
US maak volhoubaarheid tasbaar
Volhoubaarheid is die gonswoord van die 21ste eeu én een van die Universiteit Stellenbosch (US) se voorrangsake. Onlangse ontwikkelings op die US-kampusse maak omgewingsvolhoubaarheid nou 'n tasbare werklikheid.
Volgens die Wêreldkommissie oor die Omgewing en Ontwikkeling is volhoubaarheid die vermoë om in huidige menslike behoeftes te voorsien en lewensgehalte te verbeter en te ontwikkel, sonder om meer materiaal en energie te verbruik as wat ons ondersteuningstelsels tans kan hanteer. So, wat presies beteken volhoubaarheid vir die US?
"Volhoubaarheid is 'n onmisbare element van die universiteit se Institusionele Voorneme en Strategie," sê dr Barbara Pool, Direkteur: Projekte, wat die Volhoubaarheidsinisiatief bestuur. "Die universiteit moet let op die ekologiese voetspoor wat sy werksaamhede op die omgewing laat. Dit sluit ons navorsing asook ons fasiliteite soos geboue, proefplase en tuine in," voeg sy by.
Volhoubaarheid verwys ook na die impak van werksaamhede op mense, die samelewing en die ekonomie. "Dit geld veral vir ons as 'n universiteit, want ál ons kernbedrywighede – leer en onderrig, navorsing en sosiale impak – is op mense gerig," sê Pool.
In antwoord op hierdie volhoubaarheidsdoelwitte bedryf die universiteit verskeie inisiatiewe met die oog op waterbesparing, herwinning, energiebesparing en mobiliteit. "Daarbenewens het ons 'n aantal ander opwindende projekte wat reeds vrugte afwerp, soos die bewaring van berggebiede, gereelde boomplant- inisiatiewe, 'n 'eko-laan' op ons Tygerberg-kampus, en die uilhokprojek op die Stellenbosch-kampus," sê Pool.
Tygerbergkampus is geleë in 'n gebied waar Kaapse Vlakte-sandfynbos histories voorgekom het. Tog het snelle verstedeliking dié plantegroei dermate uitgewis dat slegs 15% oorgebly het, waarvan net 5% in 'n goeie toestand is. Toe die studentekoshuis Huis Ubuntu op die Tygerberg-kampus gebou is, het dit 'n geleentheid gebied om nuwe tuine om die gebou aan te lê.
In oorleg met plantkundiges van die Stad Kaapstad en die Plattekloof-erfenisterrein is 'n verskeidenheid spesies uit die Kaapse Vlakte-sandfynbosgroep gekies om langs 'n nuwe eko-laan te gebruik. "Die gedagte met die eko-laan is dat studente, personeellede en besoekers op die kampus kan rondbeweeg op 'n roete wat deur plaaslike fynbos loop. Tot dusver is sowat 250m van die eko-laan aangelê, en sal 'n geraamde 1km uiteindelik beskikbaar wees sodra fase 3 van die projek voltooi is. Die einddoel is dat die eko-laan om die hele kampus sal loop," sê Meg Hamilton, Omgewingsbestuurder in die US se Afdeling Fasiliteitsbestuur.
Dieselfde endemiese tema is na alle nuwe landskappe op die Tygerberg- kampus uitgebrei en enige nuwe plante wat gebruik word, moet uit die lys spesies kom waarop daar saam met die plantkundiges van die Stad Kaapstad en die Plattekloof-erfenisterrein besluit is.
'n Geskatte 5 030m2 van die kampuslandskap is nou endemies, wat Tygerberg onteenseglik 'n "groen" kampus maak. Van die plante wat in die fynbos-gebiede op kampus aangetref word, is proteas, restio's (Restionaceae), asters en erikas (heide). Inheemse jaarplante en -bolle is ook volop in die lente.
Afgesien van die natuurskoon van die fynbos, hou dit ook 'n aantal voordele in. Kaapse Vlakte-sandfynbos is natuurlik aangepas by die plaaslike klimaat. Dít beteken dit vereis minder water in die somermaande en kan ook die nat Kaapse winters deurstaan.
"Die fynbos dra ook by tot die biodiversiteit van die omgewing deur 'n groen korridor in 'n oorwegend stedelike gebied te skep en sodoende voëls en ander diere wat natuurlik in dié streek voorkom hierheen te lok. Daarom hoef ons nou minder plaagdoders te gebruik, want die plaaslike fauna tree as natuurlike roofdiere op," sê sy.
Ideaal beskou, is 'n ekologies volhoubare kampus een waar geen chemiese gifstowwe gebruik word om plae te beheer nie. Een manier om hierdie dilemma te hanteer is om meer roofvoëls na die kampus te lok sodat minder gifstasies vir die beheer van rotte, muise en ander knaagdiere gebruik hoef te word. Dít was dan ook die beweegrede vir die uilhokprojek op Stellenbosch-kampus. "Steenuile en nonnetjiesuile teel aan in die stedelike groenstroke wat deur die meeste Wes-Kaapse voorstede loop. Om hierdie uile na Stellenbosch- kampus te lok, is tien uilhokke in 2012 en 2013 verspreid oor die kampus aangebring. Die gedagte is om die voëls van broeiplekke in die kampustuine te voorsien," sê Hamilton.
Uilpare sal hopelik uiteindelik hierdie kunsmatige ruimtes gebruik om hulle kleintjies in groot te maak, wat knaagdiere en verskeie insekspesies sal help beheer sonder dat skadelike chemikalieë gebruik hoef te word. "Jong uile wat in hierdie hokke grootword, sal hierheen terugkeer om hul eie kleintjies groot te maak. Hierdie kenmerk, wat as sogenaamde 'geboorteherkenning' bekend is, sal na verwagting selfs méér voëls na die omgewing van die uilhokke lok," verduidelik Hamilton.
Hoewel 'n paar steenuile al op kampus opgemerk is, moet nonnetjiesuile nog hulle verskyning maak. Hopelik sal 'n hele paar uile die hokke as 'n teelplek sien en binnekort daarin begin broei.
"Die universiteit se Volhoubaarheidsinisiatief bied reeds verskeie voordele vir die omgewing, mense én ons finansiële lewensvatbaarheid. Daar is nog baie om te doen, maar met soveel rolspelers wat geesdriftig saamwerk, kan die universiteit na 'n baie lang en volhoubare toekoms uitsien," reken Pool.
ONDERSKRIF: Die Eko-laan op die Tygerberg-kampus. Foto: Stefan Els
- Hierdie artikel verskyn in die jongste uitgawe van die US-tydskrif, Matieland. Lees die tydskrif by www.sun.ac.za/matieland. Jy kan ook op hierdie webblad registreer om die tydskrif gratis te ontvang.