
CEBHC aangewys as Sentrum van Uitnemendheid in Implementeringsnavorsing
Die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (CEBHC) is onlangs deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) aangewys as die Afrika-streek se Sentrum van Uitnemendheid in Implementeringsnavorsing. Dit vorm deel van die WGO se inisiatief om vermoëns in implementeringsnavorsing te versterk (Strengthening Capacity for Implementation Research/SCAPIR).
"Die status as Sentrum van Uitnemendheid gee erkenning aan die CEBHC en fakulteit se gevestigde reputasie in die wetenskapsveld wat handel oor die omsit van navorsingsbevindings in beleid en praktyk, gebaseer op 'n bewese rekord van publikasies, onderwys en raadgewing in hierdie veld," sê prof Charles Wiysonge, adjunk-direkteur van die CEBHC by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
Die CEBHC is een van slegs ses Sentrums van Uitnemendheid in Implementeringsnavorsing in die wêreld en het die taak om vermoëns te help ontwikkel in implementeringsnavorsing by ander instansies in Afrika. Dit sal gedoen word deur die ontwikkeling van opleidingskursusse; die implementering van ʼn skema vir klein toelaes; en die ontwikkeling en deel van gevallestudies in implementeringsnavorsing wat gebruik kan word vir opleidingsdoeleindes by ander instansies.
Implementeringsnavorsing verwys na die wetenskaplike ondersoek om te bepaal of navorsing die doel bereik het waarvoor dit aanvanklik aangepak is. "In gesondheidsnavorsing kan dit verwys na beleid, programme of intervensies," verduidelik Wiysonge.
"Die doel van implementeringsnavorsing is om die wat, hoekom en hoe van intervensies in 'n 'regte wêreld'-opset te verstaan en om benaderings te toets om dit te verbeter. Implementeringsnavorsing poog om 'regte wêreld'-toestande te verstaan en daarbinne te werk liewer as om hierdie toestande te probeer beheer of die invloed daarvan toe te skryf as toevallige effekte."
Volgens Wiysonge is die veld van implementeringsnavorsing besig om te groei, maar is daar nog nie baie insig daarin nie, ten spyte van die behoefte vir beter navorsing om besluite oor gesondheidsbeleid, -programme en -praktyk in te lig.
"Deur die opleidingsentrums, sal die ontwikkeling van en aanvraag vir plaaslik navorsing wat probleem-gefokus en aksie-georiënteerd is ondersteun word. Die sentrums sal die vermoëns van implementeerders ontwikkel om hindernisse en geleenthede vir implementering te identifiseer wat aangespreek kan word," sê Wiysonge.
"Dit sal ook vennootskappe fasiliteer tussen implementeerders en navorsers met die gedeelde doelwit om voortdurende verbeterings in program-implementering mee te bring.
"Op hierdie manier sal die sentrum 'n aanvraag vir implementeringsnavorsing kweek wat in lyn is met programbehoeftes en wat veral relevant is vir lae- en middel-inkomstelande."
- See more at: http://www0.sun.ac.za/vivus/a…