Skip to main content
Westvaal ondersteun die Botaniese Tuin

Westvaal ondersteun die Botaniese Tuin

Viola Calitz
12 Augustus 2015

Westvaal Stellenbosch het onlangs aangekondig dat hul die borgskap van ʼn Chev Utility bakkie vir die Botaniese Tuin vir ses maande verleng. Buiten die gebruik ter ondersteuning van tuinmaakaktiwiteite word die bakkie ook ingespan vir plantversameling- en bewaringswerk en die ondersteuning van verskeie gemeenskapstuin-inisiatiewe in en om Stellenbosch.

Voor Westvaal in 2016 die borgskap gegee het, het die Botaniese Tuin vir jare geen voertuig gehad nie. "Buiten die kostes wat die Botaniese Tuin bespaar op vervoer is dit ook 'n groot hupstoot t.o.v. die moraal van die tuinspan. Vir jare reeds gebruik die personeel hul eie voertuie om plantmateriaal en goedere aan te ry, selfs soms goedere wat hul gewone voertuie nie voor gemaak is nie", verduidelik Martin Smit. "Wanneer slegs 'n bakkie 'n taak kon verrig moes werk dikwels uitgestel word totdat 'n bakkie gehuur kon word.  Ons is baie opgewonde om hierdie voertuig tot ons beskikking te hê en die doeltreffendheid wat dit tot ons werksaamhede gaan bydrae.  Ons is baie dankbaar dat plaaslike besighede ons rol as 'n gemeenskapsbate herken en ondersteun. Ons sien uit na 'n lang, vrugbare verhouding met Westvaal Stellenbosch"