
PhD-student ontvang Timothy Dow Adams-toekenning
Nick Mdika Tembo, 'n PhD-kandidaat in die Departement Engels by die Universiteit Stellenbosch (US), is vanjaar se mede-ontvanger van die Timothy Dow Adams-toekenning tesame met twee ander ontvangers, Fethiye Çetin en Orly Lael Netzer.
Die prys is deur die Universitit van Ciprus aan hom toegeken tydens die tiende wêreldkonferensie van IABA (International AutoBiography Association), wat van 26–29 Mei 2016 daar gehou is. Die toekenning word gemaak ter ere van Timothy Dow Adams, een van die stigtersredakteurs van die a/b: Auto/Biography Studies-vaktydskrif, wat deur The Autobiography Society besit word wat deel uitmaak van die Routledge Literature Portfolio van vaktydskrifte.
Prof Ricia Anne Chansky het die toekenning aan Tembo gemaak namens die redakteurs van a/b: Auto/Biography Studies, in afwagting van sy artikel Writing the Self, Writing Human Rights Violations in Other Post-1994 Rwandan Testimonios. Die artikel sal in die volgende uitgawe van die tydskrif verskyn. Afgesien van die toekenning het Tembo en Netzer monetêre bystand ontvang om hulle uitgawes by die konferensie te dek, en ʼn essay-mentorskap onder leiding van die tydskrif se redakteurs.
Tydens die konferensie het Tembo dele van die artikel aan die aanwesige afgevaardigdes aangebied.
"Kort ná die 1994 Rwandese volksmoord, is beweer dat die Rwandan Patriotic Front (RPF) uitgevoer het wat die konsepverslag van die VN Hoë Kommissaris vir Menseregte vermoed stelselmatige, metodologiese en voorbedagte aanvalle teen die Hutu's in oostelike Zaïre (nou die Demokratiese Republiek van Kongo) was," verduidelik Tembo terwyl hy oor sy artikel en sy doktorale navorsing in die algemeen nadink.
"Hierdie wydverspreide aanvalle 'bring ʼn aantal beswarende elemente aan die lig wat, indien dit voor ʼn bevoegde hof bewys kan word, as misdade van volksmoord getipeer kan word.' Die uitganspunt van die verslag is die meer as 200 000 vlugtelinge, die meeste van hulle Hutu's, wat óf vermis word óf op Zaïrese grondgebied omgekom het, in die besonder tussen Oktober 1996 en September 1997. Alhoewel nie in dieselfde asem as die 1994- Rwandese volksmoord bespreek nie, is hierdie pogroms vandag nog taamlik vars in die gedagtes van vele Rwandese. Daar is baie dwingende redes vir die ondersoek van verklarings wat hierdie 'belangrike menslike gebeurtenis wat selde bespreek of selfs erken word' in die meeste post-1994-diskoerse oor Rwanda betreur en herdenk."
Sy artikel, sê hy, put uit belangrike debatte oor literêre voorstellings van waarheid en versoening, en het Marie Béatrice Umutesi se Surviving the Slaughter (2004) en Pierre-Claver Ndacyayisenga se Dying to Live (2012) as narratiewe wat die bewering van volksmoord in Rwanda vandag destabiliseer en dekonstrueer, onder die loep geneem.
"Om die ideologiese doel wat in die ander narratiewe ʼn invloed uitoefen te illustreer, het ek my artikel in drie onderling verbonde begrippe veranker – Michel Foucault se nosies van parrhesia (die gedagte om te praat sonder om doekies om te draai), John Beverley se teoretiserings oor eerstepersoonsvertellings oor groot gebeure en hoe dit ander raak, en Judith Butler se werk oor geweld en rou – as interpretiewe raamwerke om te begryp hoe die outeurs herinneringe aan die volksmoord in Rwanda betwis."
Tembo was ook een van die paneellede vir die Round Table Refugee Life Writing tydens die konferensie, ʼn sessie wat verskeie akademici byeengebring het om gedagtes, ervaringe en projekte wat stories van ontsnapping en migrasie behels, met mekaar te deel.
Vandat hy terug is, is Tembo weer eens besig om op sy navorsing wat die voorstellings van trauma in geselekteerde fiksie en lewensgeskrifte oor burgeroorloë in Oos-Afrika behels, te konsentreer.
"Sedert die middel van die twintigste eeu het meeste lande in Oos-Afrika veelvuldige gevalle van gewapende konflikte ervaar wat dikwels óf tot burgeroorlog óf tot interstaatlike oorloë gelei het. My navorsing bied ʼn kritiese studie en analise van die spesifisiteit van burgeroorlogtraumas en die narratiewe voorstellings van hierdie traumas in fiksie en lewensgeskrifte wat uit lande soos Ethiopië, Eritrea, Rwanda, Somalië, Suid-Soedan, Soedan en Uganda na vore kom.
"Op watter maniere ondersoek die verklarings van oorlewendes asook denkbeeldige narratiewe van pyn en lyding maatskaplike krisisse en hoe funksioneer voorstellings van hierdie ervaringe in kontekste van konflik en die nasleep daarvan? Hoe herstel, verlig en herevalueer hulle kontekste van gewelddadige krisis en ontheemding en die samehange daarvan in Oos-Afrika vandag? Wat vertel hulle ons van die plek van Oos-Afrika in die wêreld, en van die aard van Oos-Afrikaanse letterkunde van burgeroorloë en/of gewapende konflikte? En laastens, hoe – en tot watter mate – artikuleer die tekste die nosie van diegene wat deur die gewelddadige konflikte as getraumatiseerde persone ontheem is? Dit is enkele van die reguit vrae wat ek in my projek ondersoek,' verduidelik Tembo, wat in die Departement Engels aan die Chancellor College by die Universiteit van Malawi klasgee.
Sedert hy in 2014 sy PhD via die Nagraadse Skool in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan US begin het, is Tembo genooi om by drie ander internasionale konferensies oor sy navorsing te praat.
Aangesien hy aan die Universiteit van Malawi in die onderrig van letterkunde uit Afrika en Europa spesialiseer, het Tembo besluit om sy navorsingsbelange uit te brei deur vir sy doktorale graad op traumastudies te konsentreer. "Soos die meeste kollegas in my tuisland, wou ek interdissiplinêre navorsing onderneem. Ek het gedink ʼn koppelvlak tussen letterkunde en geskiedenis, politiek, sielkunde en die mediese geestewetenskappe sou interessante resultate lewer. Ek is daarvan oortuig dat die gebied van traumastudie my daarin sal help, asook om te begryp hoe verskillende dissiplines met mekaar in dialoog tree."
Tembo analiseer 12 tekste wat burgeroorlogtraumas te voorskyn roep. Wanneer gevra word hoe hy die lees van sodanige pynlike verklarings ervaar het, sê hy: "Toe ek van hierdie narratiewe gelees het, in die besonder die memoires en outobiografieë, was die eerste gedagte wat by my opgekom het: 'hoe kan een mens dit aan ʼn ander doen'? Dit kan nie net stories wees nie; iets moet iewers verskriklik verkeerd wees. Hoe meer ʼn mens hierdie tekste lees, hoe meer begin jy jouself afvra: 'waar het ons as mense te kort geskiet'? My fokus is dus op wat in ons samelewing aan die gang is en wat dit is wat ons anders moet doen sodat ons samelewings beter plekke kan wees.'
Hy hoop sy eie sukses is nie slegs ʼn bewys is dat harde werk sukses behaal nie, maar dat dit ander nagraadse studente in die fakulteit sal inspireer.
"Ek dank God dat Hy my lig laat skyn. Ek wil ook graag my mentors in die Departement Engels aan die Universiteit Stellenbosch bedank, in die besonder prof. Grace Musila, prof. Annie Gagiano, dr Tilla Slabbert, prof. Sally-Ann Murray, prof. Louisie Green, prof. Tina Steiner en dr Kylie Thomas. Hulle is vriendelike, onselfsugtige en akademies innemende senior kollegas wat my akademiese hoop altyd weer laat opvlam. Die hele departement verdien ook besondere vermelding vir die morele en finansiële ondersteuning wat hulle my altyd gee gedurende my eindelose soeke na kennis en netwerkvorming met internasionale geleerdes deur konferensiebywonings en aanbiedings."
Wanneer hy aan die tyd in Ciprus dink, sê Tembo: "Dit was ʼn ervaring wat my baie nederig laat voel het. Ek het met ʼn aantal geleerdes gedagtes geruil. Ek het ook ʼn aantal besigheidskaartjies van uitgewers ontvang en tydskrifredakteurs het my gevra om by hulle te publiseer. Dit bewys dat iemand daar buite vertroue het in my werk, en ek aanvaar dit nie maar net as vanselfsprekend nie. Ek werk tans aan drie tydskrifartikels wat na ʼn paar van hierdie redakteurs gestuur gaan word."
Foto: Nick Mdika Tembo (derde van links) het onlangs die Timothy Dow Adams-toekenning ontvang en kon ook tydens die 2016-konferensie van die International Auto/Biography Association wat aan die einde van Mei deur die Universiteit van Ciprus, Griekeland, aangebied is, aan ʼn paneelbespreking deelneem. By hom is gesamentlike wenners van die Toekenning Fethiye Çetin (links), Orly Lael Netzer (middel) en a/b: Auto/Biography Studies-redakteur, Ricia Anne Chansky (heel regs).