
Meer bewyse vir verband tussen mikrobloedklonte en graad van Covid-19
Nuwe navorsing toon dat die Omicron-virus en sommige van sy variante aansienlik laer vlakke van bloedstolling tot gevolg het. Dit verskaf verdere bewys vir die onderlinge verband tussen die graad van die siekte en die voorkoms van voortdurende mikrobloedklonte in individue met akute, sowel as Lang-COVID.
Prof Resia Pretorius, 'n navorser in die Departement Fisiologiese Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US), Suid-Afrika, het in 2020 vir die eerste keer hierdie verband raakgesien toe sy inflammatoriese mikrobloedklonte opgemerk het in die bloedmonsters van individue wat aan Lang-COVID ly. Op grond van 'n lang-termyn samewerking met Prof Douglas Kell van die Universiteit van Liverpool, het hulle kon wys dat die mikroklonte pro-inflammatoriese molekules bevat wat dikwels met verskeie inflammatoriese siektes geassosieer word. Die resultate van beide studies is in die vaktydskrif Cardiovascular Diabetology gepubliseer, in 2020 en 2021.
Hierdie onoplosbare mikroklonte belemmer die bloedvloei na die kapillêre vate en gevolglik ook suurstofoordrag na die weefsel. Die navorsers glo tans dat hierdie tekort aan suurstof in verskeie dele van die liggaam die oorsaak kan wees vir die meeste van die simptome van Lang-COVID soos konstante moegheid, kortasemheid, breindofheid en gewrigs- en spierpyn.
Prof Pretorius sê dat die gebrek aan die afbraak van bloedklonte beduidende kliniese waarde ken hê: “Daar is 'n goue draad wat deur die patologieë loop wat in postvirale sindrome soos Lang-COVID opgemerk is. Ons bevindings dui daarop dat hiperstolling en vaskulêre skade sleutelrolspelers is in die oorsaak van die wye reeks simptome wat ons by pasiënte met Lang-COVID teëkom."
Meer onlangs het Prof Pretorius en Prof Kell saam met 'n span mediese spesialiste in Suid-Afrika en die Verenigde State gewerk. Hulle wou vasstel of die verskil in die graad van bloedstolling geassosieer met verskillende virale stamme van die SARS-CoV-2 virus, 'n geloofwaardige verklaring kan bied vir die waarneming dat individue relatief minder ernstig siek geword het van die Omicron-variante gedurende akute COVID-19 infeksies.
Terwyl die vroeëre variante ernstige siekte en dodelik siek pasiënte veroorsaak het, het die hoogs gemuteerde Omicron-variante ligter simptome tot gevolg gehad, wat meestal 'n loopneus, rinitishoofpyne, moegheid (wat wissel van lig tot ernstig), nies en 'n seer keel ingesluit het.
Vir die doel van die studie, het hulle 'n herontleding gedoen van die data en bloedmonsters van gestoorde bloedmonsters van tien pasiënte wat met COVID-19 gediagnoseer is weens Belta en Delta-infeksies tussen Oktober 2020 en September 2021.
Die span het ook bloedmonsters versamel van pasiënte wat met die Omicron-variant geïnfekteer is. Daar is bevind dat in al tien bloedmonsters daar aansienlik minder aantal mikroklonte voorgekom het, in vergelyking met wat in die Beta- en Delta- monsters waargeneem is.
In 'n onlangse webinaar oor die onderwerp het Dr Mark Walsh, 'n noodgeneesheer by die Saint Joseph Regional Medical Center in die Verenigde State van Amerika, gesê dat Profs Pretorius en Kell se grondslagwerk hulle gehelp het om die stollingskomplikasies van COVID-geïnduseerde stollingsafwykings by pasiënte met akute COVID-19 te verklaar. Hy is ook een van die mede-outeurs van die artikel.
“Ons kon nie verstaan waarom pasiënte met COVID-geïnduseerde stollingsafwykings terselfdertyd bloedklonte gevorm het én gebloei het nie. Ons het nou die patofisiologiese grondslag vir 'n punt-van-sorg behandelingsbenadering wat gefundeer is op uitstekende navorsing," sê hy.
Volgens Prof Kell is dit selfs méér belangrik dat die bevindings ooreenstem met die siening dat hierdie onoplosbare mikroklonte nié 'n newe-effek van COVID-19 is nie, maar deel is van die ontwikkeling van die siekte. Hy waarsku egter dat ons nog nie weet wat die impak hiervan sal wees op Lang-COVID nie, asook die onderlinge verband met ander postvirale sindrome soos Mialgiese Enkefalomiëlitis/Chroniese Moegheidsindroom (ME/CFS), post-Zika of post-Dengue siektes nie.
- Die artikel “Relative hypercoagulopathy of the SARS-CoV-2, Beta and Delta variants when compared with the less severe Omicron variants is related to TEG parameters, the extent of fibrin amyloid microclots, and the severity of clinical illness" sal binnekort in die vaktydskrif Seminars in Thrombosis and Hemostasis gepubliseer word. 'n Voorafdruk van die aritkel is intussen beskikbaar by https://www.researchsquare.com/article/rs-1970823/v1.
- Die webinaar “COVID-induced Coagulopathy (CAC): The clot thickens…or not?" word aangebied deur Dr Mark Walsh, Prof Resia Pretorius en Prof Douglas Kell, met Dr Asad Khan as gesprekleier. Dit is aanlyn beskikbaar by https://youtu.be/yyf7xunWydM
Op die foto bo: 'n Mikrografiese uitbeelding wat die hoeveelheid mikro klonte in die onderskeie bloedmonsters verteenwoordig. Daar is bevind dat in al tien bloedmonsters van die Omicron-pasiënte, daar aansienlik minder mikroklonte voorgekom het, in vergelyking met wat in die Beta- en Delta- monsters waargeneem is. Verskaf deur Mireille Grobbelaar