
Doen nou aansoek vir spesiale befondsing vir COVID-19-navorsing
Universiteit Stellenbosch (US) wag nou aansoeke in vir die toekenning van eenmalige beperkte spesiale befondsing van Subkomitee A vir COVID-19-navorsingsprojekte.
Voltydse permanente personeel van die Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid, Teologie, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Krygskunde kan vir die befondsing aansoek doen. Goedgemotiveerde aansoeke van personeel in die professionele ondersteuningsdienste sal ook oorweeg word.
Aangesien beperkte befondsing vir hierdie rondte beskikbaar is, kan slegs klein projekte ondersteun word. Saaikapitaal vir groter projekte wat 'n redelike kans het om verderde befondsing van ander bronne te bekom, mag ook oorweeg word.
Altesame R300 000 is opsygesit vir hierdie rondte en 'n maksimum van R30 000 per projek sal toegeken word.
Aansoekers moet seker maak dat hul navorsingsprojek direk met die COVID-19-pandemie verband hou, van uitstaande gehalte is en die uitwerking moet verder as die akademie strek.
Navorsers moet 'n uittreksel van die navorsingsprojek, asook inligting oor die navorsing en die navorsingsbegroting verskaf, en moet 'n CV wat hul bewese prestasierekord oor die afgelope vyf jaar uitlig, by die aansoek aanheg.
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 22 Mei 2020. Die verwerking van aansoeke en die hoeveelheid tyd wat vir oorweging deur die komitee benodig word, maak dit ongelukkig onmoontlik om laataansoeke te aanvaar. Die uitslae sal op 3 Junie 2020 bekendgemaak word.
Suksesvolle aansoekers sal onmiddellik ná goedkeuring deur die komitee toegang tot die befondsing kry en projekte moet teen Desember 2021 voltooi wees.
Aansoek vorms is beskikbaar by, en moet per e-pos ingedien word by mev Shannon Faro by [email protected].