
Matie-student ontmoet internasionale leiers in Chicago
Kan stede lande se probleme oplos? Hoe kan stede die toekoms omvorm? Dis van die vrae wat akademici, sake- en regeringsleiers van oor die wêreld by die 2016 Chicago Forum oor globale stede gaan bespreek. Onder hulle is 'n student van Universiteit Stellenbosch.
Rickus Cronje, 'n meestersgraadstudent in bedryfsingenieurswese, is deel van 'n studente afvaardiging wat die konferensie vanaf 1-3 Junie 2016 in die VSA bywoon. Hy en studente van die VSA, die Verenigde Koninkryk, China, Mexiko, Israel, Kanada, Ierland , Singapoer en Taiwan gaan met wêreldleiers soos Henry M. Paulson, voormalige sekretaris van die Amerikaanse Tesourie, Carl Bildt, voormalige eerste minister en minister van buitelandse sake van Swede en Tessa Jowell, lid van die House of Lords in die Verenigde Koninkryk ontmoet en beraadslaag.
Die studente vanuit studievelde soos argitektuur, ekonomie, omgewing ingenieurswese, internasionale sake, politieke wetenskap, openbare beleid en stadsbeplanning gaan saam aangeleenthede rakende globale stede bespreek.
Rickus, wat einde Mei na Chicago vertrek, sê hy is opgewonde oor die "diversiteit gerespekteerde globale leiers" wat die konferensie bywoon.
"Hierdie is leiers in die top strukture van stedelike lewe ― sake innoveerders, kulturele uitgelesenes, onderwys en burgerlike pioniers en hulle verteenwoordig 'n groot deel van die wêreld. Dit is wonderlik dat hulle 'n gesprek voer oor hoe hulle hul stede verbeter. Die doel is om saam te werk om die wêreld te verbeter. Ek is ook opgewonde om die res van die student afvaardiging te ontmoet."
Rickus sê hy wil bydra tot inklusiewe innovasie, volhoubaarheid en gemeenskapsontwikkeling in Suid-Afrika. Hy hoop om 'n loopbaan in hernubare energie te volg en wil ook 'n bydrae lewer tot geloof-gebaseerde organisasies.
"My studies streef daarna om tot volhoubare energieverbruik tegnologie in Suid-Afrika by te dra. Dit kan behaal word deur die ontwikkeling van 'n sakemodel wat hernubare energie tegnologie toelaat om die nasionale elektrisiteit netwerk in informele nedersettings te omseil. Ek kyk na Enkanini, 'n informele nedersetting in Stellenbosch, en kry wenke van die Universiteit Stellenbosch se iShack-projek. "
Rickus se nominasie en keuring is deur die Nagraadse en Internasionale Kantoor en Skool vir Publieke Leierskap moontlik gemaak.