Skip to main content
Eervolle vermelding vir jong SA wetenskaplike in die hoë tegnologie Hong Kong Wetenskapkompetisie

Eervolle vermelding vir jong SA wetenskaplike in die hoë tegnologie Hong Kong Wetenskapkompetisie

Erika Hoffman
29 Junie 2021

'n Jong Suid-Afrikaanse wetenskaplike het die toekenning van eervolle vermelding ontvang nadat sy haar tegnologiese vooruitgang ten toon gestel het in die 2021 Virtual Global Youth Science and Technology Bowl (GYSTB) Science Fair in Hong Kong.

Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes silwer medalje-wenner Catherine Kies, 'n graad 10-leerder aan die Hoër Meisieskool Bloemhof in Stellenbosch, het virtueel meegeding met top jong wetenskaplikes uit 26 verskillende lande in bogenoemde, uiters mededingende wetenskapkompetitsie.

Kies het 'n handprostese ontwikkel wat via myo-elektriese impulse vanuit die arm van 'n persoon beheer word. Dit behels dat die beweging van 'n mens se arm presies deur 'n meganiese klou herhaal word. Kies het verskillende metodes en materiale gebruik om die handprostese met opvallende akkuraatheid te ontwikkel. Hierdeur het hierdie 15-jarige bygedra tot nuwe kennis aangaande die beheer en gebruik van prosteses deur spierimpulse. 

Catherine Kies (1).JPG
Kies het 'n handprostese ontwikkel wat via myo-elektriese impulse vanuit die arm van 'n persoon beheer word. Dit behels dat die beweging van 'n mens se arm presies deur 'n meganiese klou herhaal word. Kies het verskillende metodes en materiale gebruik om die handprostese met opvallende akkuraatheid te ontwikkel. Hierdeur het hierdie 15-jarige bygedra tot nuwe kennis aangaande die beheer en gebruik van prosteses deur spierimpulse. ​

Sy is gelei deur akademiese personeel van Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes, sowel as spesialismentors in die onderskeie vakgebiede voordat sy aan die virtuele kompetisie deelgeneem het. Dit was besonder belangrik, aangesien dit haar nie net 'n mededingende voordeel gegee het nie, maar ook tot haar bestaande kennis en vaardighede bygedra het.

Andrew Etzinger, hoofbestuurder van risiko en volhoubaarheid van Eskom, het haar met haar prestasie gelukgewens en gesê dat die blootstelling wat volg op die ontvangs van 'n eervolle vermelding prestasie waardevol is, aangesien daar op plaaslike vlak bewys is dat meisiewetenskaplikes ander leerders baie meer beïnvloed as wat ons besef: “Hulle beïnvloed nie net ander meisies nie, maar ook geslagte wat volg. Dikwels bevat hulle perspektiewe op die wetenskap 'n gevoel van menslikheid, wat baie nodig is. Dit is een van die redes waarom Eskom Ekspo 'n toonaangewende program vir Eskom is – dit het dit ten doel om te belê in die ontwikkeling van jong wetenskaplikes en ingenieurs, terwyl meer leerders aangemoedig word om wetenskapgerigte vakke en loopbane aan te pak," het Etzinger gesê.

Registrasie is tans oop vir deelname aan Eskom Expo se virtuele provinsiale wetenskapskoue in 2021. Leerders in graad 7 tot 12 kan projekdokumente registreer en oplaai, insluitend 'n abstrakte, navorsingsplan en projekverslag deur die Eskom Ekspo-webwerf van die Stellenbosch-streek te besoek by http://bit.ly/StellenboschExpo