Skip to main content
Slim Boerderysentrum aan die Universiteit Stellenbosch open

Slim Boerderysentrum aan die Universiteit Stellenbosch open

Bongiwe Mhlongo
27 Oktober 2022

Die nuwe HortoDemosentrum wat vandeesweek op die Universiteit Stellenbosch (US) se Welgevallen-proefplaas geopen is, verleen 'n heel nuwe dimensie aan die verbouing van groente.

By dié geleentheid is die voortreflikste en mees gevorderde Nederlandse hortologiese tegnologie ten toon gestel wat stukrag aan klimaatwyse boerdery verleen om reg deur die jaar beter en gesonder produkte te produseer, en nogtans minder water en plaagdoders te gebruik.

Die HortoDemosentrum is 'n 3,000 vierkante meter multi-span kweekhuis, ontwerp om maksimum lugvloei en ligdeurlatings op so 'n wyse aan te wend dat die klimaat, of 'n reeks hidroponies verboude gewasse, ten volle geoptimaliseer word. Dit is 'n unieke, pasgemaakte struktuur wat spog met 'n kombinasie van Suid-Afrikaanse en Nederlandse tegnologie wat nêrens anders ter wêreld gevind kan word nie.

Die Sentrum verleen effek aan die wedersydse en voordelige samewerking tussen Suid-Afrika en Nederland – die tweede grootste voedseluitvoerder ter wêreld. Die Sentrum is 'n konsortium van vennote in die hortologiese sektor, wat plaaslike en Nederlandse maatskappye insluit. Die vennote sluit die US, Delphy BV, Greener Solutions ('n Suid-Afrikaanse maatskappy), Ludvig Svensson, die Ridder Group, Rijk Zwaan, Koppert Suid-Afrika en Control Union in.

“Soortgelyke kweekhuise bestaan wel in Suid-Afrika, maar hierdie is egter 'n eerste wêreldklasfasiliteit wat spesiaal vir opleiding in hierdie land ontwerp is," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, tydens die openingsgeleentheid gesê.

Hy het bygevoeg: “Die vestiging van die Sentrum en Kweekhuis is 'n beduidende prestasie wat navorsing en produktiwiteit in die landbousektor, oor kontinente heen, sal bevoordeel. En dit sal Suid-Afrika se navorsingsvermoëns en voedselproduktiwiteit laat gedy."

Die Sentrum is oop vir studente, gevestigde en opkomende boere, landboukundiges, navorsers, plaaslike regeringsamptenare en voorligtingskenners, sowel as waardekettingdeelnemers soos kopers en kleinhandelaars. Dit mik om 'n lewensvatbare sakeonderneming te wees deur innoverende Nederlandse tegnologieë vir winsgewende, volhoubare en klimaatwyse agronomie te implementeer en opleiding aan studente en opkomende boere te bied.

Volhoubare landbou

Volgens mnr Niek Bosmans, Landbouraadslid van die Koninkryk van Nederland, “wil die Nederlandse Ministerie van Landbounatuur en Voedselkwaliteit volhoubare landbou wêreldwyd bevorder, met die fokus op drie doelwitte oor die volgende tien jaar, naamlik die versterking van die posisie van volhoubare entrepreneurs, binne die vermoë van die aarde te produseer en globale voedselsekerheid te versterk."

Die HortoDemosentrum is juis deel van dié doelwitte, aangesien dit ontwerp is om regdeur die jaar produksie moontlik te maak, en om jong entrepreneurs en studente te bemagtig om sukses te behaal, het hy gesê.

“Nuwe ontwikkelings is alleenlik suksesvol indien mense saamwerk, in mekaar glo en streef om dieselfde doel te bereik, maar hulle moet ook buigsaam wees wanneer die spel 'n ander rigting inslaan. Suid-Afrika word slim boerderygeleenthede as gevolg van klimaatsverandering gebied," het Bosmans bygevoeg.

Dr Estelle Kempen, dosent in die US se Departement Agronomie, het gesê: “Dit is so 'n voorreg om deel van hierdie projek te kan wees. Dit was 'n groot plesier om met al die vennote saam te werk en dit is duidelik dat 'n taak verrig en bereik kan word wanneer mense dieselfde doel nastreef." Sy het bygevoeg dat die fasiliteit aangewend sal word om die volgende geslag navorsers en boere te onderrig.

EINDE

MEER OOR DIE HORTODEMOSENTRUM

Die Sentrum spesialiseer in beskermde gewasproduksie en die beste en voorste snypunt Nederlandse hortologiese tegnologie word ten toon gestel. Innoverende Nederlandse tegnologieë met die oog op winsgewende, produktiewe, volhoubare en klimaatwyse agronomie word geïmplementeer en terselfdertyd word opleiding ook aan studente en opkomende boere gebied.

Die Sentrum fokus veral op opleiding, vaardighede en kennisuitruiling oor puik boerderypraktyke en entrepreneurskap; die ontwikkeling van nuwe markte met die oog op volhoubare landbou en tegnologieë soos waterdoeltreffendheid, klimaatwerende insette, biologiese plaagbestuur, na-oesinspeksie en sertifisering; die ten toon stel van tegnologieë waarby beleggers betrek word, en die skep van 'n anderse ingesteldheid teenoor tegnologieë deur hulle te koppel aan die volhoubare aspekte rakende boerdery en wat daarvoor in die toekoms benodig word; asook by te dra tot voedselsekerheid deur die plaaslike produksie en beskikbaarheid van gehalte voedselprodukte te verhoog wat voedsaam en veilig is en toegang tot top markte bied.

Die HortoDemoSentrum bied ook 'n potensiële terrein vir onafhanklike proefnemings vir die kommersiële groentesektor. Dit kan plaaslike en objektiewe data oor oesstelsels genereer in samewerking met kommersiële maatskappye wat deur die Universiteit Stellenbosch bestuur word.