Skip to main content
Bietjie troos ná Matie-harte breek

Bietjie troos ná Matie-harte breek

André Huisamen; Maties Sport
13 April 2016

​Ná 'n uitstekende Varsitybeker-seisoen is FNB Maties se kaptein, Beyers de Villiers, aangewys as die voorspeler van die 2016 Varsitybeker-toernooi, terwyl Maties se heelagter, Craig Barry, as die agterspeler van die toernooi aangewys is.

Hierdie nuus het bietjie troos gebring nadat Matie-harte Maandagaand gebreek is toe FNB Pukke in ’n stampvol Danie Craven-stadion ’n oorwinningsdrie in die doodsnikke van die 2016 FNB Varsitybeker-finaal gedruk het.

In een van die spannendste wedstryde wat al in die Danie Craven-stadion gespeel is, het FNB Pukke daarin geslaag om die wedstryd 7-6 te wen. Die halftydtelling was 0-0.

Maties het die eerste punte van die wedstryd in die tweede helfte aangeteken met twee strafskoppe deur losskakel Chris Smith, wat inderhaas moes instaan vir Ernst Stapelberg wat tydens die opwarming beseer is.

Die tyd was al verby en Maties was 6-0 voor toe Pukke op die Maties se doellyn begin boer het. Uiteindelik het Pukke se flank Marno Redelinghuys in die 89ste minuut daarin geslaag om langs die pale te gaan druk. Pukke se Ryno Smith het die drie verdoel om Maties se harte te breek.

Pukke is as Varsitybeker-kampioene gekroon nadat hulle in 2014 en 2015 in die finaal verloor het.

  • ​​Die pragtige Joy Mashego, 'n BRek-student van die Universiteit Stellenbosch, is Maandag met halftyd as Mej Varsitybeker gekroon.

Fotokrediet: Stellenbosch Sentrum vir Fotografiese Dienste