Skip to main content
Hersiening van US se Taalbeleid gaan voort

Hersiening van US se Taalbeleid gaan voort

Korporaiewe Bemarking/ Corporate Marketing
19 Mei 2016

Die Universiteit Stellenbosch (US) kan ongestoord voortgaan met die hersiening van sy Taalbeleid en die Taalkomitee van die Raad kan ook sy werksaamhede voortsit. Dit volg nadat AfriForum Jeug en vyf ander applikante vandag (19 Mei 2016) kort voor die aanhoor van hul aansoek – dat die US die hersiening van die Taalbeleid moet staak – hul aansoek in geheel teruggetrek het.

Dit sluit onder meer die terugtrekking van hul aansoek vir hersieningsregshulp in, asook hul aansoek vir die tersydestelling van die Raad se aanstelling van ‘n komitee vir aangeleenthede wat met die US se Taalbeleid en Taalplan verband hou.

Kragtens die ooreengekome bevel sal regskoste oorstaan vir latere beregting; en sal die US die bestaande taalspesifikasies toepas totdat sy huidige Taalbeleid en -plan gewysig of vervang word.

Die algehele terugtrekking van die aansoek volg nadat die Universiteit AfriForum Jeug se dringende interdik-aansoek van 8 April 2015 – dat die taalbeleidhersieningsproses gestaak moet word – geopponeer het. Die Hof het op 15 April 2015 die verhoor van hierdie aansoek tot 19 Mei 2016 uitgestel.  

Die buitengewone raadsvergadering op Saterdag 21 Mei 2016 sal nou kan fokus op die sake van die dag.