Skip to main content
Internasionale Week in kuberruim gevier

Internasionale Week in kuberruim gevier

SU International
07 Desember 2020

​Soos die meeste ander groot kampusbyeenkomste by die Universiteit, moes ook US Internasionaal se jaarlikse Internasionale Week vanjaar weens die COVID-19-inperkings na die kuberruim verskuif. Die geleentheid het van 12 tot 16 Oktober 2020 via Microsoft Teams plaasgevind. 

Die program stel studente aan die voordele van buitelandse studiegeleenthede bloot. 'n Bykomende element vanjaar was om te toon dat internasionale leer inderdaad kan voortgaan ondanks die nuwe normaal ná COVID-19.

US Internasionaal staan studente met internasionale studiegeleenthede by en help rus hulle sodoende toe as wêreldburgers met interkulturele vaardighede wat hulle lewenslank goed te pas sal kom. Dít maak deel uit van die US se verbintenis om 'n transformerende studente-ervaring te bied en – soos wat die Universiteit se Internasionaliseringstrategie sê – “'n internasionale, interkulturele en globale element te integreer om die gehalte en impak van leer, onderrig, navorsing en innovasie tot sinvolle diens van die samelewing te bevorder".

Internasionale Week 2020 het uit vyf interaktiewe dae, elk met sy eie tema, aktiwiteite en aanbieders, bestaan. Op die eerste dag, “Mobility Monday", is die doel en oogmerke van die week se aktiwiteite bekend gestel, en het US Internasionaal se Centre for Collaboration in Africa 'n sessie oor mobiliteit in Afrika aangebied. Met “Talk about summer schools Tuesday" en “Where to exchange Wednesday" het die klem van streeksmobiliteit na skakeling met die res van die wêreld verskuif. Die verskillende kortprogramme vir (nie-)kredietdraende of navorsingsdoeleindes wat deur US Internasionaal geadministreer word, is bespreek. Albei dae het ook geëindig met sessies waar US-studente wat voorheen in die buiteland gestudeer het oor hulle ervarings kon gesels. Op die laaste twee dae, “Fun internationalisation-at-home Thursday" en “Partner Friday", kon deelnemers aan onderskeidelik plaaslike en internasionale internasionaliseringservarings deelneem.

In 'n spesiale hoogtepunt is deelnemers getrakteer op 'n Chinese kookklas deur prof Benjamin Zeng en sy vrou, prof Ling Lin, van die Confucius-instituut aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Die aanbieders het kykers met hulle vernuf en kundigheid beïndruk terwyl hulle 'n heerlike hoendergereg met groen en rooi soetrissies voorberei het.

Studente van alle US-fakulteite het deelgeneem, en baie het vir meer as een sessie ingeskryf. Boonop het 34 van die US se internasionale vennote ingewillig om as aanbieders op te tree, wat 'n uiters suksesvolle en gebalanseerde program verseker het.

Vir die Internasionale Week-webtuiste, gaan na www.sun.ac.za/globalweek. Alle sessies is opgeneem, en kan bekom word op die Internasionale Week-stroom by https://web.microsoftstream.com/channel/e2e603ae-a3b4-4569-9354-36ecc4d1fa00