Skip to main content
Nuwe kantoor bevorder doktorale studies

Nuwe kantoor bevorder doktorale studies

FMHS Marketing & Communications
25 Mei 2016

'n Toegewyde Doktorale Kantoor is by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch (US) gevestig om die toenemende aantal doktorale studente aan die fakulteit te ondersteun. Dr Jyothi Chabilall is aangestel as die nuwe Hoof van die Doktorale Kantoor.

"Ons het 'n geweldige toename  - 200% oor die afgelope 10 jaar - in doktorale registrasies en graduandi by die Fakulteit beleef," sê prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing by die FGGW.

In die lig van van die fakulteit se fokus op die verbetering van en uitbreiding van  doktorale studies, het die Dekaan se Bestuurspan besluit om 'n toegewyde Doktorale Kantoor te vestig. Die kantoor sal die strategiese, administratiewe en logistieke komponente van die volledige doktorale proses hanteer (vanaf werwing to graadverwerwing). Hierdie kantoor sal ook getaak word om vir alle navorsingsmagistergraad-studente in die fakulteit te sorg, synde die belangrikste kanaal na doktorale studies.

"Uiteindelik sien ek die Doktorale Kantoor as 'n sentrum wat die fakulteit se akademiese, navorsing- en publikasie-ontwikkeling sal bevorder deur middel van nagraadse werwing, aansoeke, registrasie en eksaminering," sê Chabilall.

Chabilall is 'n bekende in die fakulteit deur haar betrokkenheid by onder meer die organisering van die Pre-Doktorale Kursus aangebied deur die Departement Interdissiplinêre Gesondheidswetenskappe. Sy is 'n ervare mentor vir magister- en PhD-studente, bring 'n rykdom van kennis in terme van fasilitering en bestuur van nagraadse- en navorsingsaangeleenthede in die fakulteit en het 'n bewese rekord van die koördinering van administratiewe ondersteuning vir nagraadse studente.

Oor die volgende paar maande sal Chabilall 'n strategiese plan vir doktorale studies in die fakulteit ontwikkel, wat onder andere insluit die vaartbelyning van registrasieprosesse en die die verhoging van die aantal studente wat geregistreer is en PhDs verwerf. Sy sal ook toesien dat hierdie studente goed versorg word en internasionaal gesog is vir die kwaliteit van hulle PhDs na verwering van hul grade.

"Ons hoop dat hierdie inisiatief sal verseker dat ons voortgaan om doktorale studente, navorsing en innovasie van hoogstaande gehalte te produseer en dit verder te verbreed," sê Gey van Pittius.