Skip to main content
Gegradueerde van Letterefakulteit ontvang Mandela Rhodes-beurs

Gegradueerde van Letterefakulteit ontvang Mandela Rhodes-beurs

Lynne Rippenaar-Moses
24 Januarie 2017

Ijeoma Opara (21), 'n BA-honneursgegradueerde in Internasionale Studie, het onlangs een van 80 studente van Suid-Afrika en die res van Afrika geword om 'n Mandela Rhodes-beurs te ontvang. Opara, wat in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US) studeer het, het haar honneursgraad by die gradeplegtigheid in Desember 2016 ontvang. 

Die Mandela Rhodes-stigting het sedert sy totstandkoming in 2005 al 377 beurse aan studente van oor die hele Afrika toegeken. Die doel van die stigting is om deur sy verskeie programme, waaronder die beurs, "uitnemende leierskapsvermoë in Afrika te bou".

"Ek was bevoorreg genoeg om in my fakulteit en departement omring te wees deur mense wat my aangemoedig het om aansoek te doen om verskillende geleenthede terwyl ek studeer het," verduidelik Opara hoe dit gekom het dat sy om hierdie gesogte beurs aansoek gedoen het.

"Nadat ek aansoek gedoen het, was ek aanvanklik heel selfversekerd en opgewonde, maar namate die keuringsproses gevorder en die getalle met elke ronde afgeneem het, het ek regtig senuagtig geword. Na die laaste ronde, waartydens 'n onderhoud in Oktober met my gevoer is, was ek nie noodwendig meer so seker van my saak nie. Ek het gedink ek sê nie eintlik die dinge wat hulle wou hoor nie – baie van die gedagtes waaroor ek met die paneel gesels het, was oor my eie betrokkenheid by die studenteprotes in 2016, veral binne die konteks van studentebewegings soos Open Stellenbosch. My betrokkenheid by daardie beweging bepaal immers my eie ideologieë en my denke oor die rol van hoër onderwys in Suid-Afrika en, nóg belangriker, in Afrika."

Dat sy gekeur is, sê Opara, getuig egter van die soort organisasie wat die Mandela Rhodes-stigting is: "Hulle is ontvanklik vir 'n wye verskeidenheid menings en sienings, en ek's dankbaar daarvoor."

Hoewel Opara in 2017 by die Universiteit van Kaapstad aan 'n MA in Internasionale Studie sal werk, is dit aan die US waar haar belangstelling in die studie van Suid-Afrikaanse feminisme ontstaan het. Nadat sy in 2015 haar BA in Internasionale Studie op Stellenbosch verwerf het, het sy in 2016 haar honneursgraad voltooi met die klem op "hoe die verkragtingskultuur op universiteitskampusse die teoretiese lens van Suid-Afrikaanse feminisme verander het".

Haar studieleier was prof Amanda Gouws van die Departement Politieke Wetenskap. Gouws spesialiseer in Suid-Afrikaanse politiek en genderpolitiek sowel as politieke gedrag, en het ook in 2015 die bekleër van 'n SARChI-navorsingsleerstoel in genderpolitiek geword.

"My navorsing het gehandel oor wat Suid-Afrikaanse feministe tot nou toe oor verkragtingskultuur geskryf het en wat in daardie verband verander het sedert die studentebewegings verkragtingskultuur by hoëronderwysinstellings 'n gesprekspunt in die groot Suid-Afrikaanse samelewing gemaak het."

Vir haar magistergraad is Opara van plan om dieper in daardie navorsing te delf.

"Ek wil konsentreer op navorsing met 'n meer Afrikagerigte feministiese benadering, wat menslike sekuriteit, feminisme en gender met mekaar verbind met betrekking tot hoe ons na oplossings vir menslike sekuriteit en verskillende krisisse oor die vasteland heen soek. Die werklikheid is dat ons dikwels genderblind is in ons soeke na oplossings vir verskeie konflik-omstandighede op hierdie vasteland. Hopelik kan ek in die toekoms tot vakkundigheid op daardie gebied bydra."

Hoewel sy nog geen finale planne het vir wanneer sy klaar gestudeer het nie, dink sy daaraan om 'n loopbaan in die akademie te volg, of om haar PhD te voltooi en dan die kennis en vaardighede aan te wend wat sy as student van die politieke wetenskap opgedoen het om 'n loopbaan in 'n wye verskeidenheid sektore te volg waar sy daardie vaardighede kan benut.

Vir diegene wat ook 'n beurs soos die Mandela Rhodes-een wil probeer losslaan, wat 'n streng aansoek- en keuringsproses behels, het Opara eenvoudige raad: "Moenie bang wees om hulp te vra nie."

"Die mense wat jy die minste verwag jou sal help, is juis die mense wat jou die nodige ondersteuning sal gee – as jy net vra. Toe ek my aansoek aanvanklik ingedien het, het ek ook my vriende gevra om deur my aansoek te kyk en my dit met opbouende kommentaar te help verbeter. Dis ook baie belangrik om nie aan jouself te twyfel nie en om in jou eie prestasies en dit wat jy oor die jare bereik het te glo. Dit is een van die belangrikste goed wat ek gedurende die aansoekproses besef het – jy veroorsaak jou eie ondergang as jy jou eie prestasies geringskat."

Foto: Ijeoma Opara het onlangs die Mandela Rhodes-beurs saam met 79 ander studente van Suid-Afrika en die res van Afrika ontvang. (Webtuiste van die Mandela Rhodes-stigting)