
Nuus oor SR-memo en onlangse voorvalle by die US
Nuus oor SR-memo en onlangse voorvalle by die US
Die Universiteit Stellenbosch (US) volg 'n benadering van geen verdraagsaamheid teenoor rassisme, diskriminasie, vooroordeel en geweld op kampus.
Soos ons voorheen aangedui het, versterk ons tans ons bestaande maatreëls teen sulke oortredings, stel nuwe, omvattende stappe in, en verbeter voortdurend ons benadering. As die US-leierskap, is ons sensitief vir die welstand van ál ons studente en personeellede én vir die impak wat sulke voorvalle op die Universiteitsgemeenskap het.
Ná die onlangse voorval by Eendrag-koshuis herhaal die Rektoraat dat ons die optrede van studente wat hulle eweknieë se regte skend ten sterkste veroordeel. Ons streef te alle tye na goeie bestuur, robuuste regulasies en regverdigheid.
Ons het die afgelope paar maande verskeie institusionele prosesse met betrekking tot hierdie voorvalle gevolg, en ander bestuurs- en regsprosesse is ook aan die gang. Die doel van hierdie kommunikasie is om die kampusgemeenskap op hoogte te bring van hierdie prosesse, van die onafhanklike Khampepe-kommissie van ondersoek na beweerde rassisme by die Universiteit, en van 'n voorstel wat ons Studenteraad aan die Rektoraat voorgelê het.
US Dissiplinêre Kode vir Studente die rigsnoer vir 'n gesonde kampuslewe
In aangeleenthede van beweerde wangedrag deur studente word die prosedures en tydlyne in die Dissiplinêre Kode vir Studente van die US gevolg. Die Dissiplinêre Kode bied duidelike reëls vir aanvaarbare studentegedrag. Dit skryf dissiplinêre maatreëls en prosedures voor om te sorg dat die Universiteit doeltreffende regstellende stappe doen, op 'n redelike, regmatige en prosedureel billike manier.
Die doel van die Dissiplinêre Kode is om 'n robuuste raamwerk vir grondige besluitneming te bied waarbinne die Universiteit studentedissipline toepas. Alle US-interaksies word deur ons instelling se fundamentele waardes gerig. Alle studente en personeellede moet die Universiteit se waardes van uitnemendheid, verantwoordbaarheid, respek, billikheid en deernis respekteer en bevorder. Hierdie waardes is ook die grondslag waarop die Dissiplinêre Kode toegepas word.
Die Kode draai in wese om die herstel en heling van die US-gemeenskap in die geheel, en van verhoudings tussen individuele lede. Dissiplinêre bevoegdhede wat ingevolge hoofstuk, deel 1, van die Kode uitgeoefen word, kom neer op goeie administratiewe bestuursoptrede en is nie geregtelik nie. Dit is daarom belangrik om daarop te let dat dissiplinêre verrigtinge nie hofverrigtinge is nie.
Strawwe wat ingevolge die Kode opgelê word, erken die pogings wat aangewend is om verhoudings te herstel. Afgesien daarvan om te straf en af te skrik, is dit ook daarop gerig om betrokke studente te rehabiliteer en op te voed. Waar iemand ingevolge die Kode aan wangedrag skuldig bevind word, en waar dit van toepassing is, dra strawwe by tot die herstel en heling van die Universiteitsgemeenskap én van die verhoudings tussen studente en personeellede sowel as tussen studente onderling.
Klik hier vir toegang tot die Dissiplinêre Kode.
Ontwikkelings in die Huis Marais-aangeleentheid
Die dissiplinêre verhoor van mnr Theuns du Toit ná 'n voorval op 15 Mei 2022 by Huis Marais is op 23 Junie 2022 afgesluit. Die US se onafhanklike Sentrale Dissiplinêre Komitee (SDK) het mnr Du Toit op 21 Julie 2022 skuldig bevind aan die oortreding van klousules 3.1, 9.1, 9.3, 13.1 en 13.2 van die Dissiplinêre Kode vir Studente. Du Toit is met verwysing na klousule 7 van die Kode ook skuldig bevind aan die oortreding van die gewysigde Koshuisreëls. Op grond van hierdie bevindinge het die SDK tot die slotsom gekom dat hulle nie anders kan as om mnr Du Toit onmiddellik permanent uit die Universiteit te skors nie. Hy is op 23 Junie 2022 van die redes vir die SDK se besluit in kennis gestel.
Soos wat die Dissiplinêre Kode bepaal, het mnr Du Toit die reg gehad om 'n kennisgewing van appèl teen die SDK se bevinding of straf in te dien. Hy het hierdie reg uitgeoefen en geappelleer. Die appèlverhoor is op 18 Oktober 2022 afgehandel. Die SDK wag tans op die besluit, en die appèluitkoms sal eersdaags bekend wees.
Hierdie aangeleentheid het vyf kwessies behels – die urineringsvoorval, alkoholmisbruik, koshuiskultuur, rassisme, en die toekomstige belange van die Universiteit. Behoorlike prosesse moes gevolg word, waaronder 'n deeglike ondersoek na die saak, 'n billike verhoor deur die US se onafhanklike SDK, sowel as billike voorwaardes vir die reg van appèl, soos die Dissiplinêre Kode vir Studente voorskryf.
Die SDK het in hulle uitspraak gesê hulle het 'n plig om dit duidelik te stel dat die Universiteit nie 'n bastion van ongewenste kulture is nie, en dat rassisme geen plek het by die US nie.
Die SDK funksioneer binne die US se Dissiplinêre Kode en kan nie enige strawwe buite die Universiteit oplê nie. Hulle mandaat het betrekking op die Kode van die Universiteit. Afsonderlike strafregtelike klagte is aanhangig gemaak. Hierdie regsprosesse val nie binne die US se bevoegdheid of beheer nie, hoewel die Universiteit sy volle samewerking sal gee. Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat hulle mnr Du Toit vir strafregtelike saakbeskadiging en crimen injuria sal ondersoek, en van plan is om hom te vervolg.
Die reaksies en emosies wat die Huis Marais-voorval ontlok het, het dit vir ons, as bestuur, duidelik gemaak dat die voetsoolvlakervarings van baie studente en personeellede ernstiger aandag moet ontvang, en dat die institusionele kultuur voortdurende vernuwing verg.
Vorige e-poskommunikasie oor die Huis Marais-aangeleentheid:
- 17 Mei 2022 – Boodskap van die Rektor: Voorval by Huis Marais
- 19 Mei 2022 – Inligting oor die US se dissiplinêre proses
- 23 Mei 2022 – Boodskap van die Rektor
- 24 Mei 2022 – Eksamentydperk met een week uitgestel
- 28 Junie 2022 – Nuus oor onlangse kampusvoorvalle
- 15 Julie 2022 – Nuus oor dissiplinêre proses en kommissie van ondersoek
- 21 Julie 2022 – Bevinding van SDK-verhoor: Mnr Theuns du Toit
Voorval by Helshoogte-koshuis
Die koshuisbestuur van Helshoogte is op 22 September 2022 van 'n urineringsvoorval ingelig en het dit onverwyld vir dringende ondersoek by die tersaaklike Universiteitstrukture aangemeld.
In hierdie geval het 'n besope student op sy kamermaat se stoel geürineer. Die betrokke student is op 22 September 2022 tydelik uit die koshuis geskors in afwagting van die uitkoms van 'n ondersoek en dissiplinêre verrigtinge. Studentedissipline het hulle ondersoek afgehandel, en die voorlopige aantygings is aan die betrokke student voorsien.
Die voorsitter van die SDK het op 25 Oktober 2022 besluit om die aangeleentheid vir 'n verhoor na die SDK te verwys. Ingevolge die Dissiplinêre Kode vir Studente moet die SDK nou die betrokke studente tien werksdae kennis gee van die dissiplinêre verhoor. Die verhoordatum is nog nie vasgestel nie.
Voorval by Eendrag-koshuis
'n Student het na bewering op 22 Oktober 2022 die kamer van twee medestudente by Eendrag-koshuis binnegegaan en op die vloer én op die een student se klere (wat op die vloer gelê het) geürineer. Die Rektor het die betrokke student tydelik uit die Universiteit geskors in afwagting van dissiplinêre verrigtinge teen die student.
Die verhoor om die tydelike skorsing te bevestig vind op 27 Oktober 2022 voor 'n SDK-paneel plaas. Die Dissiplinêre Kode vereis dat dié verhoor plaasvind binne vyf werksdae nadat die student die brief oor sy tydelike skorsing ontvang het. Die doel van die verhoor is om die SDK 'n geleentheid te gee om die Rektor se besluit oor die betrokke student se tydelike skorsing in afwagting van die dissiplinêre verrigtinge te bevestig, te wysig of ter syde te stel.
Studentedissipline se ondersoek na die voorval is tans aan die gang, en sodra dit klaar is, sal voorlopige aantygings aan die betrokke student voorsien word. Hy sal genooi word, dog nie verplig word nie, om binne 72 uur ná ontvangs van die aanvanklike aantygings 'n verklaring in te dien. Wanneer sy verklaring ontvang word of – indien geen verklaring ontvang word nie – sodra die 72 uur verstryk, sal Studentedissipline die lêer na die voorsitter van die SDK verwys om op die gepaste dissiplinêre roete te besluit. Indien die voorsitter die saak vir 'n verhoor na die SDK verwys, moet die betrokke student tien werksdae kennis van sodanige verhoor ontvang.
Onafhanklike Khampepe-kommissie van ondersoek na beweerde rassisme op kampus
Die werk van die onafhanklike Khampepe-kommissie van ondersoek na beweerde rassisme by die US het amptelik op 13 Junie 2022 begin.
Die kommissie onder leiding van die hoog aangeskrewe regter Sisi Khampepe het opdrag ontvang om die Rektor van aanbevelings te voorsien om die US sy kultuur van diversiteit, billikheid en insluiting te help verbeter, met spesifieke verwysing na rassisme, sodat alle studente en personeel se menswaardigheid en eiewaarde beskerm en bevorder kan word.
Die kommissie het sy werk oor die afgelope paar maande deur geslote verrigtinge onderneem om vertroue in die ondersoek te skep en openhartige deelname aan te moedig. Getuies se identiteite, ander persoonlike inligting en getuienis sal vertroulik bly.
Die Universiteitsleierskap beskou hierdie belangrike proses as 'n belegging in die skep van 'n veilige en inklusiewe kampuslewe vir almal.Die kommissie se verslag sal openbaar gemaak word sodra die US-bestuur die inhoud daarvan bestudeer het.
Nuus oor memorandum wat van die Studenteraad ontvang is
Die Studenteraad (SR) het 'n memorandum oor die verbetering en beskerming van 'n harmoniese kampuslewe vir almal by die US-leierskap ingedien.
Die memorandum, wat uit 22 voorstelle bestaan, word tans noukeurig bestudeer en is vir terugvoer en ter inligting na verskeie departemente verwys. Om na haalbare maniere te soek om die SR se voorstelle te implementeer, moet alle praktiese implikasies oorweeg word. Die US Rektoraat sal binnekort verder hieroor kommunikeer.
Klik hier vir 'n uiteensetting van die SR se voorstelle en die aksies wat tans aan die gang is om implementering in die hand te werk.