Skip to main content
Eerste oes graduandi in MSc Volhoubare Landbou vir SA

Eerste oes graduandi in MSc Volhoubare Landbou vir SA

Korporatiewe Bemarking / Corporate Marketing
14 Maart 2016

Universiteit Stellenbosch (US) graduandi Busi Mahlobo, Sakeus Kafula, Tshepo Morokong and Zander Venter is almal pioniers, aangesien hulle onder die eerste studente in Suid-Afrika is om die graad MSc Volhoubare Landbou agter hul name te skryf. Hulle het Maandag hul grade ontvang tydens die eerste Maart-gradeplegtigheid van die US.

In Desember 2015 het Tawanda Marandure die voortou geneem deur die eerste student te word om hierdie graad te behaal.

Die studente het almal in 2014 ingeskryf toe die MSc-program in Volhoubare Landbou van stapel gestuur is. Dit is ʼn inisiatief tussen die Fakulteit Agriwetenskappe aan die US, Wageningen Universiteit Navorsingsentrum in Nederland, en Conservation South Africa.

"Met vanjaar se droogte, voedselprysstygings en nuwe markkompleksiteite weens byvoorbeeld die AGOA handelsooreenkoms, kon hierdie graduandi nie op ʼn beter tyd gekwalifiseer het nie," sê ʼn trotse prof Kennedy Dzama, spanleier van Volhoubare Landbou Suid-Afrika en voorsitter van die Departement Veekundige Wetenskappe aan die US.

"As toekomstige praktisyns en beleidmakers vir ons land se voedselstelsel, is hulle nou beter toegerus om komplekse en omstrede onderwerpe soos klimaatsverandering, geneties aangepaste voedsel, voedselafval, grondhervorming en vele meer te hanteer. Ons is ontsettend bly oor hierdie mylpaal, en ook opgewonde oor die feit dat al ons studente hul grade in 'n goeie tyd voltooi het," voeg prof Dzama by.

"Hierdie jong wetenskaplikes is toegerus met ʼn hele aantal kwantitatiewe instrumente om probleme en kwessies in landbou volgens ʼn stelsel- en transdissiplinêre benadering aan te pak," verduidelik Julia Harper, bestuurder van die Universiteit Stellenbosch Voedselsekuriteit-inisiatief, en deel van die projekbestuur van die program.

"Hulle het ʼn aantal kwessies bestudeer, wat wissel van die volhoubaarheid van waardekettings in kleinboer-gemeenskappe, tot dié van grootskaalse kommersiële boerderybedrywighede."

Die teoretiese basis van die program het 'n unieke Werkgeïntegreerde Leer-module as basis, en neem werklike gevalle onder die loep. Daardeur werk studente saam met ʼn industrievennoot – Distell in die geval van die 2014 inname – om ʼn navorsingsvoorstel te ontwikkel wat ʼn relevante bedryfsverwante probleem aanspreek. Dit vorm ook die basis vir hul minitesisse.

Die graduandi moes vir Distell help om die verlies aan biodiversiteit en die geleidelike agteruitgang van grond in talle Wes-Kaapse wingerde op te los. Hulle het sodoende die moontlike gebruik van inheemse plante as dekgewasse in wingerde ondersoek. Onderhoude is met ʼn aantal boere gevoer oor wat hulle as die ideale dekgewas beskou. Dit is gevolg deur ʼn intensiewe literatuurstudie, besoeke aan botaniese tuine waarin inheemse plante groei en onderhoude met bewaringskundiges en wingerdboukundiges. ʼn Hele aantal inheemse plante is in die proses geïdentifiseer wat as dekgewasse gebruik kan word om die biodiversiteit in wingerde te verhoog en daarby ook gronddegradasie aan te spreek.

Meer oor die MSc-program:

Die program bestaan uit modules vanuit die natuurwetenskappe, geesteswetenskappe en ekonomie. Dit raak aan ʼn breë verskeidenheid onderwerpe wat betrekking het op die komplekse probleem van volhoubaarheid in die landboubedryf.

Deur die kursus pak die studente vrae soos: Hoe voed ons die wêreld terwyl ons steeds ekostelseldienste en maatskaplike gelykheid en regverdigheid in stand probeer hou? Lê antwoord vir die wêreld se voedselprobleme in organiese landbou? Hoe het die geskiedenis van apartheid die landboulandskap beïnvloed, en hoe kan ons hindernisse aanspreek wat in die pad staan van ontluikende swart kleinboere?

Die eerstejaar-modules sluit in: 'n inleiding oor stelseldenke en aspekte rondom kompleksiteit; aspekte rondom volhoubare grondbestuur, veeteelt, plantproduksie en beskerming; biometrie; biodiversiteit en ekostelsel-dienste in agri-landskappe; sosiologiese en ekonomiese aspekte rondom volhoubare landbou; stelselanalises en simulasies; en 'n analise van grondgebruikstelsels. In hul tweede jaar spits studente hulle toe op individuele navorsingsprojekte.