
US ken rekordgetal doktorsgrade toe
Altesaam 139 doktorsgrade is Woensdag (16 Maart 2016) by die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtigheid as deel van van die 2015 akademiese jaar toegeken. Dit bring die totaal doktorsgrade vir die 2015 akademiese jaar op 266 te staan, wat die meeste doktorsgrade nóg vir een akademiese jaar aan die US is.
In die Fakulteit Natuurwetenskappe is 28 doktorsgrade verleen vir ʼn totaal van 50 vir die 2015 akademiese jaar. Dit is die meeste doktorsgrade wat in een akademiese jaar in die Fakulteit toegeken is.
Die Fakulteit Ingenieurswese was kort op die hakke van Natuurwetenskappe met 21 doktorsgrade (39 vir 2015 akademiese jaar) waarvan vier deur personeellede in die Fakulteit verwerf is. Louis Roodt, André Theron, Isobel Brink en Riaan Combrinck het almal doktorsgrade in Siviele Ingenieurswese ontvang.
Die Fakulteit Ingenieurswese was egter nie die enigste waar personeellede met die hoogste akademiese kwalifikasie beloon is nie. Bonga Chiliza, Jacques Jason, Eduard Langenegger, en Taryn Young van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het almal doktorsgrade verwerf.
Ook onder die doktorandi was Ronalda Benjamin, 'n vorige wenner van die Rektor se Uitstygtoekennings, wat haar doktorsgraad in Wiskunde ontvang het. Sy is tans ʼn dosent in Wiskunde aan die US as deel van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se Program vir ʼn Nuwe Generasie Akademici (nGAP).
Ronalda is ʼn oud-leerder van die Hoërskool Breërivier in Worcester en het grootgeword in 'n gebied wat bekend is vir bendegeweld en dwelmverwante misdaad. Haar gesin moes verskeie finansiële uitdagings die hoof bied.
"Dis regtig 'n wonderlike gevoel van trots en dankbaarheid om hierdie PhD-reis te kon voltooi. Ek is dankbaar ook aan almal wat my aangemoedig het wanneer ek 'moeg' geword het," het Ronalda na die plegtigheid gesê.
Sy het jongmense wat ook moeilike omstandighede in die gesig staar aangemoedig om nie toe te laat dat dit hulle terug hou nie, maar eerder hard te werk, deursettingsvermoë aan die dag te lê, en altyd hul beste te gee.
Ronalda sê sy beplan om die Universiteit van Leiden in Nederland in die tweede semester te besoek.
By dieselfde seremonie het prof Helmut Prodinger van die Departement Wiskunde 'n DSc (doktorsgraad in Wetenskap) ontvang vir sy hoogstaande bydrae oor dekades heen tot die analise van benaderde telling. Benaderde telling is 'n klassieke tegniek wat in rekenaarwetenskap gebruik word waardeur groot hoeveelhede data hanteer kan word, te midde van beperkte kapasiteit.
Vir hierdie graad word reeds gepubliseerde wetenskaplike werk(e) van hoë standaard, wat onder meer 'n wesenlike en hoogstaande bydrae tot die kennis van 'n spesifieke studieveld gelewer het, in ag geneem. Dit volg ná 'n PhD en behels alle navorsing wat oor 'n navorser se loopbaan heen gedoen is.
Prodinger is by dieselfde plegtigheid ook met ʼn Kanselierstoekenning vereer.
Onder die doktorale kandidate tydens Woensdagmiddag se plegtigheid vir die Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid, Teologie en Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, was Elton Fortein oorspronklik van Cloetesville in Stellenbosch.
Hy het sy PhD in Teologie as 'n ware seën beskryf. "Ek is so verheug en geëerd." Fortein, wat tans 'n predikant by 'n VGK-gemeente (Verenigende Gereformeerde Kerk) in Citrusdal is, het gesê hy beplan om vir eers sy akademiese prestasie te geniet voor hy verdere planne vir die toekoms maak.
Volgens sy ma, mev Jennifer Fortein, wat al sedert 2001 by die US se Fakulteit Teologie werk, kon sy sweerlik nie meer trots op haar seun wees nie. "Die twee van ons het nog altyd 'n spesiale band gehad," het sy gesê. "Ons het al moeilike tye oor die jare beleef, maar ons het daardeur gekom en vandag kan ons net dankbaar wees. Ons het nooit ophou glo," het sy bygevoeg.
- Foto: Ronalda Benjamin, Jennifer en Eugene Fortein, en personeellede van die Fakulteit Ingenieurswese na afloop van die gradeplegtiheidseremonie.
- Fotograaf: Stefan Els