Skip to main content
Subtiele, komplekse prosesse van weet en wys by konferensie verken

Subtiele, komplekse prosesse van weet en wys by konferensie verken

Corporate Communication and Marketing (Sue Segar) | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
26 Oktober 2022

​Prof Gabeba Baderoon, ʼn digter en akademikus van die Pennsilvanië-staatsuniversiteit in die VSA en hoofspreker by die Langsame Intimiteitskonferensie wat onlangs by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studies aangebied is, het op die Kaapse Vlakte grootgeword.

As kind het sy haar geliefde pa hoor treur omdat hy nie sy rose kon oorreed om te blom in die sandgrond van Athlone waarheen die gesin gedurende apartheid verskuif is nie. Tóg is sy tuin in Athlone 47 jaar later ʼn pragtige plek – alles danksy sy vasbeslote, intieme band met die grond.

Hierdie is maar net een van die voorbeelde van voorleggings by die konferensie, wat van 12 tot 14 Oktober gehou is met prof Amanda Gouws, bekleër van die SARChi-leerstoel in genderpolitiek aan die US, as sameroeper. Prof Lou-Marié Kruger van die Departement Sielkunde was die mede-sameroeper.

Daar is by dié drie dae lange konferensie besin oor die konsep van langsame intimiteit, wat verband hou met “intieme interaksies wat standhoudend, langdurig en oor tyd aan die gang en aan die ontwikkel is".

Die doel van die konferensie was om die “subtiele, genuanseerde, komplekse, veelvlakkige, verwikkelde" prosesse van weet en wys wat met langsame intimiteit geassosieer word, te verken. Voorts om onder meer die volgende vrae te bespreek: Wie kan weet en wie kan wys? In watter omstandighede is weet en wys moontlik? Hoe is intimiteit met mag verbind? Hoe word intimiteit deur groter gemeenskapsprosesse (polities, maatskaplik, ekonomies) beïnvloed?

Kruger, ʼn kliniese sielkundige, vertel hoe sy ʼn pasiënt voor haar oë op die grond sien val en sterf het toe sy in die wagkamer van ʼn staatskliniek in die lae-inkomste-woongebied Dwarsriviervallei buite Stellenbosch gesit het. Sy kontrasteer die intimiteit van haar teenwoordigheid by die dood van dié volkome vreemdeling met die intimiteit by die sterfbed van haar ma, aan wie sy baie naby was.

Die akademici Vivienne Bozalek, Nike Romano en Tamara Shefer beskryf hul intimiteit met die “anderkant-die-menslike" wanneer hulle saam in die see se oop waters gaan swem – en hoe hul denke en skryfwerk beïnvloed word terwyl hulle met “see-organismes bedek is en saam met onderwatergediertes en -plante bibber…"

Sandra Swart, professor in geskiedenis, praat oor haar intieme verhouding met haar perd Aztec, “'n sagmoedige merrie met melancholiese skoonheid", en die merrie se dogter, Voodoo, wat “kort en koppig is en sterk menings huldig". Sy vertel hoe intimiteit tussen haar en haar perde gegroei het deurdat sy “elke dag hul mis bekyk om hul gesondheid te voorspel … my hande by hul bene laat afgly, hul tandvleis oopsper en tussen hul spene reik om vir bosluise te voel…"

Twee vriende, Marion Stevens en Makhosazana Xaba, beskryf hul vriendskap van etlike jare dansky gedeelde belange en solidariteit.

In ʼn dokumentêre program wat die intimiteit van gay verhoudings en die intimiteit van geweld uitbeeld, beskryf die filmmakers prof Siona O'Connell en prof Vasu Reddy hoe ʼn jong Indiese man se eie pa hom en sy maat in Durban voor sy gemeenskap voos slaan omdat sy gay-wees hulle in die skande gesteek het.  

Intimiteit versus langsame intimiteit

Gouws het in haar openingstoespraak gesê haar feministiese studiegroep, wat uit nege vroue van verskillende dissiplines bestaan – politieke wetenskap, filosofie, geskiedenis, sielkunde, Engels, teologie en beeldende kunste – het in 2021 besluit om ʼn konferensie oor langsame intimiteit te hou.

“Die onderwerp van intimiteit word al minstens ʼn dekade lank deur feministiese geleerdes soos Lauren Berland bestudeer," het sy gesê. “Maar ons wou stadige intimiteit van intimiteit onderskei.

“Ons kan aan stadige intimiteit dink as die keersy van stadige geweld – ons verbintenis met menswees, ons kwesbaarheid, om onsself vir die menslikheid van ander oop te stel, interaksie met die post-menslike deur ander spesies en planetêre konneksies," het sy bygevoeg.

“Hierdie konferensie is derhalwe ʼn interaksie met ʼn breër globale konteks van brutaliteit, maatskaplike uitsluiting, verdiepende armoede en onsekerheid. Op hierdie oomblik is dit asof die wêreld wag om asem uit te blaas in die aangesig van wat dalk apokaliptiese gebeure kan wees. Hoe ver is Wladimir Poetin bereid om te gaan? Hoe gaan Europa die dodelike koue van sy winter oorleef? Wat gaan die volgende klimaatramp wees en waar gaan dit plaasvind? Sal ons almal uiteindelik leer om sonder elektrisiteit te leef?

“In die aangesig van al hierdie moontlike katastrofes, wend ons ons na intieme ruimtes en verbintenisse."

Gouws het gesê langsame intimiteit vind “op verkillende terreine en skale plaas en behels verskillende tipes wys".

Die konferensie was akademies van aard, maar het ʼn kreatiewe inslag gehad deur die insluiting van interaksie met poësie, boeke, films en kuns. Voorleggings het onder meer ook intimiteit bekyk wat met kos, seks en verbruik verband hou.

Rou tydens Covid; intimiteitsfoutlyne

Louise du Toit, professor in filosofie, het in haar voorlegging getiteld 'Mourning the More than Human' ('om oor die meer as menslike te rou') die konsep van rou as ʼn “pre-refleksiewe, beliggaamde soort weet en wys" bespreek. Sy het beskryf hoe Covid talle gewoontes en voorheen bestaande begrippe met betrekking tot rou omver gewerp het.

“In hierdie tyd moes baie mense alleen sterf en is talle ander mense bekende maniere ontneem om hul geliefdes te groet. Soos wat ons die ontvouende katastrofes ervaar wat met die Antroposeen-tydperk geassosieer word, sal hierdie ongeëwenaarde ontwrigting met betrekking tot die dood van ander net erger word. Hierdie omwenteling is ook van toepassing op ander vorms van ongeëwenaarde rou in ons tyd. My vraag word dan hoe verstaan ons menslike rou vir die meer-as-menslike verliese wat ons ervaar en of sodanige rou moontlik ʼn herdenkingspolitiek behels."

In haar voorlegging met die titel 'Intimacy and its Limits' ('intimiteit en sy perke') het prof Vasti Roodt van die US se Departement Filosofie die “foutlyn tussen die openbare en die private, die politieke en die intieme" bespreek – en gepraat oor hoe intimiteit verdraai word wanneer dit na die openbare domein verplaas word.

“Ons is al twee besonderse individue wat om die beurt wil bemin en bemin wil word en ons is burgers van ʼn wêreld wat ons deel met ander wat nie intiem met ons verbind is nie. Die bevrediging van een kom altyd gedeeltelik ten koste van die ander. Intimiteit kan net in privaatheid gedy en moet dus teen die starende openbare blik beskerm word. Aan die ander kant het die openbare domein beskerming teen die eise van intimiteit nodig wat die voorwaardes van saamwoon met ander bedreig."

Jaco Barnard Naudé, professor in die regte, het gepraat oor die konsep van “ekstimiteit" wat ons blootstel aan die “ander" wat in die hart van ons intimiteit skuil – “en in ons mees intieme gedagtes lê en wag".  

Gouws het gesê dis belangrik dat mense vandag oor die konsep van langsame intimiteit besin. “Ons wêreld is so deurdrenk met geweld en wanhoop wat deel van ons onderbewussyn geword het. Hierdie is ʼn oomblik om oor intimiteit te praat; nie die opsienbarende kwessies waaroor ons daagliks praat nie, maar die langsame, beliggaamde emosies en die wyses waarop ons aansluiting by die wêreld vind, want dit is van deurslaggewende belang dat ons nie ons menslikheid en die vermoë om by mekaar aansluiting te vind, verloor nie."

Die konferensie het ook gesprekke ingesluit tussen ouer en jonger feministe oor hoe hierdie verskillende generasies die lewe ervaar.

Die konferensie was multidissiplinêr, veelvlakkig en soms intens persoonlik. Die organiseerders is voornemens om ʼn boek te publiseer waarin die aanbiedings van hoogstaande gehalte vervat sal word.

*Foto: StockSnap from Pixabay