
Stellenbosch-Tygerberg-span eerste in SA om revolusionêre prostaatprosedure uit te voer
ʼn Revolusionêre prosedure ter verligting van urineringsprobleme by mans wat verlede week die eerste keer in Suid-Afrika deur ʼn span van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Tygerberg- Akademiese Hospitaal uitgevoer is, bied hoop vir die groot persentasie mans ouers as 40 wat aan goedaardige prostaathiperplasie (GPH) ly.
Die prosedure is op 4 November in die Tygerberg-hospitaal op vyf pasiënte uitgevoer deur prof André van der Merwe, Hoof van die Afdeling Urologie van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en allerweë bekend as die chirurg wat die wêreld se eerste suksesvolle penisoorplanting in 2014 gedoen het, en dr Pieter Spies, ook van die Afdeling Urologie.
Hierdie nie-chirurgiese prosedure wat tien minute of minder duur en geen seksuele newe-effekte het nie, bied hoop aan baie mans wat weens ʼn vergrote prostaat probleme ervaar soos ʼn stadige urinestroom, ʼn gesukkel om te begin urineer, gereelde urinering, die noodsaak om snags te urineer, of pyn ná ejakulasie of tydens urinering. Meer as die helfte van mans ouer as 70 ervaar hierdie simptome.
Tot nou was chirurgie die enigste beskikbare behandeling vir Suid-Afrikaanse pasiënte wat nie op GPH-medikasie reageer nie en tot 40% van pasiënte met simptomatiese GPH het chirurgie nodig.
Die algemeenste chirurgie vir GPH is transuretrale reseksie van die prostaat (TURP) en laser-enukleasie/reseksie van die prostaat. Dit word onder spinale of algemene verdowing gedoen en vereis gewoonlik hospitaalverblyf van twee of drie dae.
Die wagtyd vir hierdie prosedure in staatshospitale soos Tygerberg is tot drie jaar (daar is tans 320 pasiënte op Tygerberg se waglys), hoofsaaklik weens ʼn tekort aan beddens en beperkings op teatertyd.
TURP-chirurgie het ook newe-effekte, soos retrograde ejakulasie, bloeding en selfs erektiele disfunksie in sommige gevalle.
Die prosedure wat Van der Merwe en sy span uitgevoer het, staan bekend as Rezūm-waterdampterapie. Die natuurlike energie wat in die vorm van stoom in die waterdamp gestoor word, word gebruik om die oortollige prostaatweefsel wat op die urinebuis druk, te verwyder.
Dit is die eerste nie-chirurgiese behandelingsopsie vir GPH-pasiёnte wie se mediese behandeling misluk het of wat nie lewenslank medikasie wil gebruik nie. Dit is die afgelope vyf jaar met groot sukses in Europa en die VSA toegepas.
Wat die behandeling so revolusionêr maak, is dat dit op die langste tien minute neem en in ʼn buitepasiёnt-omgewing gedoen kan word. Dit het die US-span in staat gestel om verlede week die eerste vyf prosedures in Tygerberg se urologie-dagteaterkompleks uit te voer.
Spies beskryf die ervaring as uiters positief en as ʼn bewys dat die prosedure suksesvol in ʼn hulpbron-beperkte omgewing en in ʼn dagteater gedoen kan word.
“Die langste prosedure het 10 minute geneem. Ons het algemene narkose gebruik net om veilig te wees, maar ons sal voortaan bewuste sedasie gebruik. Ons het konserwatief te werk gegaan en die pasiënte oornag gehou, maar hulle sal voortaan op dieselfde dag ontslaan word."
Spies vertel dit het hom en Van der Merwe ʼn paar jaar geneem om Boston Scientific, die maatskappy wat internasionaal vir die tegnologie verantwoordelik is, te oortuig om die produk na Suid-Afrika te bring en dit by die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte geregistreer te kry. Hulle twee en vyf private spesialiste is deur Boston Scientific opgelei en hulle is geakkrediteer. Die tweede stel prosedures sal op 17 November deur private spesialiste uitgevoer word.
“Die lang reis om die produk uiteindelik na Suid-Afrika te kan bring was die moeite werd en die resultate van verlede week se prosedures het ons wildste verwagtinge oortref," sê Spies.
“Ons beskou dit as die antwoord op ons reuse waglysprobleem. Dit het twee ure geneem om vyf pasiënte te help, vergeleke met die anderhalfuur per pasiënt wat deur chirurgie vereis word.
“Dit sal veral voordelig wees vir ouer mense wat nie chirurgie kan ondergaan nie, pasiënte wat van medikasie afhanklik is en ouer mense met kateters. Ons kan hulle sonder die risiko van narkose en chirurgie van hul kateters bevry."
Van der Merwe sê opgeleide chirurge sal die prosedure maklik kan uitvoer. Die enigste bekommernis is die koste-effektiwiteit van die produk. Boston Scientific het die eerste vyf van dié baie duur prosedures geborg.
“'n Koste-ontleding van verlede week se prosedures sal ons ʼn goeie idee gee van hoe dit werklik in staatshospitale kan werk.
“Die prosedure maak baie finansiële sin en sny koste soos die gereelde vervanging van kateters, besoeke aan spesialiste of daghospitale en die gebruik van antibiotika, maar dit moet ook in Tygerberg se begroting pas. Die prys sal bepaal of ons dit kan koop.
“Boston Scientific sal na sy kosteberekeningsmodel moet kyk om dit aanvaarbaar vir staatshospitale te maak en ons sal dalk op volume moet konsentreer," benadruk Van der Merwe.
Prof Jimmy Volmink, Dekaan van die FGGW, het hierdie vordering in die behandeling van GPH verwelkom. “Dit is wonderlik dat ons minimaal indringende termiese terapie vir simptoomverligting en ʼn beter lewensgehalte by die Tygerberg-hospitaal kan bied. Die feit dat hierdie prosedures onder plaaslike verdowing in ʼn kantooromgewing uitgevoer kan word, sal ʼn reuse impak op ons diensleweringsbehoeftes hê. Ons hoop hierdie nuwe prosedure sal die lyding van talle pasiënte met GPH verlig."
Dr Matodzi Mukosi, uitvoerende hoof van die Tygerberg-hospitaal, het gesê “die uitvoering van hierdie revolusionêre prostaatprosedure deur ons span getuig van die topklas-kundigheid waaroor ons hier by Tygerberg beskik. Dit is deel van ons strewe om gesondheidsorg van gehalte te lewer en pasiёntervaring te verbeter."
Onderskrif: Dr Pieter Spies met die Rezūm-waterdampterapietoestel.