar dat iemand in my geglo en my die geleentheid gebied het. Ek het in 1998 as 'n effektetrustprysontleder begin. Sedertdien is ek met vele onverwagte loopbaangeleenthede geseën. Toe ek op ondernemingsontwerp afkom, het ek my passie gevind. Ek sou nooit kon raai dat ek van beleggingsrekeningkunde na inligtingstegnologie sou oorslaan nie. Ek het altyd gedink dat ek 'n geoktrooieerde bestuursrekenmeester sou word.
Ons het teen die einde van 2018 Wes-Kaap toe verhuis. Ek het by die US begin werk as deel van 'n ondersoek deur Deloitte, waar ek destyds in diens was. Ek is ná die ondersoek gevra om konsultasiedienste te voorsien, en toe die geleentheid opduik, het ek as leier van IKT-ontwerppraktyk by die span aangesluit.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Ek geniet dit om 'n nuwe sektor te leer ken – die hoër onderwys is besonder opwindend, en die mense is baie uiteenlopend. Ondernemingsontwerp is 'n nuutjie by die US, en ek geniet dit om met ander saam te werk om dié praktyk by die Universiteit toe te pas. Dis kompleks, omvattend en uniek. Ek doen waarvoor ek lief is, vir 'n instelling waarin ek glo. Kortom doen ek my droomwerk by 'n ongelooflike organisasie.
Die pandemie het verander hoe ons werk en leef. Wat hou jou in dié tyd gemotiveerd?
Dit help my om te weet dat dit oukei is om nié oukei te wees nie, en om met vertrouelinge daaroor te gesels. Verbalisasie gaan nie daaroor om antwoorde te kry nie, maar om te verwoord hoe dinge jou raak. En verrassend genoeg vind 'n mens dikwels dat jy nie alleen is in jou innerlike stryd nie.
Wat my aanvuur, is die gedagte dat ek 'n ekonomie kan skep en agterlaat wat entrepreneurs sal ophef en in staat stel om 'n verskil in ons land te maak. En dít kan ons kinders se kinders bemagtig om hulle drome te bewaarheid.
Vertel ons iets opwindend oor jouself wat min mense sou verwag.
Ek is mal oor calaveras (Meksikaanse suikerskedels). Ek het een op my arm laat tatoeëer, en my kombuis is selfs in dié styl versier, met 'n tikkie helder pienk. Die skedels simboliseer vir my dat ons almal in ons diepste wese dieselfde is. Ek het ook 'n aansienlike vellieversameling wat al by 11 paar trek.