Skip to main content
US-personeellede ontvang nasionale toekennings

US-personeellede ontvang nasionale toekennings

Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
20 Mei 2016

Twee personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag (19 Mei 2016) nasionale erkenning ontvang vir hul bydrae tot navorsings- en innovasiebestuur in Suider Afrika.

Maryke Hunter-Hüsselmann, Bestuurder: Navorsingsinligting en -Strategie in die Afdeling Navorsingsontwikkeling, en Anita Nel, Senior Direkteur: Innovasie en Besigheidsontwikkelling en uitvoerende hoof van die SU se se tegnologie-oordragmaatskappy, Innovus, is met die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) en die Southern African Research and Innovation Association (SARIMA) se Prestige Toekennings vir Navorsing en Innovasiebestuur vereer.

Hunter-Hüsselmann en Nel het toekennings ontvang vir onderskeidelik Uitnemende Bydrae tot die Navorsingsbestuursprofessie en Uitnemende Bydrae tot die Innovasiebestuursprofessie. Die wenners is Donderdagaand tydens `n gala-geleentheid by die Coastlands Hotel in Umhlanga, Kwazulu-Natal aangekondig.

Die DWT/SARIMA-toekennings vereer individue wat `n impak gemaak het op die ontwikkeling van Navorsings- en Innovasiebestuur in 2015.

Hunter-Hüsselmann is vereer vir haar bydrae tot kapasiteitsbou en professionalisering van navorsingsbestuur in Suider Afrika en vir die innoverende navorsingsbestuurspraktyke wat sy aan die US geï​nisieer het. Sommige van hierdie praktyke het sedertdien die maatstaf geword  vir ander plaaslike sowel as buitelandse navorsingsbestuurskantore.

Een van Hunter-Hüsselmann se inisiatiewe, die jaarlikse US-navorsingsverslag, waarvan sy ook die redakteur is, het vir die vierde keer die Toekenning vir Uitnemendheid in die kategorie: Navorsingsverslag by die 2015 Marketing, Advancement and Communication in Education (MACE)-toekenningseremonie gewen.

"Ek voel regtig  geëerd om die DWT/SARIMA-toekenning te ontvang en wil graag ook erkenning gee aan my kollegas by die Afdeling Navorsingsontwikkeling. Ons is `n span met toegewyde, entoesiastiese en diens-georiënteerde mense. Hierdie toekenning gaan ook aan elkeen van hulle."

"Die DWT/SARIMA-toekennings gee erkenning aan die belangrike rol wat navorsingsbestuur speel om navorsingsaktiwiteite by hoër-onderwysinstellings te versterk en te bevorder."

Hunter-Hüsselmann was ook ʼn portefeulje-lid van SARIMA se uitvoerende komitee (2009), ʼn Visepresident: Kapasiteitsbou en Professionalisering (2012-2013) en ʼn Visepresident: Navorsing (2014-2015) van dieselfde organisasie.

Sy is een van slegs `n handjievol nie-akademiese lede van die Suid Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ook ʼn medelid van die Organisasie van Vroue in Wetenskap in die Ontwikkelende Wêreld.

"Die DWT/SARIMA-toekenning is nie net vir my nie, maar ook vir hele Innovus-span," het Nel gesê. Sy het ook die US se navorsers geloof vir hul bydrae tot Innovus se sukses.

Nel was instrumenteel in die verkryging van fondse vir die Nedbank Universteit Stellenbosch LaunchLab, ʼn besigheidsinkubator in vennootskap met Nedbank en die Departement van Handel en Nywerheid. Sy het ook gesorg dat daar beduidende eksterne belegging in Innovus se aktiwiteit en afwentelmaatskappye in die Innovusgroep is. 

Verder het Nel ʼn kampuswye platvorm vir entrepreneurskapsontwikkeling geïmplementeer en ʼn belangrike rol gespeel in die ontwikkeling en konsolidering van die konsep vir die stigting van`n inisiatief wat sal lei tot die stigting van ʼn Universiteitstegonologiefonds ter ondersteuning van projekte en nuwe maatskappye. Sy het ook oor baie jare ʼn sterk besigheidsnetwerk gevestig deur professionele verhoudings met industrievennote, beleggers en diensverskaffers bou.

Nel dien ook op verskeie komitees en maatskappyerade. 

MEER OOR SARIMA

Die Suider-Afrikaanse Navorsings- en Innovasiebestuur-vereniging is ʼn belange-organisasie wat in 2002 gestig is en sedertien ʼn platform bied vir die bevordering en fasilitering van beste praktyke in navorsings- en innovasiebestuur in Suider-Afrika. Dit versterk die navorsings- en innovasiestelsel om die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van die Suider-Afrikaanse streek te verseker. Besoek www.sarima.co.za vir meer inligting 

  • Foto: Anita Nel en Maryke Hunter-Hüsselmann